“Te min kodeks – te veel huilende tjello's”

  • 0

Ek reageer selde op resensies, veral waar groot woorde ingespan word en die hoofdoel blykbaar is om die outeurs te verontmenslik (woord by Desmond Tutu geleen). Ek kan ook nie want ek het nie die papiere nie. Ek lees egter wyd en koop baie publikasies (meer as 100 digbundels wat etlike van Joan Hambidge insluit op die rak, gelees en herlees). Ek was nooit op universiteit nie, maar het ’n MA-graad in Sielkunde (Unisa, 1972) en ’n PhD in Inligtingstegnologie (UK 1981) behaal. As afgetrede sakeman met ’n doelgerigte lae mediaprofiel het ek ’n passie vir deernisprojekte en die bevordering van Afrikaans (nie-polities), ’n persoonlike belangstelling in skryfterapie (Lykdigte, Die buigsaamheid van verdriet, Kodeks en ’n privaat-1992 publikasie Woordpalet van Mardene Marais deel my boekrak). My betrokkenheid geskied deur Cordis Trust (waarvan die “minder bekende uitgewer Cordis Trust Publikasies” ’n inisiatief is), ’n organisasie met eie fondse, geen personeelkoste en met ’n indrukwekkende netwerk van begeesterde medewerkers met resultate wat vanself spreek.

Cordis Trust fasiliteer ongeveer 50 projekte en verdienstelike inisiatiewe per jaar met deurlopende ondersteuning van my as uitvoerende trustee. Sedert 1990 was daar by RAU die Mardene Marais Beursfonds en van 2001-2004 die RAU/MM-toekennings vir skeppende debuutwerk in Afrikaans (ontvangers was Nini Bennett, Nannette van Rooyen en Marius Crous). In Oktober 2010 het Cordis Trust twaalf Orde van die goue pen-toekennings gemaak vir buitengewone bydraes tot Afrikaans. (Die inligting oor die ontvangers is vryelik op internet beskikbaar.) Op daardie stadium het ek gewonder waarmee die ontvangers van die RAU/MM-toekennings besig is en ook om die publikasies waarvoor hulle dit ontvang het te probeer bekom. Ek het suksesvol met die persone geskakel en veral Nini se ongepubliseerde gedigte het noue aansluiting by my eie en die Cordis-filosofie gevind. Dit het gelei tot die publikasie van Kodeks, ’n eie onveranderde werk, die eindresultaat van dig as ’n spontane proses en met geen winsmotief nie. Anders as ’n dwarsklap-resensie uit Stellenbosch oor die voorkoms van die bundel kry dit die hoogste aanprysing by voorste internasionale boek-ontwerpers. Cordis Trust is trots op nog ’n projek wat binne die leuse “Uit die hart”’ die lewe van een mens op ’n keer betekenisvol kon verander en weet dat Nini Bennett ook suksesvol hierop sal bou.

Neem gerus kennis dat Cordis Trust nie daar is vir die boonste (kunsmatige) laag nie en met oorgawe voortgaan met die bevordering van die Afrikaanse taal deur sy inisiatiewe soos Aksie Afrikaans. Ek onderneem om nooit op skeppende werk in Afrikaans neer te sien nie of voor te gee dat ek beter as ander is of weet nie. Ek respekteer ook die reg van resensente.

Fanie Marais

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top