"Suid-Afrika: ’n Onderbroke kadens" deur Willemien Heyns

  • 0

Suid-Afrika: ’n Onderbroke kadens

1.

1994: Die einde van segregasie, die vooruitsig van ’n Reënboognasie
Invictus 2010: ’n Terugblik op hierdie tyd, ’n kontras met hoe dinge nou lyk
Maar daar is Suid-Afrikaners wat die koerante lees, met skrefies oë,
en miskyk wat hul vrees,
en aanhou glo dat daar tog eendag ’n “happy ending” gaan wees.
Hierdie mense leef in volmaakte kadense.

2.

Disgrace 2009: ’n Siniese uitkyk op ons land se leuse,
Vele vrae word gevra:
“Sal ons eendag vrywillig ’n verkragter se kinders dra?”
Dit laat mense apaties teenoor politiek, baie vlug, min kom terug,
want hul is vas oortuig die onenigheid gaan uiteindelik handuit ruk,
want Suid-Afrika het gefaal, Suid-Afrika het gepluk.
Hierdie mense klink soos onvolmaakte kadense.

3.

Ek kyk deur my voorruit en lees op die billboard “SA draai terug na God”,
Ons moet Hom vertrou om misdaad te stop …?
Die duiwel dra die skuldelas, en die res kan hul hande in onskuld was.
Maar het ons dan geen beheer, geen plig om vir onsself te keer?
Hierdie groep mense glo vas in plagale kadense.

4.

Iewers tussen in, is ’n spesifieke groep se akkoorde omgekeer
Hierdie mense voel in twee geskeur:
“Moet ons bly? Moet ons gaan?” … “Moet ek bly? Moet ek gaan?”
Dis die helder kleur van die majeur,
en die seer in die mineur,
wat in ons land se onderbroke toonkleur resoneer.

Suid-Afrika is vandag ’n onderbroke kadens, want wie kan voorspel of die
progressie van die akkoorde gaan oplos?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top