Sukkelbestaan

  • 0

Millie sak moeg op 'n stoel neer, skop haar skoene uit. Sy kyk haar vriendin, Kitta, op en af.

"Jy weet, ou Kitta," sê sy in haar skril stem, "die dag toe ek met ou Pieter getroud is, vervloek ek tot in ewigheid. Hy het my nog net verdriet besorre, van dag een af al."

Kitta draai om van waar sy by die wasbak besig is om 'n paar koppies uit te spoel. Sy vee die sweet van haar gesig sommer met haar rok se mou af. Hierdie hitte sit in haar lyf en dit kan sy nie vat nie.

"Ja, toe maar, Millie, daarvan kan jy my niks vertel nie. Hans is nou nie juis anderster aanmekaar gesit as jou Pieter nie."

"Ja, maar ou Hans sorg darem beter in die huis."

"Ons trek nog steeds swaar, Millie."

"Ek weet, ek weet. Sorry dat ek altyd so by jou kom leen."

"Ek skimp nie, Millie, wil jy tee hê?"

"Dog jy vra nooit. Ek kan dood vir 'n koppie tee. Gooi net vir ons in jou smart koppies, gehoor?"

"Natuurlik, Millie."

Toe elkeen met hul koppie tee sit, gaan Millie klaerig voort: "Ou Pieter het dit mos nou in sy kop gekry om op te hou werk. Hy seg hy is nou al te oud en wil kom rus. Nou vra ek jou, vriendin, hoe nou gemaak? Die staatspensioen is mos te min. Hoe ga' ons lewe in die moeilike tyd?" Millie laat sak haar kop om te wys hoe moedeloos sy is.

"Jy sal hom moet ompraat, Millie, hy kry nou nie baie nie, maar sonder daardie geldjies ... Nee, jong."

Kitta sien al hoe kom leen Millie ekstra goedjies by haar.

"Hy's hardekop, ou Kitta, sallie luister nie. Jy moet ou Hans vra om te kom praat."

Kitta klik haar tong. "Netnou gee hy Hans idees. Jy weet, veral as die voggies loop."

"Ou Pieter drink mos g'n so baie nie."

Weer die tongklik. "Ja, en ook nie so min nie, hoor."

Millie wil haar wip, maar onthou dan dat sy eerste kom kla het en netnou wil Kitta nie meer vir haar suiker of melk leen nie. Dit is eerder gee, want dit wat sy leen, gee sy nooit terug nie. Kitta bly maar stil, want Millie is al vriendin wat sy vertrou hier rond. Die ander spulletjie is net daarop uit om jou man in hulle web te vang of jou te beskinder.

"Hierdie ding gee vir my slapelose nagte, ek sê jou, ou Kitta.  Ou Pieter moenie staat en bodder nie."

"Jy moet op jou regte staan, Millie, dis al! Die mans van ons loop juis te maklik oor ons." Kitta neem die leë koppies van die tafel af en gaan sit dit in die wasbak. "Ai, ek wens daardie meisiekind van my wil kom kuier, maar sy is mos nou so deurmekaar met ghrend daar in Sodom, maak nou of sy beter is as ons."

"Ag, ek het al vergeet van onse kinders. Hulle jarre laas gesien. Ou Pieter sê hy wil hulle nooit weer sien nie. Hulle het ons weggegooi asof ons sommer net brakke is."

Die twee vrouens kla nog 'n ruk so oor en weer voor Millie huiswaarts keer.

 

"En nou, Millie, as jy so aangestorm kom. Ek't nou net die stoepie gepolish," kla Kitta met haar mond op 'n plooi getrek.

"Dis, ou Pieter, ou Kitta," sy snuif, "hy't toe die werk gelos!" Haar asem jaag as sy woes met haar hande beduie, die dik arms swaaiend voor Kitta wat hier en daar koes voor sy dalk 'n hou uit die niet kry. "Ek't vir hom gesê hy kan nie, maar luister wou hy nie. Ek dood sommer net hier!"

