
Foto: Canva
Strandmoles
“O wee, o wee,” skree die weduwee Viljee,
“hoe durf jy so wreed optree?
Jou haathondige kanienofoob,
Kan mens nie meer in vrede loop?”
Weer loods haar verwoede kolliehond
’n aanval om te vermink-verwond;
My kelp-karwats tref hom in sy kollie-bek,
byt hy weer maak ek hom vrek,
wyl die vrou in swart geklee
die f-woord vir my skree
roep ek “jou leibandlose brak
het boonop op die strand gekak,
jy weier om sy bollie op te tel,
dit weet jy goed en wel.”
“Brak?!” tier sy voort,
“jy gee aanstoot met dié onkiese woord.
Só laat ek my Sasha nie belaster,
jou Corgi lyk bra uitgebaster!
Ek’s ’n kerkvrou en in rou,
het jy g’n respek vir ’n weduvrou?
Ek wandel stil-stemmig langs die see
met Sasha hoog-geteel gedwee.
Jou wandaad gaan jy berou,
ek’s ’n ryk, gesiene vrou.
Ek laat my Sasha nie onteer,
môre gaan ek prosedeer.”
Haar bullebrak storm weer nader,
my sandkartets maak sy oë water.
Pepersproeiend val sy aan
tot haar eie oë traan,
erg misreken met die wind,
selfs Sasha is nou verblind.
In haar handsak aan die tas
net toe ek wil verkas,
.38 Special bewe in haar hand,
oorgehaal om los te brand.
My Corgi tref vir ’vrou Viljee,
die rewolwer spat tot in die see, die see.
Ons vlug vervaard want o wee, o wee,
ons vrees die weduwee Viljee.


Kommentaar
Mal hieroor!
Wat 'n fees was dít nou nie gewees! Ek kan sommer aanvoel hier is waarheid in díe gedig. O wee!!
Dis baie goed.
Uitstekende tong-in-die-kies-gedig! Die arme Vrou Viljee. 😂
O, lekker! Skryf nog.
Baie dankie, Reinet! - Hondsdol-mal? 😜
Baie dankie, Riette. Veral komende van 'n skrywer van jou formaat.
Hi, Hannes, ons het jou skiet geniet.
Uitstekend, Hannes
O wonderlike klein woordemovie.