Suid-Afrikaanse universiteite: Nie alles is verlore nie

  • 18

Nie alles is verlore vir swart studente aan Suid-Afrikaanse universiteite nie

Die afgryslike diskriminasie waaronder swart meisies aan vooraanstaande voormalige model C-hoërskole in drie provinsies van die land gebuk gaan, het opnuut bewys dat onderwys in die algemeen en hoër onderwys in die besonder in Suid-Afrika ’n voortslepende brandpunt sal bly. Brandpunte vereis uiteraard noodwendig indringende en pynlike hervormings. Hierdie artikel neem Marinus Wiechers se onlangse bydrae getiteld “Quo vadis, Suid-Afrikaanse universiteite?” as ’n vertrekpunt in ’n poging om sekere van sy uitlatings en standpunte en die reaksie van enkele lesers krities onder die soeklig te plaas. In hoeverre Wiechers ook in gebreke bly om vernuwend, simpatiek en inklusief oor die verlede, hede en toekoms van universiteite te dink, word ook belig.

Wiechers se argumente bied nie slegs ’n venster op die legio uitdagings wat Suid-Afrikaanse universiteite se vreedsame voortbestaan bedreig nie, maar ontbloot die oudrektor se filosofies-onderwysbeskouings. In 2007 het Dan Roodt, die omstrede skrywer en meningspreker, Wiechers verkwalik dat hy dit durf waag het om Hendrik Verwoerd se groot intellek in twyfel te trek deur na sy (Verwoerd se) binnelandse beleid “as ’n uitwas van Britse imperialisme en kolonialisme in ’n nuwe vorm weergegee” te verwys. Dat Wiechers een van die land se intellektuele reuse is, betwyfel ek nie in die minste nie.

Profiel van die huidige universiteitstudente

Die profiel van die huidige studentekorps aan Suid-Afrikaanse universiteite het oor die afgelope twee dekade onherroeplik verander. Wiechers se waarneming in hierdie verband is heeltemal in die kol: die oorgrote meerderheid studente (Unisa inkluis) is swart (bruin, Indiër ea hierby ingesluit), arm. Hulle kom uit agtergeblewe gesinne, geweldgeteisterde gemeenskappe, arm swart skole waar finansiële beperkings belemmerend inwerk op die dinamika van die nuwe kurrikulum en buitemuurse aktiwiteite. Arm studente verdien aanmoediging en geleenthede. In 2015 het ’n tweeling uit die krotbuurt Khayelitsha op die Kaapse Vlakte hul mediese opleiding voltooi. Hul moeder werk as ’n bediende. Dit was gewis nie maklik vir hulle nie; inteendeel, ek het rede om te argumenteer dat die meerderheid swart studente onseker van hul kanse op akademiese sukses is. Dit verskil lynreg van die ooglopende selfvertroue wat hul wit medestudente op die kampus uitstraal. Dit is immers die universiteit waar hulle grootouers, ouers, broer en susters studeer het. In baie gevalle is vriendskapsbande oor jare met dosente gesmee wat ’n direkte impak op sodanige studente se sukses het. Dosente, personeel en studente deel in baie gevalle dieselfde geloofsoortuigings, kerk en sportkodes. Wiechers sal met my saamstem dat daar geldige redes is om aan te voer dat die speelvelde vir die verskillende studente op universiteite geensins gelyk is nie. ’n Oudrektor het sy lewe gewy om die universiteit se deure vir die talentvolle studente uit ’n behoeftige agtergrond oop te maak. Sy bekende Pedagogie van hoop het onder andere die visie onderstreep dat ’n universiteit toeganklik moet wees vir beide die seun van die plaasboer en die dogter van die plaasarbeider.

Verering van monumente

Wiechers se verwysings na studenteversetveldtogte as “betogings en rumoerigheid” mis die dieper erns van hierdie kwessie. Niemand kan onverskillig staan teenoor studente wat ’n eerlike en diepe wroeging met vreemde, koloniale en Afrikanersimbole het. Studente is ongemaklik om deel te wees van en respek te toon vir simbole wat onderdrukking en verontregting verteenwoordig. Hier dink ek aan die kwaadwillige beskadiging van wyle Steve Biko se standbeeld. Wit universiteite se openbare en private ruimtes is steeds gevul met erflatinge, monumente, kunswerke en skilderye wat die koloniale tydperk en Europese (Afrikaner-) kultuur verheerlik. Dit dien as bewys dat tradisioneel wit universiteite na 20 jaar van demokrasie nog glad nie swart studente se verwysingsvelde en aspirasies verstaan en na waarde skat nie. Op hierdie terreine lê nog baie harde werk voor.

