Terblanche Jordaan oor emosionele gevangeneskap

  • 5

Die huis in Springs waar 'n man na bewering sy gesin vir jare toegesluit gehou het. (Bron: You Magazine)

 

'n Man van Springs word daarvan beskuldig dat hy sy gesin jare lank in ’n huis toegesluit gehou het. Maar hoe verskil hierdie geval van 'n ander soort tronk waarin baie mense opgesluit is?

Terblanche Jordaan skryf oor emosionele gevangenskap.

Terblanche Jordaan (Foto: Ilse van Niekerk)

Emosionele gevangenskap

Soms lê ons stom geskok oor die voorblaaie van koerante wat vertel van geweld. Wysvingerig blameer ons die milieu, die regering, maatskaplike omstandighede, ’n duiwel, of selfs God. Iémand moet die skuld kry vir hierdie sinnelose geweld!

Sosiale media word die puinhoop van hierdie galbrakery en elkeen het ’n mening wat gelaai is met agterdog, vrees en selfgeregtigheid. Min van ons is eerlik genoeg om die waarheid ván onsself, vír onsself, te sê, want emosionele gevangenskap is ’n loopgraaf wat ons almal ken.

Kom ons haal net eers die twee begrippe uitmekaar – dit is belangrik om te verstaan dat álle emosies ’n reaksie van die brein op ’n sekere gebeurtenis en/of ervaring is. Ons gee met ander woorde die ervaring betekenis en dit gebeur tussen ons ore. Daar teken ons die prentjie, daar kleur ons hom in, daar gee ons hom ’n naam, en in die meeste gevalle word ons dan die regisseur van ’n home movie waarin ons dan die hoofrol vertolk. Vir ons as emosionele wesens word elke oomblik van elke dag deur emosies gedryf en pendel dit tussen hartseer en vreugde; spanning en ekstase; verwydering en versoening ...

Dit is ewe belangrik om daarop te let dat alle emosies ’n reaksie is op iets wat gebeur hét – hetsy dit ’n minuut gelede is of ’n jaar of ’n dekade. Emosies werk met verlede tyd ... in werklikheid het dit niks te doen met nóú nie. Alle (en daarmee word bedoel álle) emosionele pyn het te doen met ’n skuldgevoel. Ons moenie skuldgevoel verwar met “skuldig” nie. Skuldgevoel het te maak met alles waaraan ons so swaar dra – emosies van mislukking, teleurstelling, verwerping, vernedering, verlies, ontnugtering, ens.

Gevangenskap het te doen met vrees. Alle vrees kan net met toekomende tyd werk, hetsy dit oor ’n minuut, ’n uur, of ’n jaar is. Ook vrees is iets wat tussen ons ore gebeur, deurdat ons energie (betekenis) gee aan iets wat ons “dínk” gaan gebeur, of ’n vrees dat gister, môre dieselfde gaan uitspeel. Net soos skuldgevoel het vrees niks te doen met nóú nie.

En dít is die moordenaars tussen wie ons onsself elke dag kruisig: skuldgevoel en vrees. Dikwels word mense gevra: “Wat is die teenoorgestelde van liefde?” en sonder om te aarsel antwoord hulle: “Haat!” Haat is vrees, woede is vrees, jaloesie is vrees, afguns is vrees. As jy dit stroop van al die omhangsels is die emosie agter dit alles niks meer of minder as vrees nie. Wat is die teenoorgestelde van liefde? Vrees!

Vrees is vir liefde wat duisternis vir lig is. Ons weet mos dat duisternis nie bestaan nie. Duisternis (donkerte) is net die afwesigheid van lig. As jy ’n donker kamer en ’n kamer vol lig het en jy maak die deur oop, gaan die donkerte mos nie in die lig in nie. Vrees is net die afwesigheid van liefde.

Bron: Interpretation of Dreams

 

Nou hoe bring ons die twee bymekaar in ons verstaan van emosionele gevangenskap?

Die bydrae van die spirituele psigoterapie van die afgelope twee dekades het baie deure en vensters vir ons oopgemaak om emosionele gevangenskap nie net te verstaan nie, maar ook om oplossings te bied wat sinvol en relevant is vir ons lewe.

Dit sou nie ’n oorskatting wees om te sê dat 99% van alle terapiesessies gaan oor hierdie twee moordenaars nie – skuldgevoel en vrees. Dit sou net so min ’n onderskatting wees om te sê dat 99% van alle gebroke verhoudings aan skuldgevoel en vrees toe te skryf is.

