Tema van verlies met seismografiese keurigheid vasgelê in Hambidge se Palindroom/Koesnaatjies

  • 0

Titel: Palindroom/Koesnaatjies vir die proe
Skrywer: Joan Hambidge
Uitgewer: Genugtig!
ISBN-nommer: 9780980260649
Publikasiedatum: Maart 2008
Aantal bladsye: 250

Klik op die omslag van die boek om jou eksemplaar by Kalahari.net te bestel.

Joan Hambidge se jongste boek kan van weerskante benader word. Die voorste en agterste buiteblad van die boek dra dieselfde ontwerp asook dieselfde onderskrif: "Met hierdie teks word die Januskop van Joan Hambidge gedemonstreer: enersyds parodies soos in die bundel Koesnaatjies vir die proe en andersyds ernstig in 'n roman soos Palindroom." Daar is egter op die voor- en agterkant van die boek verskillende titels: aan die een kant Palindroom en aan die ander kant Koesnaatjies vir die proe.

Soos die onderskrif verduidelik, bevat die boek dus twee tekste ('n aspek waarop ek later terugkom): 'n roman en 'n digbundel. As die een teks gelees is, word die boek omgedraai soos in 'n bollemakiesie en dan lê die ander teks voor jou. Die idee om 'n digbundel en 'n roman saam te laat verskyn, is vindingryk en taamlik ongewoon, sodat die boek met sy meervoudige aanbieding dadelik interessant voorkom.

Die woord palindroom verwys volgens die WAT na 'n "leksikale item, sin, gedig, vers, getal, e.d. wat na regs en na links dieselfde lees". Dit kom taamlik algemeen in name voor, soos in Anna, Ebbe en Reinier, maar kan ook in sinne en versreëls en selfs in hele gedigte voorkom, soos in die Rederykerstyd se kreefdigte. Dit gaan dus om iets wat omgedraai kan word en dan steeds dieselfde betekenis dra of dieselfde vorm vertoon. As titel verwys Palindroom in die eerste plek na die romanteks in die boek, maar onteenseglik ook na die vorm van die boek self. Die boek kan inderdaad van enige kant gelees word, eers poësie en dan verhaal of andersom.

In die ander titel kom die woord koesnaatjie voor. 'n Koesnaatjie is 'n vetplantjie wat in die droë westelike streke van Kaapland aangetref word, asook in die Suidwes-Kaap. Die plant het "dik, vlesige, ovaalvormige, aan die voet vergroeide blare" wat dig oor mekaar vou soos dakpanne, sodat die plant 'n kompakte voorkoms het, en is eetbaar. 'n Koesnaatjie ontwikkel slegs een maal 'n bloeiwyse met "dig saamgedronge" blommetjies in roomkleur tot geel, waarna die plant saadskiet, verdor en doodgaan. Volgens die WAT bestaan daar ook 'n uitdrukking soos 'n koesnaatjie sit, wat beteken dat iemand eenkant of afsydig is, of ook skaam, bedees en teruggetrokke.

Op die titelblad van die roman kom daar ook 'n subtitel voor, naamlik "'n post-postmoderne verhaal". Die verhaal gaan primêr oor verhoudinge, tussen 'n dosent in skryfkuns en haar huidige en vorige geliefdes, asook haar verhouding van mentorskap met 'n student in die skryfkuns, 'n verhouding waarin hulle as mentor en mentee teenoor mekaar staan. Die korrespondensie en verhouding tussen Mentor en Mentee vorm die sterkste deurlopende draad in die verhaal en die afloop van die verhouding met die Geliefde word tussendeur gevleg.

Dit is egter duidelik 'n postmodernistiese teks, ingedeel in 26 kort hoofstukke wat telkens ook weer in onderafdelings ingedeel is. Inhoudelik gaan die briewe en gesprekke tussen Mentor en Mentee hoofsaaklik oor kreatiwiteit en skryf, maar ook oor die onderliggende psigologiese prosesse waardeur persoonlikheidsgegewens, ervaring en besinning kreatiewe materiaal is en/of kan word. Die gesprekke kan gesien word as onderbroke en gefragmenteerde besprekings en besinnings oor skryf en oor die verhouding tussen lewe en skrywerskap en in die mate waarin die teks oor haarself handel, is dit 'n metateks. Maar meer nog, die teks illustreer self ook die onderwerpe en prosesse waaroor die gesprekke gaan en kom so in 'n ikoniese verhouding te staan teenoor die onderwerp waaroor dit handel.

Die skrywer se aanduiding dat die roman "'n post-postmoderne teks" is, sou dus kon beteken dat dit gaan om 'n ekstreme inwerkingstelling van postmodernistiese tegnieke of die herhaaldelike oormekaarskuif van postmodernistiese strategieë, sodat die teks in sowel inhoud as vorm verder gaan as wat gewoonweg as postmodernisties beskou sou word. Aan die ander kant kan die sterk emosionele inhoud van die teks (wat eksplisiet onderspeel word, maar nogtans nie misgekyk kan word nie) ook 'n aspek wees wat die gearriveerde nonchalantheid van die postmodernistiese denke tegelykertyd gebruik, ondermyn en probeer transendeer.

