Terugflits (April 2010): Die Coen-broers

  • 0

 

Op 14 Mei word een van my gunstelingfilms onder die tien nominasies vir beste film by vanjaar se Oscars in Suid-Afrika uitgereik: A Serious Man. Die film is deur die bekendste regisseursbroers in die bedryf geregisseer: Joel en Ethan Coen.

Die Coens se films word gewoonlik as “aweregs” of “eienaardig” bestempel. Dit is waar, maar hulle werk borrel eenvoudig oor van kreatiwiteit en daar is min ander regisseurs wat donker materiaal en ligte dialoog met soveel sukses kan saamsmelt.

Die Coen-broers skryf en regisseer hulle films al sedert die vroeë tagtigerjare saam en daar word in die bedryf grappenderwys na hulle verwys as die tweekoppige regisseur: As iemand ’n vraag oor die produksie aan die een broer stel, kry hulle presies dieselfde antwoord by die ander broer.

As gevolg van sekere beperkings op die krediet wat aan regisseurs gegee word, was Joel Coen tot onlangs die amptelike “regisseur” en Ethan Coen die amptelike “produksieleier”, hoewel hulle eintlik alles saam lei. Sedert 2004 ontvang hulle gemeenskaplike benoemings as mederegisseurs. Hulle het ook al talle van hulle films onder die skuilnaam Roderick Jaynes geredigeer.

In 2008 is hulle film No Country for Old Men met die Oscar-toekenning vir beste film bekroon. Hierdie film het in Februarie se uitgawe van “Terugflits” verskyn.

Hieronder volg vyf films uit die laaste twintig jaar wat ’n blitsoorsig oor hulle werk gee. Die lys is chronologies gerangskik.

  1. Miller’s Crossing (1990): Miller’s Crossing se eerste toneel leen baie by Francis Ford Coppola se Godfather en hou die ryk, donker atmosfeer vol tot aan die einde. Die film, wat in die 1930’s afspeel, weerspieël eerder ander films as wat dit die werklikheid probeer naboots, maar dit is ’n baie netjiese stuk werk wat gelykstaan met die beste soortgelyke rolprente. Visueel is dit die Coen-broers se meesterstuk.

  2. Fargo (1996): Een van hulle bekendste prente en sekerlik die film waarmee hulle bekendheid verwerf het. Dis ’n taamlik bloedige affêre, waarin die patetiese Jerry Lundegaard (puik vertolk deur William H. Macy) twee onbeholpe kriminele betaal om sy vrou te ontvoer. Daar word skaamteloos die draak gesteek met die dialek en maniërismes van die inwoners van die Amerikaanse middeweste, maar dit balanseer die donker tema verbasend goed.

  3. The Big Lebowski (1998): Die Withnail & I van dwelmfilms – een van daardie kultusfilms wat elke student op ’n stadium sien. Jeff Bridges se karakter, Jeff Lebowski, beter bekend as “The Dude”, is heelpad gerook en wanneer die plaaslike mafia hom met ’n ander Lebowski verwar, raak dinge gou interessant.

  4. O Brother, Where Art Thou? (2000): Ulysses Everett McGill ontsnap in die vroeë 1930’s saam met twee van sy makkers, almal in kettings, uit die tronk iewers in die suide van die VSA. Hy wil terugkom by die huis voordat sy gewese vrou weer trou, en die avontuur huis toe word sterk gekleur deur Homeros se epiese Odussee.

  5. Intolerable Cruelty (2003): Dit is duidelik een van die produksies waartydens die Coen-broers en hulle span die meeste pret gehad het. Die film bevat vlymskerp dialoog en die tonele waarin George Clooney en Catherine Zeta-Jones mekaar met ewe veel koel selfvertroue met woorde takel, sal eindelose plesier aan die kyker verskaf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top