As ons praat van emosionele gevangenskap dan praat ons oor skuldgevoel en vrees. Emosionele gevangenskap is die mure, heinings, tralies wat ons om onsself gebou het in die (vals) hoop dat dit ons sal beskerm teen seerkry. Let wel: “om onssélf gebou het”! Niémand anders het die mag om dit vir/met/aan ons te doen nie. We give our power away en staan dan ons onseker, naak, vervreem van onsself en sê, hy/sy doen dit aan my! Hoe doen iemand dit aan my? Watse mag het iemand om jou as ’n emosionele gevangene aan te hou?

Ons sou kon sê: maar die geval van die man in Springs wat daarvan beskuldig word dat hy 'n weerlose vrou opgesluit gehou het, is tog ’n harde, wrede werklikheid van om iemand as emosionele gyselaar gevange te hou. Ja, hy kan dit fisies doen en dit laat ’n enorme wond in sy slagoffers se menswaardigheid. Maar steeds weet ons uit duisende ander verhale (Auschwitz en Rwanda, om net twee te noem) waar mense hulself emosioneel en spiritueel bevry, al is hulle gevangenes.

Dis waarna Mandela verwys het toe hy gesê het: “As I walked out the door toward the gate that would lead to my freedom, I knew if I didn't leave my bitterness and hatred behind, I'd still be in prison.”

Vir die slagoffers van Springs was hul fisiese gevangenskap beslis nie hul keuse nie, maar selfs tydens die wrede verbanning van hul menswaardigheid het hul gees getriomfeer deur nie toe te laat dat ’n man wat duidelik geestesversteur is, hul droom om vry te wees verpletter nie. Hulle stemme is nie gestil nie. Hul vermoë om lief te hê en te vergewe is nie bevange nie. Die siel van die mens triomfeer ...

Maar dít is ’n keuse!

Emosionele gevangenskap is ’n keuse. Ja, jy lees reg. Hoe dikwels word daar in my spreekkamer geluister na verhale van vroue (én mans) wat hulself beskou as emosionele gevangenes binne ’n huwelik of verhouding. Nog meer dikwels hulself sien as slagoffers van ’n maatskappy se moderne weergawe van slawerny. Natuurlik is dit nie so maklik om net vir iemand te sê “Jy het ’n keuse of jy wil bly of aanbeweeg” nie, want om uit ’n huwelik te stap wat jou nie met liefde, aanvaarding, respek, menswaardigheid en lojaliteit dien nie, is nie net sommer vir opstaan en trek of bedank en ander werk kry nie.

Maar – en dis ’n versigtige “maar” – ons het altyd ’n keuse hoe ons gaan reageer. Nee, dit is nie ons keuse dat iemand oor ’n rooi lig jaag en ons en ons motor afskryf nie, maar ek het ’n keuse hoe ek daarop gaan reageer.

Hoe moet ons dan reageer binne ons verhoudings (huwelik, werk, vriende, familie ens) as die skuldgevoel en vrees in ons boeg kom lê? Wat kan ons aan ons emosionele gevangenskap doen?

Die eerste stap sou wees om dit te herken vir wat dit is: dit is mý emosionele gevangenskap. Nie iemand anders s’n nie en ook nie in iemand anders se tronk nie.

Die tweede stap sou wees om dit te erken. Soos die dae en weke van die Oscar Pistorius-hofsaak hulle afgespeel het, het ek myself keer op keer gevra: “Hoeveel keer het ek al mense geskiet agter toe deure van my opinies, persepsies, veroordeling, vrees en onverdraagsaamheid?”, en dit is nie ’n vraag om nog meer skuldgevoel op te roep nie, maar om te erken dan iets fundamenteel in ons gedagtes moet verskuif.

Die derde stap sou wees om die oplossing te ken. Soos reeds genoem, is die grootste bydrae van die spirituele psigoterapie op dié gebied, die sleutel wat gegee word om ons vry te maak uit hierdie gevangenis, vergifnis.

Weer eens, wanneer mense hoor “vergifnis”, dan dink hulle dit beteken: “Iemand wen, ek het verloor; dis oukei wat jy gedoen het.” Maar dit is glád nie wat vergifnis beteken nie. Vergifnis sê: “Ek gaan nie langer in die sel opgesluit sit van ’n emosionele tronk wat ek om my gebou het nie.”Vergifnis gaan nie oor ’n ander persoon nie, maar het álles te doen met ’n verhouding wat ek met myself het. Deur vergifnis maak ek myself vry om my Self lief te hê.

