Testosteroonvlakke

  • 1

Jan, jy is blykbaar van mening, soos ek jou verstaan, dat daar ’n geleidelike styging in testosteroonvlakke by vroue is van 0,5 nm/l tot 5,1 nm/l en hoër. Om jou aan te haal: “… is die styging van 0,5nm/l na 5,1nm/l nie geleidelik nie? “ en “Ek het die probleem uitgewys dat dit bykans onmoontlik is om ’n geleidelike oorgang van sê A na B te besluit; wanneer is dit nie meer A nie, maar nou B.”

Die ding is, daar is nie so ’n geleidelike oorgang nie maar ’n breuk, soos ek in my vorige brief duidelik uitgewys het. Die boonste vlak van testosteroonkonsentrasie by pre-menopousale vroue is 1,8 nm/l. Daar is enkele vroue met polisistiese ovaria-sindroom met waardes hoër as dit en dis om hulle tegemoet te kom dat die waarde van 5 nm/l gekies is, want hulle het ’n gering-verhoogde testosteroonvlak, egter steeds laer as 5 nm/l. Die onderste waarde van mans se testosteroonvlak is in die omgewing van 7,7 nm/l en is meestal baie hoër, daar is geen sprake van ’n “geleidelike oorgang” tussen manlike en vroulike vlakke nie.

Geen vrou met ’n normale chromosoom-komplement gaan testosteroonvlakke hê wat binne manlike waardes val nie. Mense met wat bekend staan as DSD (ek weet nie wat die Afrikaans is nie) mag, afhangende van die aard van die situasie, buitensporige waardes toon wat volgens die IAAF aan hulle ’n onregverdige voordeel mag gee.

Jy skryf voorts: “… wanneer is iemand per definisie vrou? Ek weet nie, maar ek kan jou verseker dit is beslis nie afhangend van 0,01 nm/l toleransie weerskante van ’n arbitrêre testosteroonvlaksyfer nie.”

Die IAAF het nie probeer om vrouwees te definieer nie, trouens, niemand in die hele wye wêreld gebruik testosteroon- of estrogeenvlakke om vrou- of manwees te definieer nie. Die besluit is geneem as gevolg van menings en data wat toon dat verhoogde testosteroonvlakke aan sommige deelnemers ’n onregverdige voordeel mag gee, en om geen ander rede nie. Derhalwe moes op ’n boonste toelaatbare vlak besluit word, ’n besluit wat alles behalwe arbitrêr was.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top