Daar is twee aspekte van evolusie deur middel van natuurlike seleksie wat dikwels swak verstaan word en dan word wanvoorstellings vir strooipoppe voorgehou. Die eerste is dat die hele proses lukraak sou plaasvind; die ander dat een spesie eensklaps aan `n ander geboorte sou gee. Hierdie nosies is dwalings. Ek sit dit eenvoudig uiteen sonder verwysings na genetika.
Lukrake variasie, seleksie en skeiding
Vir die evolusie van verskillende rasse is daar drie elemente nodig. Die eerste hiervan is lukrake variasie. Met enkele uitsonderings, is die afstammelinge van dieselfde ouerpaar nie identies nie. Hierdie lukrake variasie kom algemeen in die natuur voor en kan maklik waargeneem word.
Die volgende stap in die proses is seleksie. Met kunsmatige seleksie kan ons byvoorbeeld uit verskeie werpsels hondjies telkens dié met die langste snoetjies uitsoek. Deur dan onderling slegs met hulle te teel en die proses vir `n paar geslagte te herhaal, kan ons `n hondras teel wat langer snoete het. Die groot verskeidenheid hondrasse, almal behorende tot een spesie, wat sodoende kunsmatig deur die mens geteel is, wys hoe verstommend doeltreffend hierdie poses oor die lang termyn kan wees.
Dit is belangrik dat ons nou die honde met die langer snoete skei van die ander honde sodat hulle nie met mekaar teel nie, anders vind verbastering plaas en sal ons hondras se unieke eienskappe binne `n paar geslagte weer verdwyn.
Ons het reeds gesien dat lukrake variasie algemeen in die natuur voorkom. Wat van seleksie? Die antwoord is ja, dit kom in die natuur ook voor: dit is juis die onderskeidende waarneming wat Darwin gemaak het. In die natuur bereik alle jongelinge nie volwassenheid nie – daar is `n stryd om oorlewing. Die jongelinge wat die beste aangepas is staan `n beter kans om volwassenheid te bereik en dan weer `n nageslag daar te laat. Net soos wat ons deur kunsmatige seleksie die hondjies met sekere eienskappe `n voorsprong gegee het, doen die natuur dit deur daardie jongelinge uit te sonder wat die beste aangepas is vir oorlewing. (“Survival of the fittest” moet vertaal word as oorlewing van die mees geskikte of bes aangepaste, nie oorlewing van die fiksste nie.) Hierdie proses verseker dat lewe by veranderende klimaatstoestande of habitat kan aanpas. Let daarop dat hierdie proses nie lukraak is nie; dit word gedryf deur die stryd om oorlewing.
Onder eenslagtige spesies vind daar ook dikwels seksuele seleksie plaas wat sekere eienskappe kan bevorder.
Die derde element, skeiding, kom ook in die natuur voor. Voorbeelde hiervan sluit in migrasie, tektoniese verskuiwing en veranderinge in habitat. Dit is dus moontlik vir `n populasie om so te verdeel dat daar permanente skeiding kom en twee afsonderlike populasies tot stand kom. Dit staan bekend as “biologiese eilande”, wat nie beperk is tot land wat deur water omring is nie.
Spesiasie
Kan twee populasies tot so `n mate diversifiseer dat hulle in twee verskillende spesies vurk? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons bietjie kyk na die indeling van lewensvorme, oftewel taksonomie. Die algemene norm vir die plante- en diereryk waarvolgens ons besluit of twee lewensvorme aan dieselfde spesie of twee verskillende spesies behoort hou verband met hulle vermoë om volhoubaar voort te plant. Om aan dieselfde spesie te behoort moet hulle (a) kan paar en afstammelinge daar stel en (b) daardie afstammelinge moet op hulle beurt kan voortplant. Om dit eenvoudig te stel: hulle moet kan kleinkinders hê. Kruis jy die perd en die donkie, dan kry jy `n muil. Die muil is egter steriel. Die perd en die donkie kan dus nie gemeenskaplike kleinkinders hê nie en word derhalwe as twee verskillende spesies geklassifiseer.
Die Deense hond en die Yorkshire terriër kan nie teel nie. Hulle word egter steeds as dieselfde spesie beskou, want daar bestaan hondrasse van intermediêre groottes wat wel onderling kan teel en die twee rasse verbind. Sou ons alle tuinmure wegneem en honde vrylik kon omgang hê, dan sou die onderskeid tussen die hondrasse deur verbastering vervaag. Sou ons egter alle intermediêre hondrasse uitwis en slegs Deense honde en Yorkshire terriërs behou, dan sou verbastering nie meer moontlik wees nie en sou ons hulle volgens die reëls van taksonomie as twee afsonderlike spesies moes klassifiseer. Dan het ons dus kunsmatig spesiasie veroorsaak.
Dit is nou nie moeilik om in te sien nie dat spesiasie op soortgelyke wyse in die natuur ook kan voorkom. Waar `n populasie verdeel geraak het, kan stelselmatige evolusie die onderskeie groepe tot so `n mate laat aanpas by verskillende omgewings dat hulle later nie meer sal kan verbaster indien hulle weer saamgevoeg word nie. Nie net bied die geografiese verspreiding van spesies sterk ondersteunende getuienis dat hierdie proses in die verlede plaasgevind het nie, maar ook dat dit in die hede aan die gang is.
Charl le Roux


Kommentaar
Charl
Hello Charl,
Charl: 'n Goeie opsomming. Die verbasende ding omtrent Darwin is hoe eenvoudig sy teorie eintlik is - die meeste navorsing wat in die 150 jaar ná die publikasie van Origin of Species gedoen is, was op 'n manier eintlik blote voetnota's tot Darwin se eie insigte, met een uitsondering.
Goeie plasing. Kan byvoeg dat seksuele seleksie (naas natuurlike seleksie) 'n baie kragtige agent is in die evolusie van lewe.
Perdebytjie, Wouter, Brian & Koos,
Dankie vir die komplimente en verdere toeligting.
Charl.
Van my kant af jy is welkom...
yip, "You cannot convince a believer of anything for their belief is not based on evidence. It is based on a deep-seated need to believe"- Carl Sagan