Stipstaar deur Gerard Scholtz: ’n resensie

  • 2

Stipstaar
Gerard Scholtz

Rooi-Els: Fluisterbos
Prys: R320 + posgeld
Bestel by fluisterbos@gmail.com

As jy eers eenmaal deurmekaargeraak het met die haikoe (of haiku), sien ’n mens hulle dikwels raak: die versmakers wat, sonder dat hulle besef, met hulle vingers die lettergrepe tel: 5-7-5.

Op die agterblad van die opvallende rooi Stipstaar deur Gerard Scholtz bevestig hy iets hiervan: “5-7-5 is die klankritmes van ’n haiku wat ek op my vingers trommel wanneer ek op dag- of nagreis is. Daardie oomblik wanneer skoonheid, gedagtes, woorde, of ’n ou versreël, onverwags opduik en oopgaan.”

Die klankritmes waarvan Scholtz praat, is vir Westerlinge die ekwivalent van sillabes, maar in Japannees is dit klankgrepe. Hierdie onderskeid is natuurlik nie meer vir ons van wesentlike belang nie, behalwe vir soverre ons bv in Afrikaans lettergrepe “verloor”: reën, wat ipv “re-en” verander na “reen”. En dat ons ook gewoon by die skryf van haikoes heel gerieflik ’n lettergreep suksesvol kan weggooi of verloor deur middel van die apostroof: “terug” se twee lettergrepe word een in “t’rug” – ons praat in ieder geval so!

Maar dit kan ook onnodig en onnatuurlik word, soos in haikoe 89:

somer’s verby met
’n naklank van gedagtes
hoe helder kom herfs

waar die digter waarskynlik die “met” kon weggelaat het en die “is” behou het. Toevallig sou dit in hierdie haikoe die tweede reël retrospektief én vooruit na sowel die somer as die herfs kon laat verwys en die integriteit van die haikoe se vaste vorm behou.

somer is verby
’n naklank van gedagtes
hoe helder kom herfs

Daar is nie ’n enkele geval van hierdie soort taalverwringing in die bundel (ook die beduidende slotvers) wat nie maklik opgelos kan word nie; in die geval van “janfred’rik” (die mooi haikoe 44) is die apostroof in ieder geval nie nodig nie, want dit is ’n algemene uitspraak van die voël se naam:

heeldag sing is nie
genoeg vir janfred’rik nie
snags prut hy note

Hier bo skryf ek oor die “integriteit” van die haikoe. Een van die lekker dinge omtrent resensies op hierdie webwerf, is dat dit die resensent die ruimte bied om vir lesers ietsie meer te vertel as wat in die koerantresensie die geval is. Dus iets rondom die agtergrond van die haikoe, as onderdeel van die digkuns.

Anders as wat by ons die geval is, was poësie besonder hoog geskat deur die koningshuis, die politieke heersers in Japan, en hulle het gereeld groot kompetisies uitgeskryf. Nog belangriker was die opdrag om verteenwoordigende bloemlesings op te stel, waarvan die digter Fujiwara Teika die belangrikste samesteller was. Die gedigte wat in die 13de eeu in die Shinchokusen Wakashū opgeneem is, het Teika met honderde tekeninge geïllustreer.

Daar is ’n klompie klassieke/geykte versvorms in Japannees. Ons ken hoofsaaklik tanka en die haikoe, waarvan eersgenoemde die oudste is. Dit bestaan uit sewe reëls, 31 klankgrepe (ons noem dit maar lettergrepe) in totaal, georganiseer in eenhede met onderskeidelik 5, 7, 5, 7 en 7 lettergrepe. Die eerste gedeelte van die tanka is die hokku genoem en ons haikoe het daaruit ontwikkel. Oorspronklik was dit ’n kollektiewe proses waar een digter die eerste drie reëls geskryf het en die tweede een die twee laaste reëls. En daardie eerste drie reëls was nie die ekwivalent van wat ons een sin sou noem en wat uit drie onderdele bestaan nie.

Rym, selfs halfrym, was geen vereiste nie en word selfs vandag, so word ek vertel, feitlik nooit aangetref nie. Hierdie tradisie maak ook deel uit van die Afrikaanse haikoe-wêreld.

Die tanka is dan verder gevoer in ’n ingewikkelde proses waardeur ’n veel langer gedig, die renga, tot stand kom. Mense wat so graag digstringe aan die gang sit, kan gerus by die Japannese die kuns gaan afloer.