Wiechers se uitspraak dat duisende studente geen leerkultuur het nie; die minste kennis van die universiteitswese of geen respek vir geleerdheid nie verteenwoordig ’n blatante vooroordeel jeens sodanige studente en verklap ’n verskuilde beheptheid met die handhawing en verlaging van akademiese standaarde. Om sout in die wonde te vryf eindig Wiechers sy pleidooi dat sodanige studente eerder vir tegniese opleiding voorberei word.

Ek wil lesers tot groter waaksaamheid oor ongeldige en onsimpatieke uitsprake oor arm studente roep. Om welke redes? Hier moet ons die advies van Eusebius McKaiser, politieke ontleder, media-omroeper, dosent en skrywer werklik ernstig ter harte neem. McKaiser oordeel dat die debat rondom swart meisies se hare in wese oor dieperliggende kwessies soos kultuur en identiteit strek. In die lig hiervan maan hy ’n bekende radio-omroeper: eerstens, erken dat jy nie alles omtrent swart mense en swart mense se hare weet nie; tweedens, toon nederigheid wanneer iemand vanuit sy of haar lewenservaring praat; en derdens, moet nooit dink jy het al die antwoorde uitgewerk omtrent mense wat fundamenteel anders as jy is nie.

Die dringende behoefte aan ’n pedagogie van menswaardigheid en hoop

Kommentaar op sosiale media toon ’n oordrewe beheptheid met onder andere die belangrikheid van moedertaalonderrig, hoë toelatingsvereistes, assessering en akademiese standaarde aan universiteite. Dit sal lesers veel baat om kennis te neem van Aletta Norval, ’n Afrikaanse bloubloed en visekanselier aan ’n voorste Britse universiteit, se standpunte oor taal en universiteitstoelatingsvereistes. “’n Mens kan nie net oor Afrikaans praat sonder om ook oor Xhosa en Zoeloe en al die ander inheemse tale te praat nie. Jy moet gelykwaardig dink oor hoe (akademiese opvoeding) sal werk vir studente van alle inheemse tale” – aldus Norval. Sy maak dit duidelik dat universitêre opvoeding nie net beperk is tot die kampus nie. Norval vind aansluiting by studente se eise dat ’n universiteit ’n plig het om sy groter samelewing te dien.

Norval onderstreep verder dat universiteite wat hul onderrig bly toespits op studente met A-vlak-toelating, hulle onderrigmetodes moet hersien. Ook haar universiteit moes daardie paradigmaskuif doen en dit bly selfs vir Norval ’n leerproses. By ’n onderwys-en-onderrig-werkswinkel wat ek onlangs bygewoon het, is die noodsaaklikheid van ’n verandering van die leeromgewing opnuut beklemtoon. Deelnemers was dit eens dat sodanige verandering van die leeromgewing geensins tot die verlaging van standaarde aanleiding gee nie. Norval bepleit dat dosente vooraf studente se kennisvlak en leerstyl moet bepaal ten einde hul onderrigmetodes te hersien.

Waar is ons ingenieurs van hoop en kennis?

DF Malan se toespraak by die Volkskongres oor die armblankevraagtsuk wat van 2 tot 5 Oktober 1934 in Kimberley gehou is, is in vele opsigte rigtinggewend vir die oplossing van sekere tergende onderwysuitdagings. Malan het in sy hoedanigheid as LV oor die siel van die armblanke gepraat en enkele voorstelle oor sy rehabilitasie gemaak. In weerwil van die ontdekking van groot mineraalbronne en die versnelde ekonomiese vooruitgang van die land het die armblanke agtergebly: ongeskoold, en met ’n ernstige minderwaardigheidskompleks. Die armblankevraagstuk was ongetwyfeld ’n ekonomiese probleem en maatreëls van suiwer ekonomiese aard was gebiedend noodsaaklik. Die ekonomiese rehabilitasie van die armblanke kan nie geskied sonder sy sielkundige rehabilitasie nie, aldus Malan. Ons wil hê dat die armblanke in homself en in sy eie krag en moontlikhede moet glo. Dit sal nie gebeur as iemand anders nie eers self toon dat hulle in hulle glo nie, het Malan gesê. Geloof in jouself word gewek deur die geloof wat ander in jou het.

