
Foto: Canva
Stilte voor die storm
“’n Naaldekoker klap sy vlerke in die Drakensberge. Dae later ruk ’n orkaan Ecuador uitmekaar. God se handewerk is onverstaanbaar.” Eric kyk op vanwaar hy kniel by ’n bergstroom om waterbottels vol te maak.
Pyn sny my hart. “Net Hy weet waarom my liggaam Amara so verkeerd aanmekaargeweef het.”
Ek praat hard sodat Eric my bo die kabbelende water kan hoor.
“Amara se verkeerd is nie jou skuld nie, Kristien. Jy’t haar nie aanmekaargevleg nie, God het.” Sy oë is sag, vol begrip, tog onverbiddelik.
Ek gebruik my T-hemp se mou om trane weg te vee. Op ’n klip klap ’n bloedrooi naaldekoker sy vlerke. Klein beweging met groot gevolge.
“Ek sal weer met haar praat, Eric. Ek ...”
“Nee, ék sal,” knip hy my ferm kort. “Ek’s die kenner, nie jy nie, Kris.”
Eric: oud-studentemaat van my man; eens psigiater van sterre, nou van gebroke kinders soos Amara. Ná baie jare in Hollywood het hy teruggekeer na Suid-Afrika. “Om terug te gee,” was sy verduideliking. Ons vermoed daar steek meer daaragter. Almal is geregtig op hul geheime.
“O, dis waar jy wegkruip. Cool. Lekker privaat. Skinny dip, Eric?” Amara trek haar T-hemp stadig oor haar kop.
Geen bra.
Geen skaamte.
Geen grense.
Die naaldekoker vlieg weg. My wange brand, dan my ore en nek. Deels woede, deels verleentheid.
“Amara!” Ná sestien jaar het ek gedink sy kan my nie meer skok nie. Hoe verkeerd kan mens wees? My dogter is ’n legkaart met ’n verlore stuk – geen sosiale filters nie.
“Trek jou T-hemp aan, Amara. Wat jy nou doen, is onvanpas en sosiaal onaanvaarbaar. Ons het al oor grense gepraat.” Eric se stem is neutraal, asof hy die weer bespreek.
“Ag, ou spoil sport!”
Woede trek ’n rooi sluier oor my oë. Een tree en ek staan tussen haar en Eric. “Trek jou aan!”
Eric tik my enkel liggies; dwing my om na hom te kyk waar hy langs die water sit. Hy beduie ek moet gaan. Amara steek tong uit, wikkel haar vingers in die lug. “Ja, skoert nou, Ma.”
Eric vlieg regop, pluk my weg. My klap mis Amara net-net. “Gaan, Kristien. Ek het dit onder beheer.” ’n Bevel, nie ’n versoek nie.
Stadig draai ek om, stap stram weg.
Woede is soos petrol op ’n vuur vir Amara. Hoe kwater jy word, hoe meer koggel sy. Verdomp, ek weet beter as om na haar te klap! Ek hamer met my vuis op my bobeen.
Ek móét vertrou dat Eric weet wat hy doen, praat my kop. Die wete dat hy nog nie veel vermag het die afgelope ses maande dat hy met Amara werk nie, klou soos ’n neet.
My maag trek saam. Wat as Eric ook faal soos al die ander voor hom? As haar pa net wil aanvaar dat daar iets met sy lieflike dogter skeel en my ondersteun of help of iéts ...
By ons oornagkamp knetter ’n vuur. Schalk, die briljante neurochirurg met wie ek al ’n leeftyd getroud is, glimlag toe hy my sien.
“Kyk, Kris!” Op sy hand sit ’n groen naaldekoker en vlerkklap.
Ek blaas my asem stadig uit en tel binnemonds tot tien.
Sheila, Eric se vierde vrou, sit op die grond, haar rug gestut teen ’n klip.
Sy frons. Haar mondhoeke rem af toe sy sien ek is alleen.
“Waar is Eric?” sny haar stem.
“Hy maak waterbottels vol.” Ek vee oor my seer bobeen. Môre is dit seker potblou.
“En Amara?” Schalk se oë vernou.
Ek wys met my duim oor my skouer in die rigting waarvandaan ek gekom het.
Sheila vlieg regop. “Ek gaan hom help.” Sy klap die stof van haar sitvlak af toe sy
rivier toe drafstap.
Ek wil haar keer, maar ek weet nie wat om te sê nie.