Dit het ’n natuur- of seisoenselement wat deur die digter ervaar of waargeneem word. Dit vertel nie oor die emosies van die digter nie, maar beeld dit uit. “Show, not tell.” Metafore en vergelykings ontbreek, want die suggestiewe betekenisse, implisiet in die woorde en hulle onderlinge verband, is genoeg.

Dit is ’n voorstelling van ’n oomblik, nie ’n uitgebreide tekening nie; as gevolg van die sterk suggestie-inhoud, is dit terselfdertyd nie geslote of afgesluit nie.

Oor die algemeen is daar nie juis ruimte vir die intrede van ’n spreker nie en dus, vanselfsprekend, is die aanwesigheid van die “ek” problematies – dit reduseer die universele waarde van die insig.

Rondom die haikoe is daar vir die Japannese leser altyd iets van die kehai, ’n woord wat die gevoel beskryf wat mens ervaar by die indringende kyk na ’n kunswerk of die lees van ’n gedig. Daardie koue rilling wat mens ervaar by die aanskoue van iets moois, dis die ervaring wat mens ondervind as die haikoe jou direk aanspreek, as jy verstaan en as jy ervaar wat die digter sê, as jy die dieper betekenis kan peil.

Om net te onthou hoe ver ons verwyderd is van die werklike sfeer van die haikoe, kan ’n mens net loer hoe hierdie woord/begrip in Japannese skrif lyk:

In die kuberruimtes is daar baie hokkies en vakkies en hoekies waarin die haikoe gedy en dit is seker moontlik om te praat van ’n internasionale haikoe-gemeenskap. Dit is ook verbasend hoeveel bloggers daar is wat die haikoe op Afrikaans bedryf, wat iets sê oor die algemene bekoring en die verleiding van hierdie soort gedig, en die toeganklikheid.

Nou en dan duik hierdie geykte ou versvorm, wat uit Japan sy kleim wêreldwyd afgepen het, in losstaande gedigte of klein onderdele in bundels op. Eveleen Castelyn, Cornelis van der Merwe, Daniel Hugo, Fanie Olivier en Floris Brown is sommige van die gevestigde digters in Afrikaans in wie se bundels ’n mens haikoes raaklees.

Maar die publikasie daarvan as selfstandige bundels is redelik skaars in Afrikaans. Ek kan dink aan Deon en Hélène Kesting se Klein akkoord: 100 haikoes (1979) en Retseh le Grange se Vlinderstiltes (1981) en En winter die boom (1990). Sy gee ook in 1998 saam met Gerhard Myburgh en Gerhard Dreyer die bundel Haikoe-verse uit. Die mees onlangse bundel Afrikaanse haikoes was Antoinette Olivier se Optelklippies, uit 2017.

In die Suid-Afrikaanse Engelse boekwêreld is daar ook in talle ander digters se werk haikoes opgeneem, maar van ’n haikoebundel as sodanig weet ek net van die bekende Marié Heese se HAIKU for Africa (2014).

In die lig van die relatiewe skaarste van bundels wat volledig haikoe-gerig is, is Stipstaar met sy 122 indrukke inderdaad ’n welkome toevoeging tot ons inheemse tradisie.

Dit is boonop pragtig uitgegee, met ’n bandontwerp wat herinner aan grasse, riete, kalligrafiese lyne en dinge wat “onderwater roer”, soos Elisabeth Eybers dit genoem het. Deur die titel in twee dele te verdeel, vang Scholtz en/of die ontwerper ook die teenstrydigheid wat in die haikoe opgesluit lê, goed vas: om stip te kyk en raak te sien, maar terselfdertyd ook wyd en ontvanklik te staar.

Die titel kom ons in haikoe 118 teë:

eendag sal ons weer
die sonopkomsberg uitklim
stipstaar en ver sien

(Terloops: die verwysing na die wegskram van die direk persoonlike kan hier goed geïllustreer word deur ’n eksperiment van ’n aard:

eendag eendag weer
die sonopkomsberg uitklim
stipstaar en ver sien)

Ek is nie vertroud met die uitgewers, Fluisterbos, nie, maar ook die feit dat die bundel by ’n kleiner, onafhanklike en private uitgewery verskyn, sluit aan by die algemene publikasiegeskiedenis rondom haikoe-bundels. Tensy een van die vooraanstaande digters sou aandring om ’n haikoe-bundel by die hoofstroomuitgewers te publiseer, is die kleiner uitgewers die natuurlike tuiste daarvoor.

