Terreur en bevryding: Die ANC/SAKP, die kommunisme en geweld (1961–1990) deur Leopold Scholtz: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 5

Erkenning: https://jonathanball.co.za/images/stories/virtuemart/product/Terreur%20en%20Bevryding.jpg

Terreur en bevryding: Die ANC/SAKP, die kommunisme en geweld (1961–1990)
Leopold Scholtz

Jonathan Ball
ISBN: 9781776191673

Daar is sekerlik baie min mense wat die gerekende historikus en joernalis Leopold Scholtz al ooit verdink het van steun aan die kommunisme, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) of die huidige hinkepinkende regerende party, die ANC.

As daar wel sulke mense is, sal hul wanpersepsies deur hierdie kragtige boek vierkant in die tande geskop word, want inderdaad word die leser oorspoel met een golf rooigety na die ander oor hoe lede van  die SAKP op grootliks sinistere wyse die hoogste vlakke van die ANC-leierskap geïnfiltreer en oorgeneem het.

Erkenning: https://www.abebooks.com/first-edition/Rivonia-Masker-af-Lauritz-Strydom-Voortrekkerpers/22797043183/bd

Hierdie boek is natuurlik nie die eerste oor die onderwerp nie. ’n Hele tuisnywerheid geskrifte oor kommunistiese invloede op die ANC en ander anti-apartheidsbewegings bestaan. Soos met enige bydraes oor ’n spesifieke onderwerp sou mens hulle op ’n skaal kon plaas van die afgryslik swak Rivonia – masker af! deur Lauritz Strydom aan die een uiterste, en aan die ander uiterste wat gehalte betref, twee werke deur ernstige historici: Irina Filatova se The hidden thread: Russia and South Africa in the Soviet era en Stephen Ellis en Tsepo Sechaba se Comrades against apartheid: the ANC and the South African Communist Party in exile. Daar is ’n wye verskeidenheid ander outeurs wie se pennevrugte êrens tussen die uiterstes op hierdie gehalteskaal val.

Leopold Scholtz geniet verskeie voordele bo hierdie skrywers. As hoogs bekwame joernalis skryf hy skerp en toeganklik. Mens verstaan wat hy bedoel, en hy stel sy punt op duidelike wyse. Die boek lees dus lekker, want dit vloei beter as soveel van die ander boeke oor die onderwerp.

Erkenning: https://cdn.shopify.com/s/files/1/0265/3182/3662/products/HiddenThread_800x.jpg?v=1589309282

Voorts is Scholtz ’n bewese, gerespekteerde en bedrewe historikus wat reeds gesaghebbende werke oor ’n verskeidenheid onderwerpe in sy skrywersknapsak het. Dit gaan meestal in ’n mindere of meerdere mate oor konflikgeskiedenis met ’n element van die militêre daarin, sodat diegene met ’n belangstelling in die Anglo-Boereoorlog (Tweede Vryheidsoorlog / Suid-Afrikaanse Oorlog) en die Angolese Grensoorlog byvoorbeeld goed bekend behoort te wees met Scholtz se bydrae tot die geskiedskrywing.

..........
Wat ek beskou as Scholtz se twee sterkste punte as historikus is in hierdie boek duidelik en rigtend, terwyl dit wat ek as sy swakste punt beskou, ook nie agterweë bly nie. Sy sterkste punte is sy reeds besproke vloeiende skryfstyl, en die deeglikheid van sy navorsing wat geskrewe bronne van allerlei en uiteenlopende aard betref. Sy groot tekortkoming in hierdie boek is die algehele afwesigheid van persoonlike onderhoude met betrokkenes, waarvan sommige werklik baie toeganklik en dus beskikbaar is, veral in hierdie dae van aanlyn onderhoude.
............

Wat ek beskou as Scholtz se twee sterkste punte as historikus is in hierdie boek duidelik en rigtend, terwyl dit wat ek as sy swakste punt beskou, ook nie agterweë bly nie. Sy sterkste punte is sy reeds besproke vloeiende skryfstyl, en die deeglikheid van sy navorsing wat geskrewe bronne van allerlei en uiteenlopende aard betref. Sy groot tekortkoming in hierdie boek is die algehele afwesigheid van persoonlike onderhoude met betrokkenes, waarvan sommige werklik baie toeganklik en dus beskikbaar is, veral in hierdie dae van aanlyn onderhoude.

