julle kon moers lekker jaaif, jongtyd al,
oulik, duid’lik gesait, hoe Elvis, Peter Tosh,
als kwytraak, Muhammad Ali, Malcolm X,
hoe dr. Martin Luther King, droomsoeker,
o, ja, Mohandas Mahatma Gandhi, guru,
Ruth First, Shirley Gunn, Frene Ginwala,
kleintyd al ingeseën’s, vir Oorwinning,
vir stryd van Waarheid versus Leuen,
van meerderheid versus minderheid,
van verlossing, uit kapitaalslawerny,
uit apartheidstruktuurgeweld uit, eish,
magsjagses soos gidslose missiele,
rokke hoger, broeke lager, olie op,
Millennium Drie vir regte rewolusie,
vir enigiemand wat as rewolusionêr,
as vryheidstrijder, Lewe Een wil uit
maak Mens aaneen oorlog, versus ego, Eie, in Mens,
“Duiwelspiek”-sindromaties Self destruktief t’verniel,
stuk vir stuk, Gewete, Gees en al, aan heer, sjatan,
aan ultra-verleidelik verleier, supersjatan, magsikoon,
submissief onderworpe, beskermingsgesind, inkennig,
vervuld met boosheid wat nie sommer gou gat uit,
Mens selfs Mens Self met aardverwarming omhul
moet Homo Sapiens pleit: “Uit! “Duiwelspiek”, uit!”
úít Tafel van God, Heilige Berg, histories, foto-mooi,
úít //Hoerikwaggo, sosio-geo-topografie, Moederstad,
úít pleknaamboek se plekaanduiding, indekswyser,
úít neo-mentaliteit van sjatansaanbidder verwyder
vir altyd, vir ewig, Mens weer terug, werklik waardig,
kan verlustig in medemenslikheid, God se Reg, waar,
waarvoor strijdvegters so lank moes ly en stry, baklei,
gat als uiteind’lik, eindresultaatlik, mos oor Oorlewing,
vannie sterkes, sterkste vannie sterkstes, Jenaïsties,
selfs vir “Duiwelspiek”-dissipel heel eenvoudig, duid’lik
Jacobus Faasen

