Van al my onhebbelikhede was 'n voorliefde vir vendusies seker, soos dobbel vir ander, die gewildste en opwindenste tydverdryf, en dan as die enigste oorlewende vorm van straatteater wat nog weekliks in ons stad gratis bygewoon kan word.
So pryk 'n negentiende-eeuse buffet met delikate houtsneewerk van vrugte vandag in my oudste dogter se voorportaal; 'n Duitse skoenkissie met kleurvolle borduurwerk in die jongste se slaapkamer; 'n sewentiende eeuse eierdop ("eggshell") koffie-en teestel in Marga se vertoonkas, terwyl 'n 'dainty' valletjies- dameshoedjie in sy deftige houer met die Union Castle Redery se etiket van 1912 nog daarop, en 'n Piccadilly-piekniekmandjie van 1891, nou erfgoed- gunstelinge in my dogters se huise is.
Vir my streng en netjiese huisvrou was die "rommel" wat ek meermale na 'n aandbesoek aan die vendusielokaal met my Volkswagen Variant huis toe aangery het en in die ingangs- of voorportaal afgelaai het, 'n ware steen des aanstoots.
Toe sy dus een Desember vir 'n nie-ernstige prosedure in die Provinsiale Hospitaal opgeneem is, het ek my kans waargeneem om my twee nog skoolgaande kinders, die jongste reeds in haar kamerjas, na die lokaal te neem om in die al hoe intenser wordende dramatiese spanning en kompetisie van bod en teenbod ingewy te word.
My seun, met die kenmerkend rooierwordende gloed op sy gesig, het hom vanuit die staanspoor as 'n ongeneesbare bie-verslaafde en vendusie vlooi - aartjie na sy vaartjie! - geopenbaar.
Ek moes by elke item waarop hy gebie het, as gewaande leermeester van effektiewe vendusie-strategie, hom met mening tot groter kalmte en realisme maan met die vraag: Het ons dit werklik nodig? Totdat my vermaning soos alle preke en advies helaas meer op my as hom van toepassing was.
Ek het tot die stryd toegetree toe 'n wolsak mans- en dameskoene uit 'n assuransie-brandskade-eis met 'n bod van R20 aan die beurt gekom het.
Gou het die bieëry tussen my en die bokbaard omie as deel van die konvensies van die vendusie-kultuur in 'n persoonlike tweegeveg ontwikkel. Toe hy R40 bie, het ek vies en ongeduldig die bod nie meer met die gevestigde R5 nie, maar met R10 tot R50 opgestoot. Die omie het hom eweneens vererg en hard en ongeduldig geroep: R65 vir die lot!
Wessel het inmiddels bekommerd in my oor kom fluister: "Jis Pa, het ons die skoene nou rêrig nodig Pa?" Op R90 is die bod toe met die afslaer se hamerslag aan my toegeken, en het die sports begin toe 'n vriendelike swart weldoener my nader met die mededeling dat hy die vorige week die ander wolsak skoene gekoop het maar dat die meeste skoene onpaar was. Hy was bereid om sy sak vir die kosprys van R35 aan my te verkoop ten einde die pare weer bymekaar te kry.
En so na drie vragte met die VW Variant Somerstrand toe na 10 uur het ons drie die spreiligte aangeskakel en soos professionele sorteerders die skoene in die voortuin begin uitstal om elke skoen se maat moeisaam tot sonsopgang die volgende oggend gepaar te kry.
Ek het Freek, faktotum by die werk, aangesit om die klein persentasie voltooide pare aan werkers te verkoop maar die meeste het hulle geld na die naweek kom terugvra omdat die skoene nog steeds met 'n halwe of vol nommer onpaar was!
Een onpaar nommer 14 skoen het ek aan die stinkhoutstamstut in die rondawel op my plasie in Blinkwater, Katberg ter gedagtenis vasgespyker, terwyl my kollega Frik tong-in-die-kies aan die hand gedoen dat ek die hele vrag onpaar skoene aan die hospitaal se Prostese Afdeling skenk!
Toe my vrou na enkele dae tuiskom uit die hospitaal het klein Adelai haar ma onmiddellik ingelig wat haar pa al weer aangevang het en Wessel is selfs vandag in Engeland nog nie heeltemal van sy rooigelaat vendusie-koors genees nie!
Humphries du Randt


Kommentaar
Pragtige storie! Toe het slim sy baas gevang!. Dit het my meer as een keer gebeur dat ek die hele pot mis gesit het.