Stilsteen

  • 12

Foto: Canva

Stilsteen

Aan die rugkant van Fossielberg –
eens met die meesterlike blou skadukant van Plooiberg,
met Simonsberg se sawwe mos en skemering ingeklee –
uitgedroog en dun, strek die parallelle rotsriwwe van Maanhaarrand.

Deur kontinentskuiwing afgesny onder ys, waar dit uit Gondwana se suide sou oprys,
noordwaarts kruip, die toppe afgeskeer, uit die kragtige skouers van die eskarp,
in statuur verdwerg tot binnelandse hange, rys die Magalies se sekondêre klowe,
haar voortydse hellings smagtend na reën.

Versteende aangesigte raak met tyd geërodeer, die skedelbene
se versplinterde kakebene deur basalt en doleriet aangevul:
oogkaste leeg gepik deur uitgestorwe voëls.

Van ’n vroeë begin se tongafdrukke lê hier in vlak sediment ingestol,
’n prototaal waaruit paleo-linguiste Chomskiaanse patrone kan vergaar.

  • 12

Kommentaar

  • Die mooiste, mees beskrywende Afrikaans ontroer my en laat my weer met nuwe oë om my heen kyk na my pragtige land. Dankie Celesté!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top