Buitendien kan ek my beswaarlik voorstel dat die luukse van ’n enkele haikoe per bladsy, soos wat in Stipstaar die geval is, sommer die geval sou wees waar daar noukeurig gelet word op die balansstaat. Fluisterbos kon laasgenoemde probleem systap deurdat ’n prins van die handel, die outydse begrip patroon (in die vorm van HGG Finansiële Dienste in Somerset-Wes), die bundel in sy geheel geborg het.

Die vraag wat amper onwillekeurig by die leser opkom wanneer sy ’n bundel lees wat net uit haikoes bestaan, is of daar ’n patroon of ordening moet wees. Soos die chronologiese orde waarin die haikoes ontstaan het? Dalk die gedigte tematies saamgroepeer? Of moet die digter op een of ander manier “verslag” doen, iets wat impliseer dat die gedigte met mekaar praat, met mekaar verband hou en dus ’n intellektuele onderbou voorveronderstel? En juis daardeur die idee van ’n haikoe ondermyn?

Scholtz besluit gelukkig genoeg om die bewuste saamgroepering van dinge in afdelings oor die algemeen te vermy, wat beteken dat ’n mens elke nou en dan iets wat jy gelees het, terugroep. Hierdeur word die bundel ’n holistiese ervaring. Maar, uiteraard, is daar telkens ’n paar gedigte wat saamval rondom ’n tema of verskynsel, maar nie net tot daardie groep beperk nie: nag oorheers in 68 tot 79, ekologiese bewustheid staan voorop tussen 87 en 97 en die dood of ondergang word tematies sterk verteenwoordig in ’n groep van sewe haikoes wat met 98 begin.

Maar, soos ek reeds gesê het, al hierdie invalshoeke waarna daar stip gekyk word, duik dwarsdeur die bundel op, net soos daar oral voëls en ander gevlerktes rondvlieg.

Daar is ook kleiner temagroepe wat na vore kom. Hieronder is haikoes wat duidelik geografies geplaas is, ’n klompie rondom kerk en geloof en dan ’n handvol of so rondom liefdesverhoudings. Laasgenoemde is myns insiens die teleurstellendste in die bundel en bevestig hoekom die haikoe op sy beste werk as dit die persoonlike emosie kan omskep in iets groter en ruimer. Daarom, ook, vind ek dat ander tipe gedigte waarin “ek” of “ons’” ter sprake is, nie dieselfde leeservaring bied nie.

Stipstaar begin met ’n haikoe wat volledig haikoe klink: ’n klein onbenullige gebeurtenis wat verreikende implikasies, samelope of naskokke het:

brose skoenlapper
klap vir die eerste keer vlerk
die aarde sidder

Stiplees van hierdie gedig vestig die aandag op ’n paar tegniese dinge: die afwesigheid van leestekens, veral omdat die slot van ’n haikoe altyd iets verder inhou, anderkant die staar; die alliterasie in die tweede reël, waar die harde k-klank juis gebruik word om die geluidlose vlerkslag van die skoenlapper hoorbaar te maak; die s-klank van “sidder” wat teruggryp na die alliterasie-maats in “brose” en “skoenlapper”.

’n Mens sou daarenteen kon wys op die ongemaklikheid van die byvoeglike naamwoord om die skoenlapper te beskryf: wys eerder hoe die skoenlapper broos is, moet nie dit vertel nie. Haikoes is delikate dinge en hou nie van te veel byvoeglike naamwoorde of bywoorde nie.

En dan is daar die probleem met die bepaalde lidwoord in Afrikaans, daardie “die”, waarmee ’n voorwerp of ’n gebeurtenis se universele aard gereduseer word. Omdat Japannees nie ’n bepaalde lidwoord het nie, kom hierdie probleem nie na vore in hulle haikoes nie, maar die Afrikaanse digter moet op sy pasoppens wees.

Aan die ander kant is daar egter ook die wins wat uit die lidwoord kan spruit. In die haikoe hier bo is die gebruik daarvan in die laaste reël juis belangrik, want hierdie aarde is al een wat ons het.

