Swyg standbeeld

  • 0

Hoe bespreek ek die waansin
Van ‘n simbool?
My eie voete staan
Vasgevang
Dis nou ek wat op die voetstuk staan
Hoe betoog ek teen die waansin
Van ‘n donker verlede
Wanneer my eie blankheid
Vol vuil strepe daaroor stroom?
Het ek nog ‘n stem
In my, ons Suid-Afrika?

Moet my bloed
Soos dié van hul (my, ons) Christus
Soos die rooi verf
En die rooi tape
Ook vir die land
Haar eie redding bring?
Is daar ‘n ons?
Of is dit net ek, hulle
En die res?
Raak my vrae te duister?
Is ek dalk net te wit?

Ek staan steeds
Die aardige Afrikaner
Te wit om te weet
Al verbruin ek dikwels
Te man om te praat
Al ken die mans my dalk te goed
Te veel grond in my besit
Soos ek sit in hierdie agterplaas-
woonstel, wat ek huur

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top