Gegewe die haglike omstandigheide aan huis, in die buurt en skool is dit prysenswaardig dat swart leerders, soos in die geval van die mediese tweeling, bo hul omstandighede kan uitstyg. Die faktore en regeringsbeleide wat swart ekonomiese en opvoedkundige bemagtiging oor die dekades heen vertraag en uiteindelik verongeluk het, is welbekend en val ongelukkig buite hierdie artikel. Die destydse Britse premier Harold Macmillan se toespraak in die parlement in 1960 oor die winde van verandering wat oor Afrika waai, is nouliks te harte geneem. Die jare 1960 tot 1990 was ons afgryslikste jare, maar tog hunker konserwatiewe mense steeds daarna. Ons kan beswaarlik die verlede heeltemal uit die oog verloor. Robert Vosloo, vooraanstaande teoloog en skrywer, herinner ons dat “nie alleenlik het ons ’n begrip van die verlede nie, maar die verlede het ook ’n greep op ons”. Die verlede is daarom nie bloot verlede tyd nie, maar is aktief teenwoordig in ons geheue en verbeelding; dit leef op ’n positiewe en negatiewe manier in ons liggame, denke en drome. Die verlede is inderdaad op ’n kragtige en komplekse wyse teenwoordig. Dit is tragies dat sommige opvoedkundiges selektief die verlede inspan. Wat Malan in 1934 bepleit het en wat daarna tot 1994 vermag is om die armblanke op vele terreine te rehabiliteer, moet ook dus aan die arm swart bevolking in die algemeen en die swart student in die besonder gegun word.

Die hoop onder Suid-Afrikaners beskaam nie

Maar die hoop en verwagtinge onder Suid-Afrikaners is nie heeltemal uitgewis nie. Ek is innerlik oortuig dat elke menslike uitdaging die vrug van sy eie menslike oplossing dra. Die groeiende belangstelling in die redelik onlangse studieterrein van kompleksiteitstudies wys dat Suid-Afrikaners nie voor uitdagings swig nie. In hierdie skrywe word uitdagings gerig aan al die rolspelers in hoër onderwys om met vernuwende denkpatrone en rasionele ideale die boot in die troebel waters te navigeer. ’n Mengsel van filosofie, teologie en kompleksiteitstudies maak deel uit van die kontoere waarbinne oor die huidige uitdagings gedink en na praktiese oplossings gesoek moet word.

Hoëronderwys-amptenare in die algemeen en dosente in die besonder vervul ’n omvattende spektrum sleutelrolle. In vele opsigte is hulle “ingenieurs” van voortdurende en volhoubare vernuwing, diepe kennis en borrellende hoop. Die suksesvolle bestuur van hoëronderwysinstellings is tot ’n groot mate afhanklik van denkleiers wat in oorleg met alle rolspelers (staat, burgerlike samelewing, ens) optree.

Dosente wat altoos dink hulle werksomskrywing behels net roetine-doseerwerk, -assessering en -studentbevordering of terughou, bevind hulle duidelik in die verkeerde beroep. Dosente doseer nie net nie. In die nouste is hulle die bestuurders van studente se lewe. Hulle dui rigting aan en stippel beroepsmoontlikhede aan studente uit. Hulle bring opstandige en verdwaalde studente tot emosionele, intellektuele en selfs geestelike rypheid en volwassenheid. Hulle verskaf die sleutels tot sukses wat studente later in hul lewens kan smaak. Hulle wakker hoop aan in studente wat geen toekomsdrome het nie. Meer nog, hulle verskaf die nodige lewensvaardighede vir die uitdagings van die 21ste eeu. Hulle daag konvensionele en uitgediende onderwysteorieë uit. Hulle weet hoe om vyandige student hulle vriende te maak. Hoe om studente se gebrekkige taalvermoë te verbeter. Hoe om studente te loof eerder as om in die klas te verneder. Hulle bewys dat dosente mag lief wees vir hul studente. Hulle onderriglokale adem die gees van menswaardigheid, warmte en beskerming, ’n atmosfeer waarin studente hulle “dom” vrae kan vra sonder om veroordeel te word. Hulle kantore is allermins ivoortorings waarbinne dosente teen lastige studente skuil. Inteendeel, hulle kantore is ruimtes waarbinne studente hulle diepste geheime kan kom deel en die advies van dosente kan vra. Geen geld sal ooit genoeg wees om dosente vir hulle onbaatsugtige diens te betaal nie.

