Suidoosterfees 2014: Gratis radiodrama-slypskool in samewerking met RSG

  • 0
 

’n Radiodrama-slypskool word twee maal in samewerking met RSG gratis by die Suidoosterfees 2014 aangebied.

Die datums en tye wanneer dié uitmuntende geleenthede bestaan, is Vrydag 31 Januarie 12.30-14.00 en op dieselfde dag weer 15.00-16.30 in oefenkamer (Rehearsal Room) 551 van die Kunstekaapteater.

Die aanbieders is Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG, en Johan Rademan, omroeper, sportkommentator en radiodrama-regisseur, met tegniese bystand deur Ricardo McCarthy.

Die slypskool is ’n interaktiewe en praktiese sessie waar feesgangers die krag van die “Teater van die Blinde” eerstehands sal beleef.

’n Radiodrama sal voor die gehoor opgevoer word met die akteurs Sue Pyler en Dean Balie in die rolle. Dié akteurs was albei onlangs te sien in die gewilde musiekspel Blood Brothers, wat Kaapse en Gautengse gehore gaande gehad het.

Die feesgangers sal die unieke uitdagings van ’n radiodrama-akteur kan beleef en ook sien hoe byklanke geskep en dan in ’n drama ingevoeg word. Binne minder as 90 minute sal ’n minidrama geskep word. Feesgangers sal ook die kans kry om self die mikrofoon aan te durf – sou hulle kans sien om ’n radiodrama-teks nuwe lewe te gee.

Die slypskool waarborg groot pret vir feesgangers wat bereid is om hul oë toe te maak en hul verbeelding vrye teuels te gee. En op die koop toe sal een of twee van radio se grootste geheime verklap word …

Belangstellendes kan vir Frieda le Roux, Bemarking: Suidoosterfees kontak om in te skryf ([email protected]), asook laat weet hoe laat hulle die slypskool kan bywoon.

Besoek ook die Suidoosterfees se webwerf vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top