Erkenning: https://images-na.ssl-images-amazon.com/images/I/41S1Jvn9z-L._SX322_BO1,204,203,200_.jpg

Wat kennis en gebruik van omvattende primêre geskrewe bronne aanbetref, kan min mense by Scholtz kers vashou. Hy is ’n meester van die formele brongedrewe geskiedskrywing in die tradisie van Leopold von Ranke, na wie sy trotse vader, die ontslape koerantman en historikus GD Scholtz, hom by geboorte in 1948 vernoem het. Leopold Scholtz het ’n leeftyd van lees agter die blad. En lees vir navorsingsdoeleindes, argivaal of andersins, is ’n moeisame, tydrowende plesier – dit weet ons almal wat ons daarmee besig hou. Dit volg dan dat die ervare historikus gewoonlik al meer gelees het as die onervare een – nie noodwendig nie, maar logieserwys, want die meer ervare een het tog al meer tyd gehad.

Dit blyk uit hierdie boek. Wat primêre bronne betref, word gesaghebbend aangehaal uit gepubliseerde dokumente, periodieke publikasies, aanlyn dokumente en boeke, veral biografieë. Aan die kant van sekondêre bronne is boeke en artikels gebruik. Dit moes ’n liefdestaak van enorme omvang vereis het.

Wat Scholtz klinkklaar uit hierdie bronne bewys, is dat daar ’n besluit van die SAKP en sy voorganger, die KPSA (Kommunistiese Party van Suid-Afrika), was om die ANC te infiltreer. Die ANC, wat in sy eerste 15 bestaansjare náִ 1912 bepaald nie kommunisties was nie, se eerste (tydelike) ommeswaai na die kommunisme het in 1927 plaasgevind, toe die destydse ANC-leier, Josiah Gumede, en ander Moskou besoek het. Daar is hulle so ordentlik behandel vergeleke met wat hulle van wit mense in Suid-Afrika gewoond was dat Gumede na die destydse Sowjetunie as die “nuwe Jerusalem” verwys het. Vele swart Suid-Afrikaners wat oor die jare in hulle eie land neerbuigend hanteer is, het dieselfde respekvolle hanteringservaring van Suid-Afrikaanse en buitelandse kommuniste gehad en het, sekerlik begryplikerwys, ewe positief daarop gereageer.

Nadat die apartheidsregering van DF Malan die KPSA in 1950 verban het (en die KPSA se naam na die SAKP verander is), is die reeds hegte band tussen die ANC en die kommuniste, binnelands en internasionaal, verder versterk. Scholtz voer aan, en bewys uit die bronne onteenseglik, dat die SAKP en die internasionale kommunistiese magte se doel daarmee was om die ANC te beïnvloed om die internasionale kommunisme ter wille te wees. Dit word as ’n sinistere infiltrasie geteken omdat baie ANC-lede onbewus was van hierdie infiltrasie. Daar is sekerlik baie mense (en hierby sou ek my skaar) wat die feit dat deelname deur kommuniste aan organisasies daartoe sou lei dat hulle organisasies in ’n meer kommunistiese rigting sou laat neig ter uitbreiding van die internasionale kommunisme, allermins as verrassend sou ervaar – veral omdat dit die openlik verklaarde beleid van die kommunistiese magshebbers, en die openlike opdrag aan kommuniste, was om die kommunisme te alle tye te bevorder. Dis in elk geval ook ’n natuurlike handeling – as iemand wat poog om die liberalisme van Alan Paton uit te leef, sou ek hoop dat enige instelling waarby ek betrokke is, weet dat hulle daardie lewensbeskouing kry. Dis nie sinister nie, dis noodwendig. Dieselfde geld politici van ’n politieke party wat tot universiteite of media-instellings se bestuur verkies word. Die gevolge is noodwendig, en dis nooit ’n goeie idee nie, of die persone se bedoelings nou sinister was en is, of nie.

Dat lede en ondersteuners van politieke partye nie aldag weet wat hul leiers presies doen en ondersteun nie, is algemeen in alle partye, en gegewe die gedrag van baie politici oor partygrense heen, is dit dalk maar beter so!