Transformasie van universiteitspersoneel

Ek is diep besorg dat Wiechers nalaat om sy landgenote en veral hulle in die akademie tot ’n nuwe patriotisme te roep. Inteendeel, hy loof eerder die suksesse van ’n nuwe Afrikaanse instelling. Een afleiding is dat binne sodanige instelling “vreemdelinge” wat nie die Afrikaanse taal op sy hoogste vlak kan bemeester nie, geen of moeilik toelating sal kry. Volkshelde van die verlede mag weer hul regmatige plekke in die ruimtes van hierdie instellings inneem. Dat sodanige instellings moontlik geen swart dosent of swart student sal toelaat of aanstel nie, word buite rekening gelaat. Suid-Afrika kan dit beswaarlik bekostig. Dit is nie die pad van nasiebou en ’n inklusiewe en menswaardige samelewing nie. Gegewe die donker prentjie aan Suid-Afrikaanse universiteite, is ons by die kruispad. Ons het nou dringend denkleiers nodig; persone wat die joernalis Willem Pretorius “rebelle van gees” noem; individue wat vir universele menseregte en bindende waardes pleit. Diegene is mense van integriteit; mense met die vasberadenheid en vermoë om mislukkings in suksesse om te draai, om drome te verwesenlik, ongeag die uitdagings van omstandighede. Denkleiers wat gemiddelde studente tot groter akademiese hoogtes en prestasies sal inspireer.

Slot

Ek is dit eens met Wiechers dat hoër onderwys in Suid-Afrika inderdaad voor groot uitdagings staan, waarvan studente se eis van geen verhoging van studentegelde een van die kwellendste blyk te wees. Hierop het ek nie ’n antwoord nie. ’n Huis wat verdeeld is, kom vinnig tot ’n val. Suid-Afrika kan dit beswaarlik bekostig dat sy universiteite heeltemal oor die afgrond tuimel. Die gevolge is eenvoudig te senutergend om aan te dink. Ter wille van die toekoms van ons jeug en nageslag bepleit ek dat as vertrekpunt dit vir Suid-Afrikaanse universiteite noodsaaklik is om ons land se nasionale leuse van “eenheid in verskeidenheid” na te streef. Vir die swart student en swart dosent moet universiteite ruimtes bied waarbinne hulle erfenis, menswaardigheid en ideale op prys gestel word.

Een Bybelse les wat ons ter harte kan neem dateer uit die geskiedenis van die leier Gideon in die Ou Testament wat sy leër van 3 000 vegters tot 300 ingekort en steeds oorwinning behaal het. Die les van die storie is dat met min veel uitgerig kan word. Ons moet daarteen stry om alle hervormings aan universiteite totaal aan finansies te koppel.

  • Die skrywer is verbonde aan die Fakulteit Krygskunde, Universiteit Stellenbosch. Hy skryf hier in sy persoonlike hoedanigheid.

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 18

Kommentaar

  • Avatar
    Clement kloppers

    Raymond van Diemel slaan die spyker op die kop en gee Wiechers ’n nodige akademiese lesing oor hoe mense met togas behoort te dink en feite aan te wend. Hy slaag effektief daarin om Wiechers ordentlik sy plek te wys deur sy (Wiechers se) voorvaders se metodes te gebruik as voorbeeld van hoe arm studente opgehef kan word, nes Blankes gehelp was in Malan se tyd. Al sy argumente is weldeurdag en sal moeilik deur enige wysneus van watter aard ook al gerepudieer kan word. RvD val beslis in die nuwe klas rewolusionêre denkers wat op hoë vlak in SA benodig word.

