Sue Williamson se South African Art Now steun swaar op politieke geskiedenis

  • 0

Title: South African Art Now
Author: Sue Williamson
ISBN: 9780061343513
Publisher: HarperCollins
Publication date: 2009

Klik hier om South African Art Now by Exclusive Books te bestel.

Die koffietafelboek word gekenmerk as ’n glanspublikasie met groot foto’s, ’n paar pittige feite en ’n taamlik groot formaat. Maar dit is nie noodwendig die plek waar mens sal begin soek na diepgaande inligting of hoop om deurdagte vakkennis op te doen nie. Sue Williamson se aanslag, joernalistieke vaardigheid en sensitiwiteit rondom die verskillende kunstenaars se beweegredes en konteks vir hulle werk is egter verfrissend. Die meegaande teks en die fotodokumentasie van die kunstenaars se werk is uitgebreid en pakkend.

Die boek is opgedeel in drie dele en dek veertig jaar van kunsgeskiedenis. Die eerste gedeelte is getiteld "The Last Century" en kyk na anti-apartheid- en onmiddellike post-1994-verkiesing-kuns. Die bykans lewensgrootte-ets getiteld Casspirs full of love deur William Kentridge is hier afgedruk. Die ses afgekapte koppe wat in ’n kas ingedruk is, ontsenu mens steeds en bly staan as ’n aanklag teen alle gruweldade wat nog ooit in die naam van ’n ideologie gepleeg is. Die raaiselagtige metaforiese beeldhouwerk van Jane Alexander getiteld The Butcher Boys, bestaande uit ’n trits monsters wat doodluiters op ’n bankie sit, is ook hier. Beroof van hulle menslikheid is hierdie figure steeds ’n stille aantyging teen die apartheidsregime. Langs dit is die triptiek deur Paul Stopforth, getiteld The Interrogators, wat portretstudies is van drie van die nege polisiemanne wat aangekla was omdat hulle Steve Biko doodgeslaan het. Die skildery word bymekaargehou deur die beeld van ’n spokerige, leë stoel wat bo-oor die drie doeke geskilder is. Penny Siopis, Sam Nhlengethwa, Cecil Skotnes, Marlene Dumas, Santu Mofokeng, Kendell Geers en verskeie ander voltooi hierdie afdeling.

Die laaste twee derdes van die boek ressorteer onder die versameltitel "The New Millennium", met ’n voorwoord deur RoseLee (stet) Goldberg. Hierin word die werke van verskeie kunstenaars afgedruk in kategorieë soos die soeke na identiteit, liefde en gender in ’n tyd van VIGS, kulturele tradisies, humor, beeldhouers, skilders, installasie- en performance-kunstenaars en fotograwe.

In hierdie afdeling is verskeie ligpunte, onder andere Zanele Muholi se foto’s van swart lesbiërs. Daar is ook Nicholas Hlobo se uitmuntende Ndiyafuna, wat verwys na mense wat uit asblikke leef; terselfdertyd is die figuur wat vooroor buk, ingesluk deur die gemors waarin dit grou. Die vooroorgebukte man se denim is laag afgetrek oor sy heupe en dit maak sy liggaamshouding seksueel uitlokkend en wulps, terwyl die rubberbinnebande waarvan hy en die gemors gemaak is, herinner aan kondoom en vel. Daar is ook Walter Oltmann se draadwerk, Claudette Schreuder se beeldhouwerke, Brett Murray se tong-in-die-kies Crocodile Tears, Conrad Botes se Autobiographer (’n klein mannetjie wat op ’n stoel staan terwyl hy homself beskilder in Botes se tekenprentstyl), Anton Kannemeyer se Black Dicks, Wim Botha se Mieliepap Pietá, Willem Boshoff se Blind Alphabet, Johannes Phokela se verstommende Fall of the Damned, Ruth Sacks se lugskrif Don’t Panic, James Webb se dagbed met geblikte psigoterapeutiese sessies getiteld Autohagiography, Andrew Putter se asemrowende Secretly I will love you more (waar Maria Della Quellerie vir Krotoa ’n sensitiewe wiegeliedjie in Khoi sing), Pieter Hugo en Bridget Baker se fotografie, en laastens Lawrence Lemaoana se opstuur van rugby en ander georganiseerde nasieboupraktyke. Al hierdie kunstenaars verdien om hier te wees en dit maak die boek ’n heerlike lees- en naslaanbron.

Met ’n voorwoord deur Nadine Gordimer, ’n waardering deur Elton John (ja, hy van "Candle in the Wind" en voorste versamelaar van eietydse fotografie) en ’n opstel deur Okwui Enwezor word die boek reeds deur groot spelers onderskryf en vir die internasionale mark verpak. Dit is seker ook ten dele waarom die voor- en agterbladkuns gemaak is deur kunstenaars wat, ironies genoeg, nie meer in Suid-Afrika woon nie. Die voorbladfoto is ’n portretskildery van ’n vrou wie se etnisiteit doelbewus vaag is deur Mustafa Maluka, wat in Berlyn woonagtig is, en die agterblad is ’n afdruk van ’n portret van Moshekwa Langa deur Marlene Dumas. Beide woon in Amsterdam.

Die boek as geheel is ’n goeie kennismaking met Suid-Afrikaanse kuns en die tendense binne daardie milieu. Maar moenie vergeet dat Williamson bekend staan as anti-apartheidsaktivis en hoogs gerespekteerde resistance-kunstenaar nie. Pamela Allara sê hier in haar resensie dat die boek “gekurateer” is omdat Williamson moes besluit watter kunstenaars in- en uitgesluit sou word. Hierdie moeilike besluite word natuurlik beïnvloed deur die “kurator” se eie genre van kunsmaak, en die boek steun swaar op die politieke geskiedenis van Suid-Afrika en ook op verpolitiseerde kunstenaars. In die kunswêreld word die publikasie hoog aangeskryf en die enigste kritiek kom van die jonger generasie wat na die gepubliseerde kunstenaars verwys as "the ususal suspects"! Dit is ook verblydend dat hierdie boek nou die lig gesien het met alles wat dit boekstaaf en dat ons nou hopelik kan uitsien na nuwe publikasies wat van apartheid, naeltjiekykery en stootskrapers bevry is.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top