Stilte en woorde

  • 0

Foto: Canva

Stilte en woorde

dit was ’n lang pad
van geboorte na stilte
al die geraas tussenin
kon my doodmaak
gelukkig
het ek jou hand vasgehou
om dit stil te kry

saam het ons donkiekar gery
op die lang pad het jy my geleer
van woorde en van stilbly
van luister wat môre sê

gister het gelieg oor Adam en Eva
die appel en die slang
ons is vergesel
deur die afoorhond
vir sy vriendelikheid
die kere wat ons gestry het
oor hy nou kan hoor of nie
tog as sy stert gewaai het
was ons gelukkig

stilte het haar geheime versteek
in haar mou
’n bietjie vir my
baie vir jou
naby die bestemming
het jy verdwyn
in ’n stofwolk en damp en rook
tog het jy in my hart ingeklim
glimlaggend my hare gestreel
kriewelings langs my ruggraat afgestuur

want jy is die gees van woorde
wat stilte bring in weesgedagtes
sodat die pad mooi geloop het
tot stilte dit verder gevat het
na altyd en altyd

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top