  • Raymond oorvereenvoudig geheel-en-al! Soos Biskop Tutu van 'n "reënboognasie" gepraat het en soos wat in die voorvereistes tot die skryf van die tussentydse grondwet aanvaar is tydens die begin van die onderhandelinge tydens KODESA, bestaan Suid-Afrika uit ten minste elf taalgroepe/volke wat "as 'n kosbare erfenis-bousteen" beskou is en as sodanig vertroetel sou word SONDER OM (weer/steeds) RAS as norm en maatstaf te gebruik soos wat die vorige bedeling se pyn en seermaak die geval was (Ek het persoonlik die vier sensusse (Swart, Bruin, Blank en Indiër) wat daar was, met toestemming verander in EEN sensus (wat uit ~400,000 opnemersgebiede bestaan het) met enigste onderskeiding "TAAL" (waarvan daar 23 was en dit in oorleg met Thabo Mbeki en gen Viljoen, verminder na die elf grootste tale deur oa alle uitheemse tale weg te laat, behalwe Engels, asook bv Suid-Ndebele, Ndebele en Noord-Ndebele, een te maak as "Ndebele".
    Die Tswanas en Zoeloes het saam met die Volksfront 'n blok gevorm tydens die onderhandelinge en armdruk teen die NP/ANC-alliansie (wat ek spesifiek so noem omdat baie gekonkel is tussen daardie twee partye wat gedink het dat tussen hulle hul die ooreenkoms kon sluit wat hulle wou).
    Die Tswanas, Zoeloes en Boere-Afrikaners vd Volksfront het so min vertroue in CODESA gehad dat tot op 'n baie laat stadium, hulle beslis was dat die afbaken van "provinsies" nie op die tafel was nie maar eerder "State". Daar is toe ooreengekom op die afbakening van SPR'e (States, Provinces or Regions) sodat indien die drie tale Tswana, Zulu en Afrikaans, nie tevrede is met die afloop van die eindproduk nie, hulle kon wegbreek indien nodig.
    Die belangrikste aspek van "inbinding of deel wees" was egter die status en handhawing van die elf tale waarop Mbeki en Viljoen ooreengekom het met die heel belangrikste: die gelyke behandeling asook die nodige beskerming van die elf tale!
    Daarvan het niks gekom nie!
    Afrikaans, Tswana en Zulu ( ook die ander 7 tale) word oral afgetakel en uitgedruk deur die enigste "uitheemse taal" (volgens regter Johann Kriegler se uitspraak oor tale in die grondwet: enige taal wat in sy land van herkoms nie bedreig sal word deur daarop te diskrimineer in Suid-Afrika nie!
    Moet nié oorvereenvoudig nie! Marinus Wichers weet báie meer van wat agter die skerms gebeur het!
    Volgens my vertolking van die Akkoord tussen die ANC en Volksfront (onderteken voor buitelandse ambassades en VN) is die ooreenkoms met ten minste 630,000 Boere- en Afrikanerstemmers reeds verbreek en het hulle reeds die volste reg om hulle eie Afrikaanse gebied af te baken soos wat die grondwet voor voorsiening maak.
    Die onlangse gebeure op Afrikaanse Universiteite en ook skole, bevestig dit en die nuwe Afrikaanse universiteit, Akademia, is reeds 'n simptoom/reaksie van hierdie groot "siekte" in SA om te dink Engels is alles! Zulu en Tswana teenreaksie is die volgende.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Ongelukkig niks nuut nie en basies dieselfde argumente as al diegene wat van alles ontslae wil raak wat met Afrikaans en sy kultureel/historiese werklikhede ensomeer, te doen het. Dis gewoonlik net die redes van voorstanders hiervan wat verskil. Dog, as dit wat Raymond sê en voorstaan, sy eerlike en opregte behoefte is (en dit blyk so te wees) dan is dit in orde omdat dit sy demokratiese en persoonlike reg is om so te dink en te voel. As mens plaas hy 'n groter klem op die dinge waarvan hy melding maak en niemand kan vir hom sê hy moet of mag nie. Ons kan dan maar net vir mekaar sê dat ons hieroor verskil.
    Die vertrekpunt en einddoel is eenvoudig, naamlik dat die meerderheid studente swart (let wel, dis 'n getalle argument en nie taalverskeidenheid voorbeeld waarna Raymond self verwys nie) is en dat alles gevolglik dienooreenkomstig aangepas, ingerig en bestuur moet word. Oor Clement Kloppers se absurde verwysing na dr Malan wil mens jou egter nie uitspreek nie want hy het duidelik 'n ietwat van vreemde siening van die geskiedenis ... tog wel interessant dat op die meeste lewensterreine, nog nooit 'n eie soort "dr Malan" uit en vir die Swart gemeenskap(pe) opgestaan en gesê het genoeg is genoeg nie en dat dit tyd is dat hand aan die ploeg geslaan word om op eie stoom iets te skep wat aan die behoeftes van daardie of welke ander belangegroep ook al, voldoen nie.
