Swanesang vir ’n Stuyvesant

  • 5

Dit is met groot hartseer dat ek afskeid neem van ’n getroue lewensmaat, boesemvriend en kollega.  Santjie, ons het mekaar vir 5 jaar en 5 maande geken en ek sukkel om te aanvaar dat ons tyd saam so skielik moes beëindig word.  Ek sal nooit daai 2007-somersaand in Langebaan vergeet, toe ek jou ontmoet het nie.  ’n Vriend het jou aan my voorgestel.  Jy het ’n kort bruin broekie en ’n lang wit hempie aangehad, met ’n helder rooi mussie op jou kop.  Ek was jonk, fiks en gesond, met ’n amperse illusie van aantreklikheid.  ’n Tipiese Weskus-een-aand-romanse het hom begin afspeel: ek het glad nie in jou belang gestel nie,  maar na ’n paar spottende "dares" en heelwat van daai "special" brandy's het ek voor jou sjarme geswig.  Dit sou net vir een aand wees, maar min wetend was ons bedoel vir mekaar ...

Jou liggie het altyd helder geskyn, ongeag die omstandighede.  Jy het my bygestaan in tye van eensaamheid, woede, en stres, maar ook was jy ’n onmisbare metgesel tydens jolige okkasies.  Jy het my kalmeer as ek in die oggende van Julius en sy gespuis gelees het en wanneer die telemarketers so aanhoudend gebel het.  Toe Bryce Lawrence in 2011 so blatant kak aanjaag, het ek en jy buite gaan staan en jy het my herinner dat dit net ’n game is.  Jy het my handjie vasgehou as ek so swaar gekry het tydens ’n oggend-hardlywigheid en my getroos wanneer die insomnia aan my deur kom klop het.  Jy was my asem ...

Dis nou twee lang dae sedert ek van jou afskeid geneem het en ek weet nie hoe ek sonder jou gaan klaarkom nie.  Ek sit en klou maar desperaat vas aan die goeie herinneringe.  Ek onthou daai een oggend toe jy speels vir my weggekruip het en ek jou nêrens kon kry nie.  Ek het bitter angstig geraak, vreeslik gevloek, en amper ’n paar porselein-items met my nege yster van die tafel af gebliksem. Ons kon nie sonder mekaar nie.  Ek wou jou heeltyd vashou.  Wanneer ek gepraat het, het jy aan my lippe gehang ... 

Soos met enige verhouding was jy seker nie altyd goed vir my nie.  Baie het my gewaarsku en gesê dat jy vol twak is en my ondergang gaan beteken.  Jy was glo "high maintenance" en sou my nog onnodig baie geld kos.  "Goeie goed is duur" was altyd my ligtelike response.  Sommiges wou jou nie eers in hulle huis toelaat nie.  Jou hele familie het ongewild begin raak.  Blykbaar het jou boetie heel “menthol” geraak as mens druk op hom plaas.  Selfs restaurante het ons begin stief hanteer en summier by ’n aparte glashokkie ingejaag, om ons weg te hou van die "beter" mense af.  Net die kommin kroeë het ons nog laat tuis voel.  Ek weet nie, ek was seker maar ’n sucker, maar jou tekortkominge was altyd vir my ’n teer sakie en ek het die meeste uitgefilter.  Wie is dan nou volmaak?  Vir my was jou pakkie halfvol ...

Ek is bang om uit te gaan want daar is te veel goed wat my aan jou herinner.  Elke sonsondergang;  elke braaivleis vuur se vlam;  die lang hoektafel by Zizi's waar alles begin het;  die manstoilette in die Weskus Mall, waar ek al een keer nie my lus kon tem nie, en jou net daar en dan, saggies en skelmpies opgesteek het.  Baie sê ek moet aanbeweeg en van jou vergeet, maar hulle verstaan nie. Geen binne- of buitemuurse aktiwiteit sal meer dieselfde wees nie. Niemand sal jou kan vervang.  Ek gaan nie die pyp rook nie ...

Ek sit nou hier met ’n benoudheid op my bors, ’n pyn in my hart, en ’n sakdoek vol donker snot, maar ek glo dit sal ook weer genees.  Jy is nou verstrooide as in die wind, maar ’n stukkie van jou sal ek vir n lang tyd ronddra in my hart, en longe.  Ons avontuur, ’n nie-fiksie hygroman, het tot ’n einde gekom ...

Tot weersiens

Jou verslaafde

jangertjie

PS - Moet asseblief nie by my kom spook nie ...

  • 5

Kommentaar

  • Geluk. Ek het 17 jaar gelede ophou rook. Ek weet nie of jy iets gebruik het om op te hou rook nie, maar daar is net een manier om op te hou rook, en dit is om op te hou koop. Ek het 'n wilsbesluit gemaak. Ek het die eerste drie, vier dae hondkak gevoel. Was effens knorrig, bewerig en daarna heel goed begin voel. Moet net nooit, as jy ophou rook het, iemand wat rook oopbek soen nie. Dit is flippen sleg, soos om 'n asbakkie uit te lek. Dit vat wilskrag om nie vir 'n siegretjie te vra as jy bier drink of lekker kuier nie. Maar mens kom daaroor. Sterkte. Jou reuk en smaak verbeter 100%.

  • Oulik en goed geskryf al rook ek ook nie. Was dit nie vir die foto sou die geheim waaroor dit eintlik gaan tot in die laaste paragraaf my laat wonder het.

  • Ai ou maat, bevrees dat jy sal nog bietjie moet sukkel. Terwyl jou vir Santjie Special Mild verheilig gaan dit moeilik gaan. 4 jaar na 14 jaar getrou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top