Die stel gebeure in hierdie openingsgedig word in haikoe 19 geëggo:

voetspoor teen die duin
sandkorrels verloor mekaar
aardbewing elders

en keer laat in die bundel (117) weer, maar anders, terug:

vroegoggendvrede
suikerbekkie klap sy stert
’n oerklank dawer

In die oorspronklike haikoe-tradisie is die aanwesigheid van seisoene altyd ’n vereiste, soms uitdruklik, maar dikwels meer implisiet rondom oorgange, of dinge wat verbygaan. Herfs is in hierdie opsig seker die belangrikste, en ek het vroeg in hierdie resensie na haikoe 89 verwys en in 105 kry die verandering van seisoen inderdaad ook ’n dieper betekenis:

die dag draai skuinser
verkleur woorde en blare
voëls karteer roetes

Nog drie mooi seisoen-haikoes is

misreën dwarrel op
jong geilgroen blare stoom oop
’n trein gaan verby                    (22),

wit vrugtebloeisels
val swewend na benede
dit sneeu in die boord                (91) en

’n somersmiddag
ons eet onder ’n sambreel
die son word botter                  (59)

Die seisoene lê natuurlik ingebed in die natuur en die indrukke van die natuur vorm in baie opsigte die skering en inslag van die haikoe-wêreld. Dit sluit die oorkoepelende indrukke en metamorfoses in (die staar-gedeelte) en die verwondering oor die kleiner segmente daarvan:

stilte tussen riet
as die geelvinkkwetter stol
meteens onverwags                   (8),

grys reën met dagbreek
sif weer ou onthougoed neer
die dag word weerloos             (52),

met die funksionele alliterasie en assonansie en

populiere roer
word die dyke en kreke
se ragfyn vlinders                      (23),

hoewel die “word” in hierdie laaste gedig verduideliking, nie wys of “showing” is nie: Sou “orals” ipv “word die” nie iets meer indra nie? Pragtig hoe ’n ou Afrikaanse woord, kreek, nuwe lewe kry saam met die mensgemaakte dyk.

’n Uitsonderlike natuur-haikoe is 21, waar die een waarneming totaal iets anders word,

in die waasland stoot
die mis op oor die polders
een wit tulp vou oop    

waar die toemaak van ’n hele landskap verander in die metaforiese oopmaak van ’n enkele blom.

’n Soortgelyke metamorfose sien ons in 14:

in helder maanlig
word die klippe weer blomme
wagtend bars dan oop

Ek het hier bo na die seisoene verwys in terme van metamorfose en oorgange. Ook die nag (en sy simboliese verwantskap met die dood) sluit hierby aan, veral ook daardie tussentyd, dagbreek en skemer. Saam met die nag kom daar ook die sterre en die maan, waar wonderwerke gebeur, soos in bostaande haikoe.

My sterk bedenkinge rondom die keuse van die haikoe vir persoonlike belydenis en liefdesuitings bely ek dadelik: Dit spruit gewoon net uit my respek vir die tradisie waarbinne die haikoe staan, ’n tradisie waar die persoonlike, die “ek”, eenkant staan.

Soms, soos in 54, slaag ’n digter egter daarin om ’n liefdesvers te skryf waarin die “ek” wegraak, sonder dat hy miskien eers daaraan gedink het. Hier is dit die verstrengeling van dag en nag wat uiteindelik aan die gedig sy bekoring gee:

daglig wakker word
met verstrengelde asems
en ’n duif koer-koer

Die oorgang van somer na herfs en dan na winter, soos die wegsterf van die dag, hou binne alle gemeenskappe en in hulle kunsskeppinge nou verband met die dood. Verganklikheid in sy baie vorms, vinnig of langsaam, is ook aanwesig in Stipstaar. Ek haal graag twee haikoes aan, totaal verskillend in die voorstelling waarmee hulle werk:

’n sysie fladder
in die mopaniebosse
’n blou eier breek                     (86) en

saggies en liggies sweef
’n wit engelvlerk se veer
grond toe af grond toe              (101)

Die veer waarvan in 101 gepraat word, suggereer dat daar ook iets sag en bekend aan die dood is, iets wat die skrywer in haikoe 119 vasvang:

die nag week in reën
versadig ver verlange
luister hoe drup dit

Dit is natuurlik nie waar dat haikoes altyd vervreemd van die onmiddellike werklikheid moet staan nie. Indien die haikoe sy wortels in die natuur vind, moet die bedreiging daarvan deur besoedeling en siektes juis ook deur die haikoe besweer kan word. In Stipstaar is daar ’n klompie sulke gedigte, waarvan ’n paar tussen 90 en 97 saam gegroepeer is. Die verwoesting en verwildering kry uiteindelik ook kosmiese gestalte, waarvan ons Covid-bestaan ’n manifestasie is:

die aardbol strompel
koersloos in sy wentelbaan
ons staan gemasker       (115)