Scholtz skenk wel aandag aan wat die ANC gesê het van hierdie opname van kommuniste aan eie boesem. Hulle het deurgaans daarop gewys dat hulle daarvan bewus is, maar dat dit hulle nie pla nie, want die kommuniste rig nie die ANC nie. Voorts het hulle aangetoon dat hulle alle hulp in hul bevrydingstryd sou aanvaar. Miskien het mens tans hiervoor ’n mate van simpatie, gegewe die penarie van Oekraïense leiers wat dalk ook nie van al hul donateurs en ondersteuners hou nie, maar alle donasies en steun teen ’n moorddadige opponent aanvaar.

Hulp aan die ANC het nou nie juis ingestroom van die kant van die kapitalistiese wêreld nie, terwyl die Sowjetunie (waartoe sowel Rusland as Oekraïne destyds behoort het) ruimskoots bygedra het tot die koffers van die ANC. Dit sal niemand wat die ANC ken, verras hoeveel van daardie geld gesteel, vermors en wanbestee is nie, en hoe ANC-lede mekaar gemartel en intern uitgemoor het in eiebelang nie. ’n Jakkals verander van hare, maar nie van snare nie, en ons ken hulle vandag nog so. ’n Groot deel van die boek word hieraan afgestaan – dis ’n litanie van reeds herhaaldelik geboekstaafde ANC-vergrype. Mens voel die boek verloor hier fokus, en dat die hoofargument daardeur op ’n syspoor beland. Dit sal egter enigeen met ’n behoefte daaraan om nogmaals te lees presies hoe sleg die ANC nou eintlik was, sekerlik groot vreugde verskaf om dit te doen. Die behandeling daarvan is voorwaar deeglik.

............
Voordat ons by die boek se groot tekortkoming kom (dit wat die boek nie doen nie), is daar twee dinge wat die boek wel doen wat jammer is. Die eerste is die klaarblyklike veronderstelling dat dit noodwendig die SAKP is wat die ANC geïnfiltreer het. Kan dit wees dat dit andersom was?
.............

Voordat ons by die boek se groot tekortkoming kom (dit wat die boek nie doen nie), is daar twee dinge wat die boek wel doen wat jammer is. Die eerste is die klaarblyklike veronderstelling dat dit noodwendig die SAKP is wat die ANC geïnfiltreer het. Kan dit wees dat dit andersom was? Dat die ANC die SAKP misbruik het as poort tot fondse? Enigeen wat al ooit ’n kongres van die ANC of SAKP bygewoon het, sal weet dat dieselfde ortodokse kommunistiese retoriek waarvan ANC-verwysings in hierdie boek deurspek is, steeds die stapel van uitsprake by sulke kongresse vorm. En voorts: dat dit niks beteken nie. Dit is die proletariaat wat ly weens die stelery, korrupsie en geweld van die ANC-leierskap. Dit was nog altyd. Die oneerlikes in die ANC het hul luste nog altyd laat botvier, en die ordentlike mense in die ANC het min tot niks gedoen nie om dit te keer. Die deler is steeds so sleg as die steler, ook in vandag se ANC (en ander leidende politieke partye!).

Die ANC se selfverryking en korrupsie is baie meer ortodoks kapitalisties as kommunisties. Is daar dus ’n vraag te vra of dit dalk die ANC is wat die SAKP misbruik het? Ek sou so reken, ja, veral omdat die ANC sedert bewindsaanvaarding in 1994 sekerlik die slegste vergrype van kapitalistiese eerder as die kommunistiese prototipe hul eie gemaak het. Ek weet eerlik nie wat die antwoord op so ’n vraag oor wie vir wie misbruik het sou wees nie, maar dis jammer die vraag word nie in die boek behandel nie.

............
Die ANC se selfverryking en korrupsie is baie meer ortodoks kapitalisties as kommunisties. Is daar dus ’n vraag te vra of dit dalk die ANC is wat die SAKP misbruik het? Ek sou so reken, ja, veral omdat die ANC sedert bewindsaanvaarding in 1994 sekerlik die slegste vergrype van kapitalistiese eerder as die kommunistiese prototipe hul eie gemaak het. Ek weet eerlik nie wat die antwoord op so ’n vraag oor wie vir wie misbruik het sou wees nie, maar dis jammer die vraag word nie in die boek behandel nie.
...............

