Die eerste keer wat ek gehoor het van “Black Friday” so ’n paar jaar terug, het die gedagte aan nog ’n ideologiese rewolusieviering by my opgekom. Was nogal verwonderd toe ek agterkom waaroor dit gaan. Die materialisme moet seker ook maar ’n dag hê. Daar is mos vir elke dag van die jaar ’n dag vir iets, maar Swart Vrydag? En nou word die dag gerek tot ’n week.
Van verlede week af gaan dit bedrywig op my selfoon. Die sms’e en e-posse rol in. Ek, ook nou maar bedag op ’n besparinkie hier en daar, het vier van daardie “loyalty/rewards” kaarte en dit gaan woes daaraantoe soos wat ek herinner word aan die “ongelooflike” besparings op alles behalwe ’n lekker stuk steak. Vier, omdat verskillende supermarkte op dit wat ek gewoonlik benodig op verskillende dae van die maand, ’n afslag aanbied en ek dan boonop punte verdien. Ek behou die R’e daarop tot Desembermaand. Dit “cover” so 75% van my Kersfeeskruideniersware aankope.
Oor die Dstv-kanale word Black Friday druk bespreek, soos julle weet. Die BBC se gespreksgenoot sê gister dat die opregte “bargains” maar slegs 1 uit 20 verkope is. Die res is boereverneukery. Daarmee het ek dit eens en wil byvoeg dat volgens my die kamstige “bargains” net te kry is op goedere wat gedurende die jaar nie verkoop het nie en nou op die rakke en in store staan en stof opgaar het. Op die radio sê ’n dametjie haar wasmasjien het ‘gekalf’ en sy kan nie wag tot Swart Vrydag nie. ’n So ’n geval, miskien ja – maar andersins, pasop sou ek sê!
Soveel van aanbiedings om die limiet op my kaart(e) weens “verantwoordelike en pragtige” bestuur daarvan te verhoog, kry ek net gedurende Sept/ Okt. Van Feb/Mrt (soos ondervind deur een van my braaipêlle ’n ruk terug) kry jy die een na die ander uitnodiging “om te kom gesels oor die gerief” en robuuste en somtyds onbeskofte dreigemente van ’n besoek deur die balju.
Wat word van daardie talle trollies wat volgepak is met yskas/gevriesde kosware wat netso deur ’n vies/beneukte voornemende klant, gatvol vir die lang wag en verdrukking by die “check-out” gelaat word? Teen die tyd dat ’n “vriendelike” werknemer daaraan aandag gee, is dit by kamertemperatuur en ontvries. (Ek koop dan vir ’n hele ruk nie yskas of gevriesde kos nie)
Nee wat, nee dankie, nie vir my nie.
Raed-na-Gael


Kommentaar
Raed-na-gael, al gewonder waar daardie dik polonie of blok kaas gaan wat bv vrou tussen haar bene weggesteek het tydens winkeldiefstal? Terug in yskas...wat die oog nie sien nie, sal maag wel van draai...
Swart Vrydag is groot foefie, met verhoogde pryse op goedkoop spesifieke goedere.