T’sats se kind bevestig die belangrikheid van Willem D Kotzé se preserveerkuns in Afrikaans

  • 0

Titel:T’sats se kind
Skrywer:
Willem D Kotze
Uitgewer:
Protea Boekhuis
ISBN:
9781869192013

Klik hier om T’sats se kind nou van kalahari.net te bestel!

 

In die voorwoord tot T’sats se kindnoem die skrywer dat die boek ’n vervolg is op T’sats se wraaken dat daar gevolglik “enkele terugflitse” sal wees na die vorige boek, hoewel dit ’n verhaal op sy eie is. Dit is ’n pertinente aanduiding dat die leser hier eintlik met ’n reeks – ’n soort vervolgverhaal – te make het, soos die titel ook suggereer. Dit is daarom sinvol om die laaste novelle, wat in 2008 verskyn het, in samehang met die res te bekyk.

Willem Kotzé het inderdaad reeds bekendheid verwerf vir sy "Boesman"-stories. (In hierdie resensie word die term Boesman gebruik in navolging van Kotzé, te meer omdat eietydse navorsing uitgewys het dat ook die term Sanas pejoratief beskou kan word.) Kotzé se werk staan in die tradisie van “Dier, inboorling en folklore in die verhaalkuns”, soos JC Kannemeyer dit ietwat gedateerd en oorkoepelend benoem in die vierde deel, sesde hoofstuk van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur Band 1.

Daar was reeds redelik vroeg in die Afrikaanse letterkunde ’n belangstelling in die Boesmankultuur: Reeds in Ons Klyntji Deel I nr 3, Mei 1896 is “Di klaagliid van di laaste Boesman” deur MH Neser byvoorbeeld opgeneem, waarin die ek-spreker die "Boesmans" stel teenoor "di Duusman" wat hulle land “ontvreem” het en hulle “Geweteloos en sonder eerlikhyd" uitgeroei het saam met die wild, die bome en bosse – ’n ekologiese siening wat sekerlik sy tyd ver vooruit was, maar wat ook aandui dat ’n kritiese perspektief op die toenmalige behandeling van die Boesmans deur die wit bevolking reeds in die 19de eeu aanwesig was in die Afrikaanse literatuur. (Kyk ook Van Zyl 2002:167–84 vir verdere 19de-eeuse voorbeelde van ’n kritiese blik op gesindhede teenoor die "ander".)

GR von Wielligh het die Afrikaanse taalgebruik en vertellings van die Boesmans probeer vasvang in Jakob Platjie (1918) en Boesmanstories(vier dele, 1919–21), terwyl Eugène Marais se Dwaalstories(1921 in Die Boerevrou; in 1927 gepubliseer) steeds beskou word as een van die hoogtepunte van die Afrikaanse kortkuns – merkwaardig genoeg vir dié tyd sonder enige teken van patronisering.

Ook skrywers soos die Hobson-broers ( Skankwan van die duine, 1930, uitgebrei in 1936), Sangiro ( En die Oranje vloei verby, 1951) en PJ Schoeman ( Jagters van die woestynland, 1951) het die Boesmankultuur probeer vasvang. Dit was nie altyd aanvaarbaar vir literatore nie. So vind G Dekker (1967:165) dat Skankwannie die peil bereik van die Hobsons se vroeëre werk nie, maar dis “te begrype: immers die Boesman mis die tere prag van die dier en kan as mens nie boei deur psigiese diepte nie” (!). Hoewel dit rassisties en stereotiperend klink, dui dit terselfdertyd op die problematiek dat moeilik deurgedring kan word tot die essensie van ’n "ander" wat ingrypend van jouself verskil.

