Daar is instansies, meestal restourante en diensstasies, wat jou vra om so 'n vormpie in te vul om hulle diens te takseer. Gewoonlik is die opskrif "Help om ons in staat te stel om 'n beter diens te lewer". Nou wonder ek: Hoe sal jy reageer as die eienaar jou kom vertel jy moet net noem waarvan jy gehou het, dat jy net moet konsentreer op die goeie punte?
Die opskrif sal dan natuurlik geen sin maak nie; die klant net die goeie punte noem en die eienaar of bestuurder het dan geen idee hoe om 'n beter diens te lewer nie behalwe om net verder te verbeter op hierdie goeie punte. Daar kan dus meer kokkerotte in die kos wees maar die eetgerei word al hoe blinker.
Daar is nou die afgelope tydjie drie gevalle waarvan ek weet waar RSG-omroepers die mense gevra het om in te bel en iets goeds omtrent die land te vertel. Hulle wil net pôôsitiewe goed hoor. Indien die regering die radiostasies opdrag hiertoe gegee het is dit mos nou duidelik dit is vir breinspoeldoeleindes; daar kan geen ander rede wees nie. Die sielkundiges sê mos as mens op die positiewe konsentreer aanvaar jy jou lot meer geredelik.
Die land brand, klippe word gegooi en paaie met brandende bande bestrooi op 'n byna daaglikse basis (partykeer meer as een insident per dag), dorpsrade raak al hoe dieper in die rooi terwyl amptenare belastingbetalers se geld gebruik om hulself te verryk terwyl geen dienste gelewer word nie (en die mense moet aanhou betaal kan jy glo), volksgesondheid en onderwys is moer toe, die polisie is nie meer te vertrou nie ens ens maar daar word van die burgers verwag om die kaal keiser se klere te besing. Indien die verdoesel-slegte-nuus-wet al deur was het ons nie eers van Gupta-gate geweet nie. Wat 'n four king sirkus verskoon die Engels.
Nou gaan iemand natuurlik my weer daarvan beskuldig dat ek kla sonder om pôôsitief te wees, "wat stel jý voor" sal hulle wil weet. Ek het al voorheen maar sal maar weer: Demokrasie, elke volk regeer homself in sy eie gebied. Dit is egter nie haalbaar op die kort termyn nie, die soustreinryers gaan laaank vat om van die trein af te klim.
In die tussentyd egter kan die kerke en politici alle verskonings wat hulle gemaak het terugtrek en verskoning vra omdat hulle om verskoning gevra het. Dan moet die swartes om verskoning vra vir onder andere die Piet Retief- en Slagtersnekstorie en die regering moet jammer sê vir die slaggate, die stukkende rioolpompe en die arbeidsonrus, ook vir die swak toestand van die onderwys en volksgesondheid. Hulle moet om verskoning vra vir al die dorps- en straatname wat hulle verander het en dit dadelik terugverander. Dit sal dan die aandag vestig op die balk in hulle eie oog en op die manier sal hulle ontslae raak van die stomp op hulle skouer. Dinge sal dan heelwaarskynlik weer stadig terugkeer na normaal.
Jan Rap

