Suid-Afrika

  • 10

Foto: Canva.com

Suid-Afrika

Suid-Afrika – ek het hoog bo vlaktes oor jou gesweef 
Oor berge en riviere en oseane 
Stede vol rook en roet 
Berge met pieke vol sneeu 
Landerye, skilferdroog 
Boere wat huil langs bankbestuurders 
Hawens met groot skepe en dik toeriste 
Ek het die plekke gesien waar mans doelloos sit en wag vir werk 
Maer kinders by verkeersligte 
Meswonde, geweerskote, hospitale, ambulanse, motorongelukke 
Kinderlyke en vroue wat soos lappoppe verkrag word 
Sopkombuise met lang rye 
Strate en stegies vol kots en urine 
Skole onder bome en dooies in oorvol long drops 
Ek het die vetblink pense en blinkswart motors van leiers gesien 
Hul minagtende blik op ’n vernietigde land 
Waar hulle agter hoë mure sit met KFC en Nando’s 
Die reuk van olierige vleis druppend met drillerige welvaart 
Riviere vol bloed stroom deur die strate 
Ek het die reuk van die krematorium gekry 
Jy is ’n ou man in ’n donker kamer 
Waarvan die organe een ná die ander ingee 
Die ontlasting stroom by jou uit en vlek die lakens 
Jy stink en groen brommers sit reeds en zoem om jou oop mond 
Land van armoede en dood 
Ek draai my rug op jou soos iemand wat weet 
Jy is vol aansteeklike siektes 
Jou doodsroggel is vir my leersaam, selfs mooi, soos 
Swane wat vir die laaste keer sing

  • 10

Kommentaar

  • Vintage Herman Lategan. Droewelik waar, ritmies ontgogelend strompelend stotterend en helaas ... 'n beeldskone lem; geslyp vir die laaste avondmaal.

  • Beste Herman, koop vir jou 'n rugsak, tent en 'n slaapsak, en gaan op 'n staptoer hier in die Drakensberge. Na so 'n maand se gestappery skryf jy weer vir ons 'n gedig.
    Groetnis

  • Herman Lategan

    Angus, dit klink na 'n plan. Maar wie gaan my salaris vir daardie maand betaal? Dit klink wel na iets waarvoor ek kan spaar en oor skryf. Mooi bly.

  • Marko van der Colff

    Herman, dis ’n sterk gedig, treffend. Met, soos Daniël Hugo sê, ’n kragtige slot. Dankie daarvoor.

  • Elsabe Pepler

    Hartverskeurend droef; ontnugterend mooi oor die eenvoud. Sjoe, eina. Dié bitterheid sny soos ’n lem deur ons almal. Behalwe in diegene in die groot swart motors met blou ligte. Afrikaans sing seer ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top