Amara en Eric se trofeewyf: twee katte by ’n piering room. Arme Eric. Dit gaan warm raak langs die waterstroom, veral as Amara nie behoorlik geklee is wanneer Sheila daar aankom nie.
“Is hierdie nie die mooiste ding nie?” Schalk wys weer na die naaldekoker op sy hand wat sit en vlerke klap.
Voor ek kan antwoord, skouer Amara my uit die pad. Sy skop ’n klip, haar asem jaag.
Verwerping is die één ding wat reaksie by my kind ontlok. Ek onthou vir Millie.
Millie was ’n spierwit poedeltjie, Amara se sesde verjaarsdaggeskenk, gekoop op aandrang van een van vele sielkundiges wat oor die jare met Amara gewerk het. Maar honde kén mense. Die bondeltjie hond het heeltyd van Amara gevlug, weggekruip en getjank wanneer Amara haar optel.
Millie se einde was bloedig, morsig. “Sy was my hond, maar sy wou net altyd by jou wees,” het Amara sonder emosie verduidelik toe sy die bebloede klip tussen die aalwyne gaan terugsit.
“Gaan stort!” het ek vir haar gegil toe sy bloedige gemors van haar hande en arms by die kraan begin afwas. Toe gooi ek op.
“Ek weet nie wat Eric in daai hoer sien nie!” bars Amara soos ’n donderstorm los. Haar woorde eggo tussen die kranse ...
sien nie ...
sien nie ...
sien ...
“Amara, Eric is ouer as jou pa, en jy ...” probeer ek haar kalmeer.
“Sjarrap!” Haar hande maak vuiste langs haar sye.
Buiten vir die eggo sjarrap ... sjarrap ... sja ... is dit doodstil. Elke insek hou sy bek, elke akkedis skuil onder ’n klip.
Ek kyk na Schalk. Gaan hy waaragtig niks doen nie? Ek tel ’n stuk hout op. Vandag vermoor ek hom!
Hy vang my oog. Sug. Pers sy lippe in twee dun lyne saam.
“Gaan na jou tent, Amara. Jy kan weer by ons aansluit wanneer jy soos ’n opgevoede mens praat en nie soos ’n viswyf tekere gaan nie.” Sy kwaai-pa-stem so vals soos Sheila se oogwimpers.
Amara storm tent toe. Arms stokstyf, hande kneukelwit geklem.
’n Yskoue vinger tel my rugwerwels. Ek sien weer die bloedige bondeltjie hond en Amara met ’n klip in haar hand. My asemhaling is vlak. Sweet pêrel op my voorkop. Ek vryf oor die hoendervleis op my arms.
“Dink jy naaldekokers slaap in die aand?” Schalk staar na die naaldekoker se vlerke. Is dit vir hom so maklik om van die kind en die probleem te vergeet?
“Jy weet mos álles; sê jy vir mý wat naaldekokers saans doen!” Ek gooi die stuk hout wat ek opgetel het in die vuur en vlug tente toe.
Die horison het net-net ’n rooi skynsel toe Schalk ons uit die tente boender. “Opstaan, lazy asses! Die son trek water!”
Ons vryf slaap uit ons oë, gaap en strek. Tente gepak, koffie amper klaar gedrink, teken Schalk met ’n stok in die grond, wys die roete wat ons vandag gaan aanpak.
Dag twee van drie. Ek bid vir môre. Na gister se verwerping is Amara té vriendelik, té kalm. “Ons gaan vir ongeveer ’n kilometer klim, dan kronkel die voetpad óm daardie kranse waar die son nou opkom. Vir veiligheid moet ons, ons harnasse aansit, en onsself aan die kabel haak wat aan die rotswand vasgebout is. Die kabel is elke vyf meter aan die rotswand geanker. As jy by ’n anker kom, stop, haak jouself los, skuif verby die anker, haak weer in, maak seker jou haak is gesluit voor jy verder stap. Enige vrae?”
Ons val in soos ons gister gestap het: Schalk gevolg deur Amara, Sheila, ek en Eric laaste. Omdat dit die eerste maal is dat Sheila stap, moet ek haar help.
Waar die paadjie die krans se kontoere begin volg is die nodigheid vir harnasse en karabynhake daglig helder. Regs gaap ’n afgrond; links rys ’n loodregte rotswand tot waar wolkslierte ronddraai, hoër as wat arende vlieg. Die paadjie is nou.