Oor die tweede tekortkoming wat wel in die boek teenwoordig is, het ek ’n storietjie te vertel. Nie te lank gelede nie het ’n burgerlike organisasie ’n rolprent gemaak oor geweldsvergrype tydens die ANC se bevrydingstryd. By die Kaapse première van die produksie, wat omvattend, deeglik en tegnies goed was, het die vervaardigers onder meer ’n leidende liberale politikus wat geen ooghare hoegenaamd het of gehad het vir die ANC nie, genooi om ’n woordjie te spreek. Hy het tot sy ewige krediet afgewyk van sy voorbereide notas deur pertinent daarop te wys dat mens darem moet onthou – hééltyd moet onthou, nie net as nagedagte nie! – dat daardie stryd gegaan het teen die apartheidstelsel, soos gedien deur byvoorbeeld die veiligheidspolisie, wat self nie met die aanwending van byvoorbeeld marteling en moord onbekend was nie.

Terreur en bevryding het dieselfde magtige tekortkoming. Daar word maar hier en daar verwys na die onomstootlike feit dat die ANC die beleidsbesluit om tot gewapende stryd en terreur oor te gaan, geneem het eers nadat die apartheidsregering van HF Verwoerd dit deur die verbanning van die ANC (en andere) vanaf April 1960 onmoontlik gemaak het om wettig en vreedsaam met hul protes voort te gaan. Enigeen wat twyfel aan die mate waartoe Verwoerd, sy meelopers en opvolgers enige vreedsame, demokratiese swart weerstand of uiting van die voorkeur vir en bereiking van nierassige meerderheidstemreg sou onderdruk, moet asseblief die geskiedenis van die Transkeise verkiesing van 20 November 1963 baie, baie versigtig gaan lees voordat hulle hul monde onoordeelkundig uitspoel.

..............
Terreur en bevryding het dieselfde magtige tekortkoming. Daar word maar hier en daar verwys na die onomstootlike feit dat die ANC die beleidsbesluit om tot gewapende stryd en terreur oor te gaan, geneem het eers nadat die apartheidsregering van HF Verwoerd dit deur die verbanning van die ANC (en andere) vanaf April 1960 onmoontlik gemaak het om wettig en vreedsaam met hul protes voort te gaan.
...............

In hierdie boek is daar geen vergoeiliking van apartheid nie, maar tog ’n oorhelling na ’n simpatie met die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte wat “nie oor hulle sou laat loop nie” of “dit nie daar sou laat nie” wanneer oorgrensaksies van die weermag byvoorbeeld ter sprake kom. Daar is hier en daar die toegewing dat die strewe na demokrasie as sulks reg, en die moorddadige verdrukking daarvan verkeerd was, maar nie genoegsaam nie. Verstaan my goed, ek is ’n pasifis, dus praat ek niemand goed nie. Maar die mate waartoe Scholtz die een kant roskam vergeleke met die ander, doen hom as wellewende en welmenende historikus en mens nie genoegsaam eer aan nie.

Die laaste belangrike tekortkoming is die algehele gebrek aan persoonlike onderhoude. Soveel van diegene wat by die verhouding tussen die SAKP en ANC tussen 1961 en 1990 betrokke was, leef nog en is baie praterig. Mens moet net vra, en met hulpmiddels soos Zoom en Teams maak dit nie saak in watter Delft jy jou bevind nie – die Wes-Kaapse of die Nederlandse een – iedereen is toeganklik vir ’n bietjie gesigtyd. Dit is ’n groot tekortkoming om jou in sulke omstandighede tot skriftelike bronne te beperk, want daar is ’n strakheid aan die geskrewe woord, en die geskrewe woord praat nie terug nie. Die geskewe woord kan homself nie verduidelik nie. Die geskrewe woord kan nie op ’n vraag dalk die antwoord verskaf oor wat in daardie geskrewe dokument weggelaat is nie, of watter tekortkoming ook al probeer verduidelik nie. Onderhoude maak geskiedenis baie minder strak en baie meer menslik. Dit wys soms op die grysheid van sake – en bring grysheid dan nie dalk wysheid nie? Ja, jy sal beslis pogings tot misleiding kry in onderhoude, en mense sal selfs feitefoute maak omdat hulle verkeerd onthou, maar onderhoude is noodsaaklik om die hoekigheid van skriftelike bronne so ’n bietjie af te vyl en die sekerhede van die outeur se veronderstellings te toets.

