superioriteitsindroom

  • 0

al’t Mens al gehoor, van land soos Azania,
praat Mens van Krotoa, “het Hottentottin”,
asof haar naam kwansuis “Eva” sou wees,
maak Mens Mens Self so uiters belaglik,
submissief aan sjatan se demoonsheid,
soos vampiere, brommers, om JSE-syfers,
NYSE, LSE, Franc, Deutsche Mark, Dollar,
sit geliefdes, familie, geld, klaar oorsee,
al het Mens al voorheen gehoor van Azania

via Mens se onsuiwer gedagtes, “Duiwelspiek”-
dissipeliaans, ultra-on-, anti-, teenproduktief,
Millennium Drie se “Playstation”-magspel,
uitwissing van Skepping net ’n droom,
vir Self, Eie, is Mens nog steeds te lief,
sal liefs weg na Waarheid, GPS, moet kry,
hoe Essensie van Mens, Emosie, hanteer,
bestuur, geëer, gerespekteer moet word,
al is’t nou dour te lank, of hiesa te kort,
tjek ons maar laaste hoofstuk, toneel,
van apartheid, roggelend, submissief,
stuiptrekkend aan onkunde-ontkenning,
ontkenningsonkunde-virus, destruktief,
allerlaaste asem van verdeeldheidsindroom,
Self-verniel-prosedure se ferm fondament

vernietig Mens eers Aarde, van hoek tot kant,
niemand weet vandag, hoe lyk suikerbosrant,
kobras wat liefde maak, ystervark aan’t soog,
Wie Se Wet Staan so, so Bó absoluut alles uit,
wat is dan verskil tussen Ewolusie en Skepping,
tussen Skepper se Beleid en sjatansverleiding?

Millennium Drie, Tyd van een of ander soort
Bewustheid, Bewuswording, herevaluering,
van status kwo, professioneel, soos ‘n pro,
ondersoek vanne alternatief, Menslikheid,
van Waardigheid van Mens, van Waarheid,
Geregtigheid, niemand meer Echo November,
geswore vyand, niemand meer “onaantasbaar”,
eenkant-Mens, uitgerangeer tot half-Mensheid,
op aftik-lysie van struktuurgeweldgeweldenaar,
onderhandelaar, heerser, uitbuiter, eksploiteerder,
van Mens se geloof in Godheid, liefde vir goedheid

apartheidskinners nou op ’n Self-verbanningstrein,
holocaustagtig, op spoor, na een of anner Dimbaza,
vol ghettoägtigheid, van Broederbond, NG Tempel,
Fariseërs, hooggeleerdes, op’l Hemel se Drempel,
presteerders, shalomsangers, neo-voorbidders,
treinpredikers, imams, rabbi’s, supergeestelikes,
glo glo waarlik, disse vreemde soort sindroom,
dié, superioriteitsbewustheid, Self-vervreemding,
gevestig in Mens, in Mens se mentaliteit, psige,
Mens gewikkel in ‘n soort Millennium Drie intrige

“ras” wetenskaplik ondefinieerbaar, onverantwoordbaar,
“klas”, onsigbaar skeidslyn tussen werkers, “middelklas”,
tussen “middelklas” en heersers, verteenwoordigers,
afgevaardigdes, mos deur meerderheid daargestel

sit “Boesman”, “Kwerriekwerrie”, “amaLawu”, “Slams”,
innie koppe van stereotipe-verslaafdes, rassiste,
sprekers van isiBhunuägtig isiBhulu, “Boer-taal”,
terwyl baie Mens nie eens naastenby “Boer” es,
kanti, taamlik goed ken hierie kreool, fraaie taal,
wyse waarop heerser Gewete-loos sukses behaal,
meerderheid agter ontkenningsgordyn afgesluit,
so verwese, verlate, sonder huise, sonder strate,
vasgeketting in, aan struktuurgeweldstelsel,
Mens mede-Mens gewetenloos onderdruk,
sonder om enigsins daaroor te skroom,
verwys psigiaters daarna as ‘n pseudo-
oppersuperioriteitsbewustheidsindroom,
manifestasie van ultra-Gewete-loosheid,
nare resultaat van iets soos apartheid

Jacobus Faasen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top