    Nee, dis veel makliker en gerieflik om wat bestaan by wyse van getalle "oor te neem," eise te stel (soos om van die algehele karakter van wat is, ontslae te raak); te dreig met geweld as nie gehoor gegee word nie en dan in baie gevalle inderdaad daartoe oor te gaan. Lewelose standbeelde, kunsskatte soos skilderye en artefakte word gevandaliseer, in baie gevalle, en met reg, tot groot ontsteltenis van talle ander gematigde swart studente (Raymond verwys tereg na hulle in sy stuk) wie bloot daar is om hulleself akademies te bekwaam en nie onder allerlei dekmantels, wil ontstig en ontwrig nie. Ons sien ook dat indien die groep nie wil meedoen nie, viktimisering intree soos talle sal getuig.
    Feit is dat van die dinge wat Raymond aanspreek met reg aandag verdien. Moet egter nie die rol van "politieke agendas" en selfs 'haat" soos in onlangse uitsprake gehoor is, uit die oog verloor nie. Daar word na beide kante toe dinge gedoen wat, as mens mooi gaan kyk, op uitsluiting berus. Eenheid ten koste van verskeidenheid sowel as die omgekeerde bied nie standhoudende oplossings nie. Die huidige tendens is egter dat moeilik erkenning aan verskeidenheid behoeftes gegee word. En dit is eintlik waar oplossings gesoek moet word.
    Raymond se strewe om reg en geregtigheid vir swart studente na te streef en ook vir hulle die beste omstandighede te probeer skep waar hulle tuis voel, was en is gevolglik nie in dispuut nie. Die vraag is egter of al hierdie dinge moet geskied ten koste van Afrikaanse studente en dan sommer op die koop toe, ook die ander taalgroepe in ons land. Dis juis baie van die arm swart studente waarna Raymond self verwys wat uit tradisionele plattelandse gebiede kom en nie naastenby Engels magtig is nie, wat dikwels ook aan die kortste end trek. Die groter groep swartmense vir wie dit wel oor Engelse onderrig gaan (en ook onder hulle is daar verskille ... ) omdat hulle beter daarin kan presteer (verstaan Engels beter) verdien natuurlik aandag en moet aangespreek word omdat dit die regte ding is om te doen en vir geen ander rede nie.
    Diegene van ons wat Afrikaans belangrik ag en beywer vir moedertaal onderrig (en basiese respek vir dit wat daarmee saamgaan) wil dit NIE DOEN ten koste van al die dinge waarna Raymond verwys nie - en as daar diesulkes is, is dit net so verkeerd en afkeurenswaardig. Ons vra/eis bloot erkenning en begrip dat Afrikaans deel van 'n geheel oplossing sal wees. Mag ons nie ... en/of in watter opsig is dit verkeerd? En in hemelsnaam, moet net nie met die "dis onprakties" of "dis te duur" hierdie behoefte probeer nek omdraai nie.
    As tersiêre instellings bereid is om Afrikaans regmatig te erken en te akkommodeer as deel van 'n geheel-oplossing en daar's die nodige steun en hulp van regeringskant, en belangrik, die meerderheid mense self, is die stryd halfpad gewonne. Met dit, kan ons wat 'n premie plaas op taal, dit self verder vat in welke vorm 'n oplossing hom dan ook al mag en sal voordoen. Bly net weg met valse, moedswillige en gevaarlike beskuldigings dat wanneer Afrikaanses iets vir hulleself opeis, wil doen, beskerm of in stand hou, met rassisme te verwar of af te maak! Wêreldwyd is die geforseerde getalle maatstaf juis die verouderde standpunt en 'n uitgediende konsep. Suid-Afrika is gewoonlik so effens na die tyd om op te vang met sulke tendense. Dis veel beter om reeds nou al met net soveel aandag hierna te kyk as wat daar tyd en aandag spandeer word om die teendeel te doen.
    Ons is dit verskuldig om met 'n oop gemoed na mekaar te luister en wat my betref sal dit 'n veel beter oplossing wees wanneer groepe en mense voel hulle het bestaansreg, hulle behoort en dit wat as belangrik geag word, word erken en gerespekteer. Taal is verseker een hiervan.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Ek wil darem net byvoeg as dit dalk nie sterk genoeg deurkom nie, dat Raymond se stuk in die breë wel baie meriete het en dat daar 'n verskeidenheid standpunte en stellings is waarmee ek myself kan vereenselwig. My verskille handel hoofsaaklik oor Raymond se stelling "van beheptheid van Wiechers en lesers se stelling oor moedertaal onderrig." Miskien kan met gesprekke soos die nader aan mekaar beweeg word ...