...........
Op die keper beskou is hierdie boek ’n belangrike siening van die kommunistiese invloede op die ANC. Dit is ’n deeglik nagevorste stuk werk met tekortkominge. Enigeen wat in hierdie tipe geskiedenis belangstel, sal die aankoop van hierdie boek die moeite werd vind, en geen behoorlike toekomstige bespreking van die onderwerp sal Terreur en bevryding kan ignoreer nie.
............

Op die keper beskou is hierdie boek ’n belangrike siening van die kommunistiese invloede op die ANC. Dit is ’n deeglik nagevorste stuk werk met tekortkominge. Enigeen wat in hierdie tipe geskiedenis belangstel, sal die aankoop van hierdie boek die moeite werd vind, en geen behoorlike toekomstige bespreking van die onderwerp sal Terreur en bevryding kan ignoreer nie. Die prysenswaardige aspekte van die boek, en die duidelike tekortkominge soos uiteengesit, is albei ten diepste aanwesig in die eindproduk, wat ’n ernstige en belangrike bydrae tot die debat is, maar beslis nie die laaste woord nie.

Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer wat tans aan ’n meestergraad in die geskiedenis werk.   

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 5

Kommentaar

  • Jack Holloway

    Jan-Jan Joubert se resensie is diepgaande en ook insiggewend oor die hele kwessie van invalshoek in die geskiedskrywing, wat in die laaste jare al hoe meer pertinent geword het. Die verhouding tussen feite, verskillende interpretasies van feite, persepsies en opinies moet, glo ek, in moderne geskiedskrywing deeglik aangeraak word. En dit skyn nie juis hier te gebeur het nie. Jan-Jan se vraag oor wie nou eintlik vir wie geïnfiltreer het, en sy soeke na gesprekke, sou heel moontlik die nodige suurdeeg verskaf het om hierdie brood te laat rys.

  • Francois Verster

    Ek is nog besig om die boek te lees, so ek weerhou my van 'n finale oordeel. Wat ek graag wil noem, is dat:
    1. Die Kommunistiese overlords aan die SAKP opdrag gegee het om die ANC te infiltreer, en dis Scholtz se premis – dalk het daar kruisbestuiwing plaasgevind, dis eintlik onvermydelik, maar die kommunistiese doelstellings is oorheersend in die ANC se optrede - soos Lenin gemaak het asof hy met die burgery saamwerk, terwyl hy hulle eintlik ondergrawe, so ook is die moontlikheid daar dat die sogenaamde better life for all net 'n rookskerm terwyl alles gerysmier en gekelder word; die paddas is lankal gewoond aan die warm water, al stort die wêreld rondom hulle in duie. Scholtz se teks dien as waarskuwing hierteen.
    2. Dat die boek leemtes mag bevat is ook onvermydelik: geen boek of historiese studie is volledig of volmaak nie, die aantal perspektiewe wat bestaan, en die moontikheid om verskeie gedagtelyne verder daaruit te ontwikkel is dan ook daar.
    3. Aangesien Scholtz 'n ou-skool historikus is, is die verklaring vir 'n gebrek aan mondelinge bronne na alle waarskynlikheid dat hy geleer is dat mondelinge bronne (oral history) onbetroubaar is. Die verteller plaas hom/haarself in die vertelling en die perspektiewe begin wissel, sodat 10 getuies 10 verskilende weergawes mag aanbied. Dis immers 'n stokou beginsel van historise navorsing. Ek het 'n M in Geskiedenis verwerf en 'n D in Kultuurgeskiedenis en het dus ervaring van beide invalshoeke (kultuurhistorici maak baie meer van lewende bronne gebruik, maar erken dadelik dat elke hervertelling anders kan word). Terloops, ek het ook 'n M in Joernalistiek en verstaan dalk iets van die resensent se voorveronderstellings. Feit is, die resensent moet sy opinie lug, en hy het. Soos die skrywer deur sy opleiding beïnvloed word, so ook die resensent – en geen resensie is die laaste woord nie, nes geen boek ook is nie. Elkeen is egter 'n boublok op 'n volledige beeld en daarom waardevol.

  • Quinton Adams

    Uitstekende resensie, Jan-Jan. Ek beskou die boek “The Russian Thread” as 'n top gehalte en klassieke stuk oor die Russiese invloed.
    Jan-Jan skep regtig 'n raamwerk van hoe geskiedskrywing moet plaasvind.
    Welgedaan, Jan-Jan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top