
Foto: Canva.com
Terug na nimmerland
die gloeiende kole sterf weg in die kil
die vuurtjie verdoof, die nag word stil
en daar alleen in die wye eensaamheid
kruip die skadu’s van jou gedagtes uit
menige skimbeeld van hoe ’n ander self
sorgeloos in die skatkis van die lewe delf
soos nuut ontdekte kiekies lank vergete
word herinneringe, dof en effens verslete
gretig nadergesleep om weer te herkou
aan die beelde uit ’n plakboek van onthou
rondom verstil die geluide van die nag
asof die natuur ook asem ophou en wag
as jy weer jou pad na nimmerland vind
in die vlietende herinneringe van ’n kind
se kaalvoet somervakansies by die huis
waar ’n vrugbare verbeelding ver kon reis