  • Avatar
    Chris Viljoen

    Russel Botman se Pedagogie van hoop en die pad na nasiebou, asook die strewe na 'n inklusiewe en menswaardige samelewing by ons universiteite gaan nie in 'n eentalige Engelsmedium onderrigstelsel plaasvind nie. Immers moet dosente soos Norval dit stel ook Afrikaans en ander inheemse tale aanwend in die soeke na wat in die beste belang van die studente en nie die dosente is nie. Dit is wensdenkery dat meertaligheid tans bevorder sou word. Prof Sarah Howie van Tukkies het Maandag voor 900 skoolhoofde vertel dat 75%van alle leerlinge in gr 9 nie eens die basiese feite van fisiese wetenskappe herken nie. Ook is daar 'n kommerwekkende tendens dat SA se topskole ook al hoe swakker presteer. Dit is na my mening nie 'n onredelike versoek om hierdie leerders ten minste 'n kans te gee om beter te presteer deur nie net vol te hou met die mite dat Engels die enigste pad na sukses sal wees nie. Lees gerus die Pirls-studie oor jong kinders se leesvermoë. Hulle gaan uiteindelik hierdie universiteite wat Raymond in die vooruitsig stel, se studentekorps en dan ook hul verantwoordelikeid word.

  • Raymond van Diemel
    Raymond van Diemel

    My dank aan LitNet vir die publikasie van my beskeie "mening". Dank ook aan almal wat reageer het. Ek sal met onbevange gemoed julle insette lees. Mag ons skrywe deurgaans in die gees en strewe na opregte nasiebou staan en ons nader aan mekaar bring.

  • André Badenhorst
    André Badenhorst

    Ek het slegs paragraaf een gelees en daar is beduidend genoeg getuienis van 'n oordrewe kognitiewe vooroordeel waaraan ek myself nie verder wou blootstel nie. Daar is deesdae genoeg daarvan en die lewe is te kort daarvoor.

  • Avatar
    Gogo de Bruin

    Ek het lekker gelees aan hierdie optimistiese, welmenende artikel.
    Ek werk twee maal per week baie lekker by 'n swart laerskool waar ek 'n lees- en wiskundeprojek bedryf en wil uit daardie perspektief reageer op jou kritiek op prof Wiechers se kommentaar oor swart studente se agtergrond - wat nie veel meer veralgemenend is as jou waarneming dat (alle) wit studente so naatloos inpas op kampus nie - en jou paragraaf: Waar is ons ingenieurs van hoop en kennis?
    Onlangs het ek ingeskryf vir 'n Coursera-kursus van UK oor Social innovation. Baie bewus van die onderwysdilemma wat ek voor my oë sien afspeel, het ek gedink hier kan ek saampraat. Op dag een moes ons iets skryf onder die opskrif "Your problem". Maklik: die bewyse is legio veral as mens dit aan die geskiedenis en swak sosio-ekonomiese toestande koppel. Maar terwyl ek dit opskryf, besef ek dit help net mooi niks as dit MY probleem is nie.
    Die ouers van hierdie kinders, bygesê die meeste van hulle kom uit twee informele nedersettings, dink dis wonderlik dat die kinders skoolgaan. Dit kos hulle niks, die kinders word gevoed, geklee en aangery. Dis myle beter as hulle eie slegte ervaring en dus weet hulle ook nie eintlik van ouerbetrokkenheid by die welsyn van ‘n skool nie.
    Die onderwysers dink klaarblyklik ook alles is dooddollies. Hulle swoeg om deur die leerplan te kom met oorvol klasse. Maar om half twee elke dag verdwyn almal net so. Ek sien nooit iemand met skoolboeke wat tuis gemerk gaan word nie, hulpmiddele bestaan effektief nie ens. ens. Ek sê lewer niks oor dissipline want die hoor ek is ook ’n soort kulturele verskil waaroor witmense niks te sê het. Ek is gewoond aan Afro’s, pruike, braids, oorbelle, ringe, papiere wat rondgegooi word en baie onversorgde kinders. Ek lei dus af die onderwysers het ook só of slegter skoolgegaan en het weinig blootstelling aan ander skole.
    Ek hou my hart vas, veral vir die ongeveer 20 besonder intelligente en oulike kinders in die klasse met wie ek werk. As hulle boonop nog na die vanselfsprekende hoërskool gaan, is hulle by voorbaat gedoem tot ’n mindere toekoms. Moet ek nie liewer geld soek om hulle in ander skole te kry nie?
    Dus, om by jou vraag Waar is ons ingenieurs van hoop en kennis? uit te kom: ek dink jy het dit self beantwoord. Dr. Malan, die wit Afrikaanse premier het ingesien dat die wit Afrikaanse armblankes deur die ander Afrikaners opgehelp moet word en skares mense gemobiliseer om daaraan deel te neem. Hy het nie sy tyd gemors met weeklagte teen die vorige bedeling nie. My ma was self een van daardie onderwysers wat in ‘n verarmde gemeenskap skoolgehou het en ons kinders het min van haar gesien. Trouens, ons moes help om hulpmiddele en leergoed te maak. Tot vandag gooi ek nie ’n enkele bakkie, boksie, roomysstokkie, tydskrif of mooi papier weg nie want mens kan dit so goed gebruik.
    Ek dink dus dat hierdie ingenieurs uit die swart gemeenskap sal moet kom. Hulle beheer die hulpbronne maar ek sien nog nie dat hulle genoeg mense besiel nie. Ek ken persoonlik baie wit mense wat met graagte hulle gewig agter so ‘n beweging sal gooi. Dis jammer dat prof Botman se Pedagogiek van hoop nie die vlerke gekry het wat dit verdien het nie.

