
Foto: Canva
Stilte wat raas in jou kyke
Dis in daai oomblikke,
waar ons vir ’n oomblik
in mekaar se siele kan inkyk.
Waar ek van voor af jou mis,
van voor af onthou hoekom
jy daai diep gat in
my hart kon maak,
van voor af jou
weer my alles wil maak.
Hoe kan jy met daai oë,
daai oë wat eens vir my kon sê
jy’s lief vir my,
my nou so laat voel.
Ons monde maak nie ’n geluid
of eens ’n beweging nie,
maar ek weet presies wat jy sê
en jy weet presies wat ek doen.
Ek mis die klank wat ons saam gedeel het,
’n klank wat net ons kon hoor.
Dis stil,
maar dit raas binne.
Jy raas binne-in my.