Net vanmiddag sit ek met iemand in ’n terapiesessie wat in repe geskeur word deur emosionele verguising binne haar huwelik. Sy sê hy is ontrou. Sy sê hy praat met haar asof sy ’n hond is. Sy sê nie een van haar kinders wil meer huis toe kom nie. Sy sê sy is ’n gevangene en weet nie wat om te doen nie. Ek vra haar of sy wil skei. Sy sê: “Nee, want wat gaan van my word?” Ek vra wat sy by haar man kry wat sy nêrens anders kan kry nie en sy antwoord: “’n Dak oor my kop.” Is dit al? ’n Dak oor jou kop? Is dit hoe hoog die muur van vrees en die heining van skuldgevoel om ons gebou is? Ons is so modern gesofistikeerd en meer eensaam as ooit vantevore.

Die pad van vergifnis (bevryding uit die emosionele gevangenskap) begin deur onsself te vergewe dat ons opgehou droom het. Dat iemand net een keer te veel ons sandkasteel stukkend geskop het en toe het ons ophou droom. Dat ons iemand anders die mag gegee het om vir ons te sê dat om in die maan te dans is laf en kinderagtig. Dat ons werklik glo ons is nie goed genoeg, beter genoeg, beste genoeg nie ...

Ons hét ’n keuse! Miskien kan ons êrens vandag op ’n plek stil word en vir onsself die een en enigste belangrike vraag in dié lewe vra: Wie is ek?

Dan word jy stil en skryf hierdie mantra teen jou muur, memoriseer dit, roep dit op elke keer as jy die slot in die grendel hoor ...

I am goodness and mercy,
compassion and understanding.
I am peace and joy and light.
I am forgiveness and patience,
strength and courage,
a helper in time of need,
a comforter in time of sorrow,
a healer in time of injury,
a teacher in times of confusion.
I am the deepest wisdom and the highest truth;
the greatest peace and the grandest love.
I am all these things.

(Neale Donald Walsch: Conversations with God)

 

  • 5

Kommentaar

  • Terblanche, jy is heel korrek indien jy beweer dat vrees die teenoorgestelde van liefde is, die bybel bevestig duidelik dat ons "nie 'n gees van vreesagtigheid ontvang het nie, maar van liefde en selfbeheersing". Ek sien natuurlik verwerping ook as 'n groot probleem. Vir my bestaan die 3 karperde uit: Vrees, skuldgevoelens en verwerping. Want verwerping kan selfs ontstaan vanuit die moederskoot, nog voor geboorte.

    Jou skrywe is interessant en het ek dit baie geniet. Dankie.

    Trienie Mahne  

  • Ai Terblanche, hoe kry ek nou déjà vu.  Ek onthou so goed hoe bitter en seer ek was toe ek in die Kaap aangeland het.  Die pad wat jy saam met my gestap het na heling en bevryding.  Jou leiding en goeie raad.  Al die dinge wat jy hier noem, soos 'n refrein uit die verlede.  En ek dank die Vader dat ons paaie gekruis het.  Dankie dat jy my weer herinner het.

     
    Groete
    Tertia Neethling  
  • Estelle Neethling

    Dankie Terblanche. Jou essay is kragtig en vol insig. Dit het vir my baie beteken. Die oorlede skrywer, Anthony de Mello, was dit met jou eens oor die emosionele verwoesting wat vrees saai.

  • Chris Erasmus

    Baie dankie vir jou inset. Ek is eerlik, ek het vir 'n lang tyd in my lewe bagasie rondgedra, gesleep en selfs gekoester. Ek wou dit doen. Ek het soos jy dit tereg noem, die besluit gemaak om dit te doen. Ek is nie 'n sielkundige nie, maar baie probleme wat die mens vandag het, bring hy op homself. Jy het die Godgegewe gawe gekry om keuses te maak, wees onverskrokke en maak dit. Baie mense floreer op soos ek dit noem, gemoedsbekakkings. Vra my, ek is 'n meester daarvan, totdat ek die besluit gemaak het om verantwoordelikhied te neem vir my eie besluite en nie my omstandighede of omgewing verder te blameer nie. Vir enige verslaafde persoon, hetsy drank, dwelms of iets soortgelyk het ek nie baie simpatie nie. Hy/sy het die keuse gemaak om dit te begin gebruik. Ek het op 'n stadium in my lewe gerook. Ek het net een dag besluit ek hou op. Ek het opgehou sigarette koop en het so opgehou. Ek het tot die besef gekom niemand het my gedwing om te rook nie. Ek het self besluit. So nou en dan gebruik ek iets van die wingerd of die distileerketel. Die volgende oggend wanneer ek myself sit en verwyt, vra ek myself net af, wie het my gedwing om die een of twee glase te veel te vat. Niemand nie. Ek het daardie besluit gemaak. Ek is die Hemelse Vader baie dankbaar vir die leiding krag en ondersteuning wat ek ontvang het. My leuse is, die lewe is keuses, vra hulp en wees jouself. "You get born wet and cold, and it gets worse"

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top