Henriette Roos wys wel in Perspektief en Profiel(1998:32) daarop dat, hoe “patroniserend en beperk die visie ook was” in sommige van hierdie tekste, dit tog getuig van ’n ruimer blik as net dié “op die Afrikaner en sy groep”. Sy gaan verder kortliks in op die mate waarin “die byna totaal verdwene wêreld van die Boesman” geassimileer en getransformeer is “in talle hedendaagse tekste”, sodat randfigure na die sentrum verskuif het. Kenmerkend is verder die skuldgevoelens van die wit man, soos Dolf van Niekerk in Koms van die hyreën(1994) en Piet van Rooyen in Die spoorsnyer(1994). In die Engelse letterkunde speel die Boesmanmotief eweneens ’n groot rol, onder meer in die werk van Lourens van der Post, waarna in T’sats se wraak verwys word.

Waar staan Kotzé se werk nou in hierdie galery?

Die viertal novelles oor T’sats: T’sats van die Kalahari(1994), T’sats, die grootste van die groot jagters(1995), T’sats se wraak(1996) en T’sats se kind(2008) bied ’n chronologiese vertelling van T’sats se lewe en dood. Die aanvanklike trilogie (1994–96) begin by T’sats se grootworddae op “Oubaas Kolie” se plaas na ’n aanval van Tna!sô se mense op dié van Tna!ka, T’sats se pa. Die klein seuntjie word daarna in die veld deur wit mense in die veld gevind en as skaapwagter grootgemaak. Mettertyd begin die Kalahari egter so sterk roep dat hy weghardloop en terugkeer na sy hartland. Die eerste boek eindig waar hy sy oorblywende stamlede vind en teen sy halfbroer Tla!gai te staan kom. Dié konflik is onder meer die stof van die tweede novelle (met dieselfde titel as die voorafgaande boek se slothoofstuk), waarin T’sats se persoonlikheid en begeertes tot vergelding sorgvuldig uitgebou word. Dit word tot ’n klimaks gevoer in die derde boek wanneer T’sats ’n wit magistraat dood, maar self in die proses sterf.

Die eerste drie boeke getuig in ’n groot mate van ’n nostalgie na ’n verbygegane era, soos die skrywer self sê in die voorwoord tot die eerste: “My hunkering om terug te gaan na my loopplekke as kind daar in die Kalahari is baie sterk, maar net soos T’sats kom ’n mens voor omstandighede te staan wat dit onmoontlik maak. Daarom het ek in my verbeelding maar saam met hom na sý mense gaan soek.”

Met T’sats se kind, wat ’n goeie twaalf jaar na die laaste een in die T’sats-trilogie gepubliseer word, lyk die doelstelling ietwat anders: dit is duidelik uit die nawoord tot die derde teks dat die skrywer gefassineer is deur die omstandighede rondom die feitelike gebeurtenis dat “magistraat Frederik Jacobus Kriel van Ryneveld op 26 Julie 1922 deur ’n Boesmanpyl (...) neergevel” is (1996:149). Kotzé het sedertdien kennelik heelwat navorsing oor hierdie historiese insident onderneem.

Hiermee staan dié novelle in die teken van die Nuwe Historisisme se benadering dat die feitelike verlede onagterhaalbaar is en dat historiese rekonstruksies daarvan gevolglik baie naby kom aan fiksie. ’n Mens sou kon sê dat daar net soveel geskiedenisse is van magistraat Van Ryneveld se dood as die vertellings daaroor. In sy Voorwoord en Verantwoording gee Kotzé minstens vyf weergawes, met die volgende kommentaar: “Hier is dus vyf bronne wat feitlik oor elke aspek van magistraat Van Ryneveld se dood verskil” (2008:172). Hy gee vervolgens ’n sesde beredeneerde weergawe op grond van sowel feite wat redelik vas staan as afleidings, logika en eie spekulasie.

Juis die oop plekke in die geskiedenis skep ruimte vir gefiksionaliseerde konstruksies. Die feit dat dit onbekend is wie die Boesman was wie se doodspyl die magistraat getref het, skep die ruimte daarvoor om die daad met T’sats te verbind. Dit skep op sy beurt die noodsaak van ’n motief: Waarom sou T’sats iets so gevaarliks doen soos om ’n witman te skiet?

