Talia vat grond: Suid-Afrikaanse Chick-lit skop haar babaskoene uit

  • 0

Talia vat grond
Melissa Scharneck
Uitgewer: Queillerie 
ISBN: 9780795800238
Prys: R175.95

Klik hier en koop Talia vat grond nou van Kalahari.net!

 

In Britse uitgewershuise loop die gerug dat chick-lit iets van die verlede is. Hulle meen dis oor die muur, voorspelbaar en vervelig – ten spyte van die sterk aanhang wat dit steeds geniet.

Die Britte mag dalk so dink, maar hier in Suid-Afrika skop chick-lit sy babaskoene uit vir sexy rooi spykerhakies. En die aanhang groei vinnig. Op ons rakke staan lankal boeke wat as chick-lit geklassifiseer kan word, maar anders as die oorsese mark, verpak ons dit nie in suikerpienk omslae nie. Eers onlangs, met die publikasie van Iemand vir ’n scoop? en Heildronk op ’n gypsyromp, is boeke doelbewus as “Afrikaanse chick-lit” bemark. Suid-Afrikaanse lesers wéét waarna hulle soek en steur hulle min aan die etiket van ’n boek. 

Oorsee het die groot verkopers lank reeds wegbeweeg van die eertydse geykte resep van dié genre. Om chick-lit te definieer raak al moeiliker. Die protagonis is nie meer ’n shopaholic wat in ’n piepklein woonstelletjie woon en sukkel om die loopbaanleer te klim nie. Die fokus is op haar persoonlike ontwikkeling, en sosiale, politieke en maatskaplike temas word met groter intensiteit en ’n donkerder aanslag hanteer. Wat kenmerkend bly van chick-lit is die goeie humor, meestal ten koste van die protagonis, die intieme, vroulike aanslag waarmee die verhaal vertel word, en die “egtheid” en alledaagsheid van probleme. 

Talia vat grond is een van dié wat haar konserwatiewe dikhaakskoene met groot sukses uitgeskop het. Die humor is skerp, die hoofkarakter eerlik en so verstrengel in haar daaglikse dramas dat die leser onwillekeurig daarby ingetrek word. Dit is chick-lit met spykerhakies. 

Talia is byna 30 jaar oud en ’n jaar geskei van haar man wat haar, na tien jaar se mishandeling, uiteindelik gelos het vir ’n ander man. James en sy nuwe “mannetjie” bly steeds in Vuurkloof, waar Talia ’n onderwyseres by die hoërskool is. Maar van James het sy genoeg gehad. Net jammer sy kan hom nie so maklik afgeskud kry nie. Eers was daar die publieke vernedering (nie dat sy veel omgee wat ander mense van haar dink nie). Maar na ’n jaar word sy steeds anders behandel by die skool. Die vrouens is bang sy vry hulle mans af – so asof Talia kans sien vir nog ’n man! Mans is vir haar onsigbaar. Wat haar betref, kan hulle “vlerke groei en wegvlieg” (13).

Behalwe Andries Gouws, mede-onderwyser en vriend. Sy sal agterkom as Andries wegvlieg; hy weet ten minste hoe om haar beter te laat voel. En hy sny af en toe haar gras.

Asof die publieke vernedering nie genoeg was nie, kom die finansiële vernedering toe. Talia en Louisa, haar negejarige dogter, kom beswaarlik uit met hulle maandelikse geld. En dit wýs. Die tuin is onversorgd en oortrek van die onkruid (ten spyte van Andries se grassny elke nou en dan); die huis is vuil en maande laas behoorlik skoongemaak (sy moes kies tussen die huishulp en sigarette – laasgenoemde het gewen); haar hare is te lank laas gekleur (selfs Talia se ma begin al boksies kleursel in haar handsak aandra); en haar klerekas is net so mismoedig soos haar lewe (maar sy hét darem gewig verloor na die egskeiding, al hang haar broeke nou soos sakke).

“Daar is min dinge wat so baie beteken soos die hoop dat daar iets beters wag,” weet Talia, maar dáárdie hoop bly haar ontwyk (7). Haar klaskamer mag dalk pynlik netjies wees, maar haar huis en haar lewe val uitmekaar. Sy ken soveel mense wat “sukkel met die lewe” dat sy vermoed hulle trek mekaar aan (32). Goddank vir vriende soos Maggie, wat nie huiwer om ’n ding om die naam te noem nie en aandring daarop om Talia se kombuis skoon te maak wanneer hulle kuier oor ’n bottel wyn. 

Die noodlot gryp soms op vreemde wyses in. Talia se sterleerling, Celia, kom bieg en vra haar hulp in ’n baie sensitiewe situasie. ’n Situasie wat vir Talia so grusaam en ondenkbaar is dat haar eie probleme vaal vertoon. Voor Talia haar kom kry, en sonder dat sy mooi seker is of sy regtig wíl, raak sy betrokke. Boonop reël haar tweelingbroers en ma vir haar ’n dertigste verjaarsdagpartytjie waarvoor sy nie geld of lus het nie. En die dorp het ’n nuwe dokter, JP Bester. Dodelik sexy en ’n ou universiteitsvriend van die tweeling. Sy het nou wel met hulle eerste ontmoeting soos ’n mal vrou op hom geskree, maar as hy dít kan vergeet, is hy dalk net die man om haar lyf weer te laat sing …

My enigste kritiek is dat die titel Talia vat grond nie met die verhaal skakel nie. Was Talia voorheen só besig dat sy nou eers tot ruste kom? Het sy met haar kop in die wolke geloop of kom sy nou af aarde toe? Nie een hiervan wérk vir die verhaal nie. Nietemin, Talia vat grond is ’n uiters genotvolle boek. Die aanslag is lig sonder dat die verhaal diepte inboet, en die alledaagse kwellinge van ’n enkelma word op humoristiese, simpatieke wyse uitgebeeld. Van my gunsteling-tonele is dié met Talia se tweelingbroers, soos die “ondervraging” ná ’n Vrydagaand se laat kuier (97). As jy sku is vir kru taal, moet jy hier liefs verbyhou, want Maggie draai nie doekies om nie. Ook nie Talia of haar ma nie. Die reguit praat dra egter by tot die gemaklike vloei van dialoog in die roman. Karakters soos Maggie en Andries, die tweeling en selfs James se minnaar word eg menslik uitgebeeld – die leser kan maklik met hulle identifiseer. En natuurlik, in egte chick-lit-styl, smokkel die intieme toon van Talia as ek-verteller met die leser se kop. Die humor herinner aan dié van skrywer Jennifer Weiner. En as dít enigsins tekenend is, kan die leser groot dinge ná hierdie debuut verwag. Hou gerus hierdie skrywer dop; ek voorspel Melissa Scharneck sal vinnig ’n gedugte aanhang opbou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top