"Nee, hou vir jou in, vrou, ek soek nie 'n lyk op my skoon gepolishde stoep nie. Staan eenkant toe dat ek jou spore kan skoonvee!"

"Is dit al waaraan jy kan dink? Ek is hier in my se uur van nood en jy kerm oor jou stoep!" Millie se wange brand rooi van ontsteltenis.

"As die stoep nie blink nie, Millie, gaan ek dalk 'n lyk wees vanaand en nie jy nie. Hans het goed bedinges opgestaan, my al vroeg-vroeg geskel. Ek veg vir my lewe, mens! Toe, staan opsy! Loop agterom en gaan wag vir my in die kombuis. Sit sommer die ketel aan ... Of nee wag, daar is water in die warmbottel. Kan nie nog krag ook mors nie. Sien juis die metertjie se lesingtjie is laag."

Brommend doen Millie wat Kitta sê.

"Nou toe, hier is ek nou. Die stoepie blink so mooi, ek kan my eie gevreet daarin sien. Nie dat ek wil nie, hoor. Ek lyk soos 'n spook wat sy pad verloor het."

"Gmf, ja, ou Pieter sê altyd ek lyk die oggende, as ons wakker word, soos sy grootste nagmerrie. Ba, hy dink mos hy is elke jong meisie se droom, yl haartjies, dun beentjies en al."

"Hans lyk darem nie so sleg nie," begin Kitta, maar bly verder stil toe Millie net 'n verontwaardige snork gee. "Kom ons los nou die nonsens en vertel tog, mens, hoekom jy soos 'n dwarrelwind hier aangestorm gekom het?"

"Ou Kitta, sy kop het hom geheel en al gelos, dit sê ek vandag vir jou. Hy sit nou by die huis en ek het nie raad nie. Waar ga' die geld vandaan kom? Hy't my moedeloos. My te vertel dis nou my beurt. Hoe nou? Wie sal my tog werk gee? Ek's sommer lus en loop weg na die kinders toe."

"Na die kinders wat nie eens kom kuier nie. Weet jy ooit waar hulle is, Millie?"

Millie se kop sak en sy vee oor haar oë. Haar skouers gee 'n ruk. Kitta loop nader, gee haar 'n onbeholpe drukkie. Wat sê sy? Wat kan sy sê? Maar verstaan, dit doen sy. In hulle jong dae het sy en Millie ook mooi drome gehad, maar hulle het arm grootgeword; arm mense kry nie juis geleenthede nie, veral nie as jy in 'n huis grootword waar mishandeling aan die orde van die dag is nie. Hans was vir haar 'n uitkoms; dit was 'n fout. In die begin was hy 'n goeie man, maar dit het nie lank gehou nie. Sy sug. Wat help dit tog om in die verlede te leef? Wat klaar is, is klaar en basta!

"Ek sal met dominees praat, Millie, dan kan hy weer met jou Pieter praat."

"Dis te l-laat, ou Kitta, hy't k-klaar geloop," huil Millie.

"Nee, ek sal dominees vra om met die mense te praat, dat hulle hom terugvat."

"Hulle sallie; soek al lankal dat hy loop. Nou dans die spul seker die riel van blygeit."

Kitta bly toe maar stil. Raad het sy nie verder nie. So veg hulle elkeen maar van dag tot dag, elkeen het sy eie seer, eie probleme. Sy haal 'n blik beskuit van die kas af, skuif dit na Millie toe.

"Dis al wat ek jou kan aanbied."

Millie lig haar kop; vir 'n oomblik vergeet sy van haar probleme as sy die blik met die heerlike beskuit onder oë kry. Kos was nog altyd vir haar 'n vertroosting en ou Kitta ken van beskuit bak as sy die dag lus het. Gulsig gryp sy een en doop dit in die koffie. Laat ou Pieter maar by die huis lê. Ou Kitta is darem hier waarheen sy kan vlug as alles te veel word.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top