Dit is een van die positiewe kenmerke van hierdie viertal tekste dat ’n redelik oortuigende ketting van oorsaak en gevolg sorgvuldig opgebou word, sodat die enkeltekste (wat ook grotendeels afsonderlik gelees kan word) saamgesnoer word tot ’n groter geheel.

In die proses demonstreer Kotzé terselfdertyd in watter mate die karakterisering van Boesman-personages wél kan “boei deur psigiese diepte” (Dekker 1967:165) wat bewerkstellig word. T’sats se idees en opvattings word geensins verromantiseer nie. So skroom hy byvoorbeeld nie om sy teenstanders dood te maak en op soms wreedaardige maniere wraak te neem nie, in aansluiting by sy opvattinge oor die lewe en dood. Sy benadering tot sy onderskeie vroue lig eweneens groot verskille met Westerse idees en benaderings uit. Sy berekende oorredingstrategieë met betrekking tot ander Boesmans, deur voor te gee dat hy ’n spesiale band met die voorvaderlike geeste het, terwyl hy inderwaarheid nie self in hulle glo nie (in veral die laaste twee tekste in die trilogie), dui op ’n nogal bedrieglike aard. T’sats word allermins soos in sommige vroeë tipe literatuur uitgebeeld as ’n ongerepte, onskuldige inboorling.

Daar word egter andersyds gesuggereer dat hierdie tipe strategieë ’n oorlewingsmeganisme in ’n harde wêreld is. T’sats moet in die loop van sy kort lewe naamlik baie lewensbedreigende en verraderlike situasies in ’n uiters onherbergsame omgewing konfronteer. Dit is inderdaad ’n geval van “survival of the fittest”. Gevoelens word gevolglik heel anders gehanteer. In T’sats se kind word byvoorbeeld uitgelig hoe geredelik T’sats se dood as gegewe deur sy naasbestaandes aanvaar word. As Xau sy dogtertjie na ’n lang tyd sien, word gesê: “Die ontmoeting is sonder seremonie of emosie” (2008:82); as Tkô!lie na ’n hele tyd wat hy gelukkig is op Freek van Staden se plaas, daar weggehaal word, kyk hy nie een keer terug nie. Wat egter vas staan in die onderskeie novelles, is die enorme trekkrag vir die Boesmans na dié lewe, hoe onherbergsaam ook al, in die Kalahari. Selfs na dekades hunker karakters soos T’sats, Tkô!lie en die polisiespoorsnyer Jsaan terug.

Aandag word gegee aan die kwade gevolge wat die Westerse ingrepe in die Boesmanleefwyse tot gevolg het. Die belaglikheid daarvan om Boesmans te probeer bind deur, en hulle vervolgens in kennis te wil stel van, witmanswette oor byvoorbeeld die verbod op die jag van elande speel ’n groot rol in veral die laaste twee novelles. Daar word benadruk dat die wit mense met hulle jagpartye en gewere self verantwoordelik is vir veel erger skade. Aan die ander kant word ook gewys op skade deur ander groepe, soos die “swart mense” wat so baie is “soos miere by ’n miershoop” en wat “al die wild daar rondom hulle staanplek” doodmaak (2008:70).

Onmenslike gebruike deur veral die boere en polisiediens teenoor die Boesmans word krities belig, maar eensydigheid word nogmaals vermy deurdat sommige boere, soos oubaas Kolie en Freek van Staden, ook baie goeie eienskappe het. Veral vroue, soos Margaretha in T’sats se wraak en Mara in T’sats se kind, tree meermale op as die stem van die mans se gewetes, maar ook dit is nie eensydig nie, want die mees agterdogtige karakter in T’sats van die Kalahariis tant Koba, oom Kolie se vrou.

T’sats se geloofs- en kultuurverwarring as gevolg van sy hibriede persoonlike geskiedenis (as Boesman binne die Kalahari en as plaaswerker wat met die Christelike geloof in kontak gebring word) kry veral aandag in T’sats, grootste van die groot jagters.