Die digter herinner ons egter ook daaraan dat die vernietigingsdrang van die mens so oud is soos ons menslike bestaan en dat tekens daarvan ook orals om ons sigbaar is. Hoewel daar seker net ’n hand vol van hulle in die bundel is, is dié raaksien van die landskap, terrein van eeue oue konflik, besonder treffend:

olyfboordheuwels
vol gebukkende bome
dra swaar aan vrede     (28)

Teenoor die besef van ouer tye en dinge wat verbygaan, begin Gerard Scholtz ook proe-proe die nuwe werklikheid waarbinne ons leef, verken. Die kuberruimte en die toekoms wat daarmee saamhang, is immers nog ’n ruimte wat ons omring en terwyl alles agter ons besig is om te vergaan en sin te verloor (ook taal), is daar ander dinge waarna die digter sal kyk:

verledes verdwyn
klip verweer klokke raak stil
google word ’n taal       (63)

Die stil ruimtes waarbinne die haikoe, trouens alle goeie poësie, bestaan, hou voorlopig nie vir die digter van Stipstaar ’n bedreiging in nie. Dit skep eerder die ruimte waarin hy kan uitvaar met sy gedigte, soos wat die geval is met die seun in NP Van Wyk Louw se gedig uit Tristia: “die wind in die baai het gaan lê”: daar “ongewete roei van die seun / in hierdie kort stilte binne die baai.”

Ek verwys na hierdie gedig omdat Scholtz dit waarskynlik byroep in haikoe 29, waarin al die essensiële teenstrydighede van hierdie versvorm gestalte kry:

die wind het gaan lê
ek hoor die kleur van stilte
ademlose blou

Hierdie gedig beklemtoon die onvatbaarheid van daardie wêrelde wat in goeie haikoes opgesluit lê en is ’n voorspel vir die uitsonderlike haikoe waarmee Stipstaar afsluit. Hierin word die gedagte dat woorde onnodig is, dat klank is wat oorbly en dat die dood die uiteindelike bevrediging bring, uitstekend vasgevang:

’n laaste asem
se woorde het opgedroog
net eind’lose mmm...                 (122)

(Dit is jammer dat die digter deur die verwringing van die taal in “eind’lose” juis woorde weer beklemtoon: deur “net” weg te laat en die gewone “eindelose” te gebruik, sou die gedig waarskynlik nog sterker uit die verf gekom het.)

Die haikoe is ’n ou en gerespekteerde digvorm en Stipstaar bewys dat Scholtz volkome vertroud is met hierdie tradisie en hom nie sommer laat verlei nie.

In ’n publikasie met 122 kort gedigte waar lesers stiplees, is dit onvermydelik dat daar hier en daar dinge gaan opval wat hinder, ook tegnies. Dit is egter minder belangrik. Scholtz weet hoe om deur middel van alliterasie en assonansie ’n klankwêreld te skep en die stukkies waaruit haikoes bestaan, so saam te bind. Daarmee saam gaan hy verbeeldingryk met Afrikaans om: Hy verryk dit deur funksiewisseling en woordskeppings deur samestellings en samevoegings. Hier en daar sluit hy ook duidelik by die wyer Afrikaanse digwêreld aan, maar sonder dat die verwysings vertonerig word.

In ’n tydperk waarin fyn omgaan met die taal oor die algemeen steeds minder belangrik word en minder eiesoortig, waarin die dissipline wat onderliggend is aan formele poëtiese subgenres verdag gemaak word, kan die bydrae wat die bundel lewer moeilik oorskat word.

Die publikasie van Stipstaar is iets waarmee die skrywer en die uitgewer gelukgewens moet word. Wie sou kon raai dat die grendeltyd só ’n verrassende onthulling sou oplewer.

  • 2

Kommentaar

  • Pieta van Deventer

    Wat 'n stimulerende werkstuk vir 'n totale leek om te lees. Ek was nog altyd lief vir gedigte, maar die kennis oor die kuns as sulks is skraal/bestaan nie. Ons benodig meer sulke leesware. Dankie Fanie.

  • Monica Hammes

    Baie dankie vir hierdie insiggewende en interessante resensieartikel. Dis nou presies wat ons nie-letterkundiges nodig het om ons leeservaring te verryk.

    Ek stem saam: Ons benodig meer sulke leesware.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top