Taaldiens by die Suid-Afrikaanse Polisiediens

  • 0

Dit het onlangs aan die lig gekom dat daar lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is wat nie Afrikaans-taalvaardig is nie, maar wel in ’n gemeenskap/dorp gestasioneer word wat van huis uit Afrikaans is.

Hierdie toedrag van sake word in verskeie dorpe in die Wes-Kaap ondervind, waar Afrikaans die omgangstaal is en waar die inwoners van daardie dorpe hulle nie goed genoeg in Engels kan uitdruk nie. Dit wil voorkom asof die owerhede in die polisiediens nie taal as ’n vereiste oorweeg wanneer dit by aanstellings in veral plattelandse dorpe kom nie.

Baie van hierdie lede kan nie behoorlik verklarings in Afrikaans afneem nie en dit lei tot wanvoorstellings en waninterpretasie van gebeure wat later in ’n hof ernstig betwyfel word. Dit bemoeilik die getuienis van die aangeklaagde/klaer in ’n saak en kan maklik lei tot ’n wanverhoor. Die aanstellings in die Wes-Kaap om die nasionale demografie te weerspieël dra by tot hierdie chaos, waar inwoners nie behoorlik in die taal van hul keuse bedien kan word nie. Sommige lede van die SAPD sukkel behoorlik om die “taalmas” op te kom, omdat hulle nie taalvaardig in Afrikaans is nie. Aan die ander kant is die gemeenskap nie Engelsvaardig nie, en dit lei tot ’n Babelse verwarring wat uiteindelik tot die uiterste frustrasie van alle partye betrokke lei.

Die Wes-Kaap is ’n histories Afrikaanssprekende provinsie waar meer as 60% van die inwoners hul daaglikse take in Afrikaans bedryf, of dit nou in die onderwys, kerke/moskees of hul besigheid in die algemeen is. Dis ’n feit wat nie geïgnoreer kan word nie.

Ook kan dit nie genoeg beklemtoon word dat Suid-Afrikaners die reg het om in die taal van hul keuse bedien te word nie, anders is dit ’n gruwelike miskenning van hul grondwetlike regte. Dit is ook bekend dat die provinsiale regering nie ’n sê het in hierdie tipe aanstellings nie, maar dat dit die aanstellingsbeleid van die nasionale departement weerspieël.

Afrikaanse gemeenskappe sal hul afkeer van hierdie praktyke moet demonstreer deur dit wyd bekend te maak en hul renons daarin te openbaar. “Swak diens in die Staatsdiens” is ’n uitdrukking wat daagliks in die algemene volksmond voorkom. Die benadeling van jou mees basiese reg om jou saak te verduidelik en jouself behoorlik uit te druk in die taal waarin jy gemaklik voel, word jou gruwelik ontsê deur ’n beleid wat lynreg bots met wat in die Grondwet vervat is.

Ons kan net hoop dat die owerhede so spoedig moontlik aan hierdie kwessie aandag sal skenk en dat daar tot ’n aanvaarbare en blywende oplossing gekom word tot die tevredenheid van alle betrokkenes.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top