Nou hiermee verbonde is die groot misverstande en ironieë wat kultuurverskille oplewer – die afgronde wat gaap omdat die "ek" die "ander" nooit kan peil nie, te meer as daar wesentlike verskille tussen hulle bestaan. Dit word tot ’n hoogtepunt gevoer in T’sats se wraaken verder uitgebou in T’sats se kindas Tkô!lie (wat heet na oubaas Kolie, by wie T’sats grootgeword het) toenemend dieselfde pad as sy pa begin loop en Jsaan, gedoem tot verraad teenoor sy eie mense, die slagoffer daarvan word ten spyte van al sy pogings.

Nie alleen die karaktertekening en ruimte-uitbeelding getuig van ’n vaardige en ervare skrywershand nie, maar ook die opbou van die intrige in beide die enkelwerke en in die geheel. Daar is wel redelik baie herhaling in veral die laaste twee tekste, maar omdat dit so nou saamhang met die konstruksie van die gedeelde moord-insident is dit sinvolle boustene met betrekking tot die motivering van die handeling in T’sats se kind.

Kotzé beskik ongetwyfeld oor ’n ruim kennis van Boesman-kenmerke, -gebruike, -gelowe, ens. Dit het enersyds met sy verlede te doen: “Die beskrywing van die Boesmans se gewoontes is soos ek dit as kind by verskeie mense gehoor het” (Voorwoord tot T’sats van die Kalahari). Andersyds getuig die voetnote en bronnelys in T’sats se kindvan ’n belesenheid oor sowel die Boesmankultuur as verwante aspekte wat met die streek te make het.

Een gevaar is wel dat hierdie kennis in die pad kan kom staan van die storie en die vertelling ’n te didaktiese kleur kry. Dit gebeur soms in T’sats se kindwanneer die dialoog geforseerd raak omdat te veel feite daarin gestop word (soos op p 24) of as die verhaal onderbreek word om folkloristiese tipe kommentaar of beskrywings te gee van Boesmangebruike by die jag, ens.

Die vertellings deur ’n wit, manlike skrywer toon besonder baie meelewing en inlewing, maar die novelles toon wel ook uiteindelik hoe moeilik dit is om volkome oortuigend in die "ander" se vel te klim en deur sy oë te kyk – iets wat trouens nooit geproblematiseer word in die tekste nie. Dit verg veral veel om die gedagtegange oortuigend te konstrueer van mense wat so anders dink en optree as wat Westerse norme voorskryf.

Ten slotte is Kotzé se vier novelles in die T’sats-reeks, wat kennis oor ’n vervloë wêreld vasvang, egter wel in die algemeen hoogs leesbare en genotvolle leesstof vir sowel jeugdige as meer volwasse lesers. Dit is noodsaaklike preserveerkuns en kan in ’n sekere sin as periodestukke gesien word, met ’n eiesoortige bekoring wat juis saamhang met die besondere vertellersvisie wat daarin na vore kom.

Bronne

Dekker, G. 1967 10. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Kaapstad ens: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery.

Kannemeyer, JC. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Vol. 1. Pretoria ens: Academica.

Nienaber, PJ. (samest). 1942. MH Neser se novelles, verhale en gedigte. Uitgawe van die Patriotvereniging vir Afrikaanse teksuitgawes. Johannesburg: Voortrekkerpers.

Roos, Henriette. 1998. Perspektief op die Afrikaanse prosa in die twintigste eeu. In: Van Coller, HP (red). Perspektief en Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Pretoria: Van Schaik. Bll 21-117.

Van Zyl, Dorothea. 2002. Base en klase: perspektiewe op en deur die anderin enkele 19de-eeuse Nederlandse en Afrikaanse tekste, met ’n fokus op naamgewing en aanspreekvorme. StiletXIV(1), Maart. Bll. 167–84.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top