In die romanteks kan daar wel verhaallyne onderskei word, maar dit is slegs die stramien waarop 'n bobou van literêr-teoretiese, filmkritiese, literêre en filmiese verwysings, asook verwysings na die internet en ander bronne, oor kulturele en literêre verskynsels gestapel word. Mentor en Mentee stuur hulle tekste of fragmente daarvan aan mekaar en dit word deel van die roman. Die briewe word ook woordeliks weergegee soos wat hulle via e-pos, Blackberry of sms heen en weer reis. Die romanteks sluit af met 'n reeks van sewe slotte wat onder meer kommentaar uit die perspektief van verskillende vroulike figure insluit, asook allerlei notas en eindnotas. Die teks is dus inherent 'n palimpses, maar ook 'n collage van tekste waarin die grense tussen fiksie en werklikheid asook tussen fiksie en wetenskap telkens oorskry en oorskryf word.

Die oorkoepelende tema van die roman is verlies – verlies in verskillende vorme, verliese op verskillende vlakke en op verskillende tye. Want elke nuwe verlies eggo die voriges en roep weer vorige verliese op. Onder al die nuanses van emosie, van nadenke en besinning, wat met seismografiese noukeurigheid weergegee word, lê verlies, eensaamheid en 'n byna gelate aanvaarding dat die uitreik na ander, na geestelike en liggaamlike kontak meestal vervlietend en altyd verbygaande van aard is.

Dit bring my by die digbundel. En inderdaad sentreer die digbundel om hierdie selfde tematiek, sy dit dan in 'n ander genre en in 'n ander toonaard. Dit gaan steeds oor verlies, oor eensaamheid, oor die onmoontlikheid vir die vrou in die gedigte om in 'n ander mens 'n supplement te vind, daardie noodsaaklike geestelike en fisiese aanvulling te vind wat vervulling en voltooiing moontlik sou kon maak. Die verband tussen verhoudinge en die koesnaatjie dui dan ook daarop dat verhoudinge wel eetbaar/smaaklik is (die metafoor word ook telkens gebruik), maar as die verhouding geblom het, gaan dit dood. Dit blom net een maal en kort. Die gedagte van eenkantwees, alleen of afsydig en onbereikbaar of skaars, kan ook teruggevind word in die tematiek van die verse.

Al sien 'n mens parodieë in onder meer die verwysings na films en ander verhale wat as grondtekste opgeroep en dan in die verse geparodieer word, is die suggestie in die onderskrif op die buiteblaaie dat parodie en "ernstige roman" teenoor mekaar staan as die twee kante van 'n Januskop, 'n verskraling van wat gebeur.

Dat daar van 'n tweeledige talent sprake is, is waar: Hambidge is digter en romansier, skrywer en akademikus, kunstenaar en mentor vir ontluikende kunstenaars. Maar die tweeledigheid van die tematiek is eerder palindroomagtig in die representasies van 'n ander invalshoek in 'n ander genre op dieselfde tematiek.

Die verse het verder vir my slegs 'n oënskynlik ligter aanslag en is eerder 'n skrynende relativering van verlies. Dit wil trouens voorkom of die idee is dat relativering die enigste manier is om die verlies te kan verdra.

Hierdie tematiek is die sentrale tema in Hambidge se hele oeuvre wat sowel poësie as prosa insluit. Die poësiebundel en die romanteks in hierdie boek is dus inderdaad palindrome van mekaar: dieselfde tema spreek uit albei en van watter kant jy ook al lees, dit is waarom dit gaan. Nogtans het hierdie verse vir my 'n stukrag en vaart, 'n soort energie wat in sommige vorige verse van Hambidge nie altyd realiseer nie. Hambidge skryf 'n losser vers, nie 'n gedronge metafories gelaagde en kompakte vers nie, en dit het 'n toeganklikheid wat aantreklik is en die leser intrek. In die leesproses kom die meerdere dimensies van die verse dan na vore. Maar waar die verse in sommige vorige bundels by tye te los en selfs ietwat gelykmatig kon raak, is hier 'n emosionele intensiteit wat meevoerend is.

Palindroom/Koesnaatjies vir die proe is natuurlik fynproewersleesstof – nie alle lesers is geïnteresseerd in 'n gesprek oor skryf nie, nie alle lesers wil temas en kwessies in terme van verwysings, sowel populêr as akademies en wetenskaplik, bedink nie. Nie alle lesers wil so diep in die psige van karakters induik en die skryfmatige resultate van hulle selfondersoeke meemaak nie. Maar soos Umberto Eco geïmpliseer het, 'n boek soek self sy lesers uit en keur hulle. Toe sy uitgewers vir hom gesê het dat lesers nie maklik verder as die eerste 100 bladsye van The name of the Rose gaan lees nie, was sy antwoord: "Die lesers wat wel verder as 100 bladsye lees, is die lesers wat ek vir my boek wil hê." Vir die literêr-geskoolde en -geïnteresseerde leser, vir die lesers vir wie die verwysingsraamwerk bekend en belangrik is en wat kan raaksien hoe tema én eksperimentele skryf én die tekstualisering van die eksperiment oor mekaar skuif, sal Palindroom/Koesnaatjies vir die proe 'n boeiende en leerryke leeservaring wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top