Ek wens dat ek die wêreld met ’n enkele inkantasie kon verander. Nie die héle wêreld nie; dit sou bloot aanmatigend klink. Nee, mý wêreldjie. Ek sou van myself ’n beter observeerder wou maak. My medemens met groter gemak sou wou kon verstaan. Sonder die huidige gespartel, misverstand en noodwendige selfsug wat so eie is aan menslike sosialisering. Dít sou my superkrag wees. Geen comic van superhelde besit hierdie (wat ek as dalk die allerbelangrikste ag) vermoë nie. Nee, dit is alles net oordadige bomenslike krag, die vermoë om soos ’n arend argeloos op windstrome te swewe, lasers wat uit irisse skiet en ninja-agtige gevegsvermoëns. Nie dat ek juis fout vind met bietjie baldadige, oordrewe, soms melodramatiese ontvlugtingsbeelde soos hierdie nie, en vir ’’n selferkende idealis sou dit bloot banaal wees om hierdie spele van fantasie met ’n siniese blik gade te slaan. Maar tog dink ek dat my idee van ’n alsiende oog, een wat sy medemens met gemak kan ontleed, veel meer bate sal inhou.
Stel jou net voor: ek sal nie my tyd mors met mense wat geheime agendas in hul agterkoppe hou nie. Ek sal myself bloot assosieer met dié wat my tyd werd is. Weg met liefdesteleurstellings, skokke van ontmaskering en die uitval van geraamtes in die kas. Ek sal daartoe in staat wees om moeiteloos mense te weeg en te lig te bevind (of net die regte gewig). Ek sal soveel makliker hegte vriendskappe kan smee. Ek dink onwillig aan daardie film ‘die geheime in hul oë’. So Spaanse gruwelfliek wat my steeds hoendervel gee as ek aan sommige van sy tonele dink. As ek hierdie inkantasie oor myself kon uitspreek, sou irrasionaliteit en paranoia plek maak vir die logiese en vryhartige vertroudingsvermoë. Die lewe voel ek, sal meer rooskleurig daarna uitsien. ‘n Mens is ook maar net so sterk soos dié waarmee hy homself omring. Met hierdie superkrag sal my sterkte ongekende hoogtes bereik. Dan sal ek in elk geval kan swewe op lugstrome.
Dink net verder. My vermoë om individue wat my lewenspad makliker sal maak, dit versier en nie versuur nie uit te sonder, sal my nie toelaat om met enige skuldgevoel te gaan slaap of wakker te word nie. Ek sal my naaste se nood (wat mense vir een of ander rede van vals self-preservering vir hulself hou) kan raaksien. Ek sal hulle behoeftes kan antisipeer en betyds daarop kan reageer en ’n held wees in hulle oë! My geliefdes sal my selfs meer liefhê, vreemdelinge sal my admireer!
En tog … braafheid en onbaatsugtigheid sal ook noodwendige bestanddele wees om werklik iemand se nood te verlig. En nou dat ek daaraan dink: waar sal al die misterie heen verdwyn? Soos dou op die gras verdamp vroegmôre wanneer die son sy kop uitsteek sal al die geheimsinnighede van wat my avontuurlustig maak ook verdamp. Miskien moet ek my voorgenome superkrag bietjie temper. Dit minder bonatuurlik begeer. Dit met die mond van realis, nie idealis tot bestaan inkanteer. Maar sal dit dan nie afbreek maak aan die ‘superheid’ van die krag nie?
Ai tog, optimisme is toe nie pessimisme se teenvoeter nie. Blote realisme skyn toe om die verteerder van drome te wees. Maar elke superheld het ‘n kriptoniet; ons elkeen besit oor die vermoë om die skynbaar bonatuurlike te verrig.
Kom ons raak net ontslae van die verlammende kriptonitiese realisme, durf waag dit net om vir eens met wonderbaarlike inkantasie onsself toe om met oë vry van naïwiteit, maar vol deernis vir mekaar, mekaar vir eens ráák te sien.


Kommentaar
Lol