Titel: Stoffel in Afrika
Skrywer: Christiaan Bakkes
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151290
Prys: R160
Toe ek Christiaan Bakkes se Stoffel in Afrika oopslaan, het ek presies geweet wat om te verwag. Soos die stofomslag van die boek aandui, is dit na alles ’n bundel “wildernisverhale”. En een van die opvallende kenmerke van ’n wildernisverhaal is – gewoonlik – die held. Die manlike held. ’n Man wat deur die wildernis uitgedaag word, maar wat óf met uitsonderlike uithouvermoë, wil en geweer óf met merkwaardige kennis van veld, dier en plant hierdie wildernis nie alleen oorleef nie, maar ook oorwin en tem.
Die inleidingsparagraaf tot Bakkes se vyfde Stoffel-boek het my ook nie teleurgestel nie: “Baie dinge flits deur jou gedagtes voor jy ’n man skiet,” begin Stoffel in “Oomblik van waarheid”.
“Daardie sekonde voor jy die sneller trek. Hy is in die gaatjievisier ... Jy weet jy het die voordeel ... Meer as alles weet jy dit is jou reg.”
Nou moet ek bely dat ek ’n volslae pasifis is. Só volslae dat selfs skaak vir my aan gewelddadigheid grens. Ek hou nie van oorlog nie en ek hou nie van gewere nie. Die minste van alles hou ek daarvan as iemand weet dat hy ’n reg het, want die oomblik wat iemand dít glo, begin hy ook glo dat hy reg ís. En aan die basis van die meeste oorloë en ellendes in die wêreld is mense wat glo dat hulle reg ís en daarom ’n reg hét. Meestal om ander wesens dood te maak. Die meeste aansprake op ’n reg is dus bloot verkéérd.
Hiervan was ek heeltemal oortuig ... totdat ek saam met Stoffel voor die sewende slagoffer in die Caprivi te staan gekom het. In my skoon kamer, in my veilige bed, moes ek skielik waai om die brommers uit my oë en van my gesig af weg te hou. Ek moes sluk teen die walging aan die reuk van die dood. En ek moes die trane afvee wat letterlik gespuit het by die aanskoue van die onwaardigheid van ’n waardige dier se wrede dood.
En ek kon Stoffel se seer voel. Ek kon sy haat voel. Soos ek saam met hom die jagtog aangepak het, saam met hom die spanning van die lang wag moes deurmaak, het ek skielik geweet: ék was verkeerd. Dit ís oorlog hierdie. Nie net syne nie, maar ook mýne. Soos waarskynlik elke ander leser wat hy met hom gaan meeneem op hierdie reis, het ek saam met hom aanvaar dat hierdie lewe en dood is. Stoffel het nie net die rég nie; hy het ’n plíg ... Sodat, toe Stoffel huiwer om te skiet, ek geweet het: sit nóú ’n geweer in my hand, en ék skiet elke laaste een van hierdie uitvaagsels dood.
Dít is die krag van Bakkes se Stoffel: hy plaas jou nie net fisiek nie, maar ook emosioneel op die presiese plek waar hy is – in sy oortuiginge, maar ook in sy vertwyfelinge. Sy Afrika is nie net ’n wildernis nie; sy is ’n donker skoonheid wat verkrag word deur nie net wildstropers nie, maar ook en veral die “beskawing”. Die skoonheid van hierdie wilde vasteland kom na vore in Bakkes se gestroopte skryfstyl, waaruit skielike liriese en metaforiese beskrywings van die klanke en kleure en reuke van hierdie wilde vasteland jou met die dodelike presisie van ’n koeël uit die geweer van ’n knap jagter tref.
Agter sy pretensielose vertellinge is geen tradisionele held nie. ’n Tradisionele held twyfel selde oor wat absoluut reg en absoluut verkeerd is. Maar die wildernis laat Stoffel twyfel. Watter tipe held hy ook al in sy vorige eskapades was, in Stoffel in Afrika raak hy die verteenwoordiger van die menslike spesie. Daardie wese wat op sy noodlottige evolusionêre tog reeds alles van die wildernis uitgewis het op elke ander kontinent behalwe Afrika.
Nog nie. Die paaie wat Bakkes sy leser laat reis, wys egter hoe broos die wildernis teen die aanslag van die mens is. Die krag van Stoffel lê daarin dat hy besef dat ook sý lewenswyse en -keuses op subtiele wyse die probleem dieper aanspreek as slegs die ooglopend vernietigende strooptogte van Afrika se wilddiewe. Die reeks bedrieglik eenvoudige verhale waarin hy oor sy en sy vrou se troeteldiere skryf, vermaak nie net nie. Dit bring by hom en sy leser die wete dat daardie wet waarteen Paulus gewaarsku het – naamlik dat selfs as jy die goeie wil doen, die kwaad reeds aanwesig is – soos ’n vloek op ons spesie rus. Wanneer Stoffel ’n pasgebore, weggooi-gemsbokkie op die Giribes-vlaktes optel en saam met sy vrou hans grootmaak, kom sy deernis hom duur te staan. Nie net vir hom en sy geliefdes nie, maar byna ook vir die luiperd wat – dalk – deur die gemsbok se teenwoordigheid na die toeristekamp gelok word.
Van sy beste verhale speel af in sy “tuiste” in die woestyn, saam met sy vrou en hulle troeteldiere. Van sy mooistes – in elk geval vir my – is egter sy oerwoudverhale. Leipoldt het nie verniet geglo nie dat die woestyn die plek is vir die kluisenaar maar die oerwoud die aangewese plek vir die denker en digter. As Jung reg was en die oerwoud die kollektiewe onderbewussyn van die mensdom verteenwoordig, vergewe ek hom dat van sy oerwoudverhale nooit heeltemal bevredig nie: hier voel jy hoe iets besig is om in die “stomende lowerwoud” van Stoffel se onderbewussyn te broei. Ek voorspel ’n volgende boek uit Bakkes se pen: Stoffel in die Oerwoud.
Stoffel in Afrika is nie ’n skatkis opgehoop met ’n mengelmoes juwele nie. Tussen die gestroopte eenvoud van sy taal glim die pêrels eerder met daardie kwaliteit wat elke skaars edelsteen besit: skaarste.
Die bundel sou egter baat gevind het by strenger keuring. Stoffel mag geïnteresseerd wees in en lojaal wees aan die geskiedenis van sy voorouers, maar die stories oor die Anglo-Boereoorlog word nooit sy eie in dieselfde mate as die woestyn- en oerwoudverhale nie. ’n Slimmer opeenvolging van verhale sou ook tot die algemene storielyn kon bydra. Die boek begin, met “Oomblik van waarheid”, by die bedreiging van die Caprivi (simbolies van Afrika se wildernis) deur wilddiewe en ivoorstropers – ’n slim storie om mee te begin, gegee die duidelike tema van die bundel. “Mosambiek”, wat nêrens ten volle voldoen aan die belofte wat dit aanvanklik getoon het nie, moes nie die tweede storie in die boek gewees het nie. En alhoewel “Herstel” ’n pragtige verhaal is, sou “Malombe-pan” beter gewerk het as die laaste in die boek. In hierdie verhaal kom Stoffel opnuut op ’n spoor van vernietiging af. Waar hy in “Oomblik van waarheid” die beendere van swartrenosters en olifante moes trotseer, kom hy in “Malombe-pan” af op die blink skelette van die kragtorings wat deur die swaar voetspoor van “vooruitgang” agtergelaat word. Die perfekte afsluiting vir hierdie boek, wat ten diepste handel oor Homo nie-altyd-so-sapiens-nie in Afrika.