My keel trek toe, my hart probeer deur my ribbekas beur. Ek doen my bes om die afgrond te ignoreer. Waarom het Schalk hierdie roete gekies?
Elkeen moet die persoon voor hom se toerusting nagaan. Amara en Schalk help mekaar. Sy sal nie ’n vinger lig om vir Sheila te help nie. Sheila sal ook nie hulp van Amara aanvaar nie, al hang haar lewe daarvan af.
Ek maak doodseker Sheila se toerusting is ingehaak en vasgegespe. Oor my skouer verseker Eric haar sy sal veilig wees terwyl hy mý toerusting nagaan. Ek maak seker hy is ook veilig, dan begin ons skuifel-stap agter Amara en Schalk aan.
By die eerste anker help ek vir Sheila om haar haak te skuif. Maar toe ek myself loshaak, vries ek. Die afgrond trek my soos ’n magneet toe my haak los is. Ek klem die kabel vas. My hele lyf ruk.
“Haal diep asem.” Eric trek my vingers een vir een los, haak dan my karabynhaak weer aan die anker terwyl hy rustig met my praat. Hy ruk die haak ’n paar keer hard om my te wys ek is veilig geanker.
Verligting is ’n naaldekoker-vlerkklap kort.
’n Gil klief.
Ek en Eric wéét.
Ek begin hardloop. Schalk, Amara en Sheila het om ’n skerp draai na links verdwyn. Kort voor die draai ruk ek tot stilstand. My karabynhaak skuur teen ’n anker. Ek haak los, mors nie tyd om weer in te haak nie. Hoogtevrees vergete.
Om die draai steek ek vas. Amara en Schalk se lyne span styf terwyl hulle oor die afgrond leun. Ver onder sien ek ’n spatsel kleur.
Amara moes vir Sheila gewag het by die draai terwyl ek soos Lot se vrou pilaarstil gestaan het.
Ek kyk na my dogter. “Sheila is nie Millie nie, Amara!”
Amara trek haar skouers op.
Hoe hou ek haar uit die tronk?
“Schalk?” histerie maak my stem dun. My man se gesig is die kleur van ’n ou, uitgebrande vuur. Selfs sy oë is grys. Donker sakke laat hulle nog ligter lyk.
Dan storm Eric om die draai. Ek haak vinnig my karabynhaak in voor hy my ook die ewigheid in stamp.
Onbegrip ...
Afgryse ...
Ek lees elke emosie op sy gesig terwyl hy na die kolletjie kleur ver benede staar.
Hy ontplof. “Jou bliksemse psigopaat, ek gaan jou laat toesluit! Ek ...” Die karabynhaak in sy hand swaai wild in die lug asof hy Amara daarmee gaan takel.
Ek stamp hom.
Sy gil eindig plotseling.
Amara skater, lig haar hand vir ’n high five. “You go, Mom!”
Schalk se oë is dood. Hy druk Amara styf teen sy bors met sy linkerarm. “Ek’t ’n eed afgelê om te genees.” Sy stem is hees. “My lewe gewy om mense te help ... om lewens te red ...”
Die lug ruik na vasberadenheid. Sonstrale brand genadeloos. “Nou! Nou!” skree die sonbesies.
In sy hand is sy en Amara se hake toe sy regterarm om haar vou.
Hulle gil nie.
’n Rukwind gooi ’n pikswart naaldekoker teen die rots voor my vas.


Kommentaar
Genade, Ronnie, hierdie is meesterlik geskryf! Ek kyk uit vir daai boek! Jy moet!
Briljante, "kouerillingskrywe" Ronnie. Sien uit na jou eerste boek.
Magtag, wat 'n storie! Welgedaan.
Baie dankie Leonita vir die positiewe terugvoer. Dit is my eerste plasing, en jou woorde gee my groot moed om verder te skryf.
Baie dankie Erla-Mari vir die lees en die mooi woorde. Ek waardeer dit opreg, veral van iemand met soveel ervaring.
Baie dankie Julio vir die lees en die mooi woorde. Ek waardeer dit opreg, veral van iemand met soveel skryfervaring.
Ronnie, dit is fantasties! Sjoe, ek het skoon hoendervleis!
Baie dankie vir die lees en mooi woorde, Elmi.
Wow, pragtige storie. Geluk. Kan nie wag vir jou boek nie.