  • Eregraad in Maart 2016 aan Prof Daniel Kahneman ter erkenning van sy gedagteprikkelende navorsing oor "menslike reaksie op onsekerheid"!

    Dit is waar ons tans, myns insiens, tydelik met ons rug teen die muur is. Ken glad nie Prof Kahneman se boeiende studieveld nie, maar ons geskiedenis bewys ons is wenners.

  • Hierdie is inderdaad ’n situasie wat baie kommer ontwaak. Verskoon my Afrikaans om mee te begin. Ek weet persies hoe dit voel om aan ’n korter ent te trek as studente wie ’n twee-uurvraestel in een uur 15min skryf, en jy vir een weet dat dit werklik drie ure vereis om al die nodige kennis te interpreteer. Jou tyd maak twee ure en jy weet jy het jou beste gegee, maar jy maak dit nie, een uur 15min was dalk al wat ek ook moes gee. Nie veel uitbreiding is nodig nie, dalk was dit ’n toets vir die vinnigste tou opgooi en nie werklik vir kennis nie.

  • Avatar
    Johann Basson

    Lesers word daaraan herinner dat die naskoolse studerende jeug in daardie fase van hul lewens is waar baie van hulle haas alles bevraagteken en reken hulle het die antwoorde en oplossings op haas alle lewensvrae en lewensprobleme. En die maklike beskikbaarheid van die Internet en slimfone het tot gevolg dat byna almal ontdek het dat hulle ook 'n eie stem en eie menings het wat hulle in enkele minute wêreldwyd kan versend en met ander deel. Daar is 'n ontploffing van aktiviste op bykans elke terrein en onderwerp. En die politieke opportuniste en kriminele met hul verskuilde motiewe kapitaliseer natuurlik op hierdie driftige lewensfase.

    Hoe kan hierdie energie sinvol en opbouend benut word? Dit is die groot vraag. Dit gaan ware leierskap en kreatiwiteit verg.

  • Avatar
    Abraham Van Der Byl

    Die skrywer se insae word hoogs waardeer. Baie dankie vir 'n insiggewende artikel.

  • Jaja, sal graag die transkrip wil nagaan om die kulturele leiers van groepe met hul diverse ideologie oor alumni. Sodat moedertaal onderrig geïmplementeer kan word met die beste gehalte ondersteuning van die bestuur. As ek kan verstaan hoe hul universiteite benader het met die doel om transformasie en bevordering van kulturele erfenis vir transformasie te bespreek ... Ja, sekerlik!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top