Stellenbosch moet verengels

  • 1

Dit is in die belang van die voortbestaan van Afrikaans en vir al sy sprekers dat die Universiteit Stellenbosch so spoedig moontlik moet verengels.

Nee, ek is nie teen Afrikaans gekant nie. Ook nie teen die US as akademiese instelling nie. Inteendeel, ek is baie lief vir my moedertaal en dit moet, soos al die ander landstale, gelyk behandel en bevorder word.

Nee, ek probeer ook nie hier ’n geveg begin met diegene wat beskryf word as “taalbulle” met “grys skoene” nie – hulle wat hulle hoofsaaklik bemoei met die voortbestaan van Afrikaans. Inteendeel, ek probeer antwoorde soek wat moontlike oplossings sal bied vir die alewige en vervelige taaldebat op Stellenbosch. ’n Debat wat nog nooit met werklike praktiese oplossings vorendag kon kom nie. ’n Debat wat nog altyd in engheid en slegsêery verval het. Kan eiebelang en (verskuilde?) polities-ideologiese agendas miskien hiervoor blameer word?

Ek wil dus graag praktiese voorstelle aan die hand doen wat hopelik sal meehelp om te verseker dat Afrikaans as akademiese taal in Suid-Afrika sal bly ontwikkel en voortbestaan.

Laat ek eers ’n ompad loop. Die kleurryke en veteraan-parlementslid Koos van der Merwe was onlangs ’n gas op Lynette Francis se program Praat-Saam op RSG om te praat oor die feit dat hy tans die langsdienende LP is. Aan die einde van die program het oom Koos Lynette hartlik bedank “omdat jou Afrikaans so mooi en goed is”. Nou hoekom sou e-tv se Jeremy Maggs vir Jonathan Jansen, rektor van die Vrystaatse Universiteit, aan die einde van ’n onderhoud wil bedank omdat Jansen se Engels “so mooi en goed is”. Dit is algemene kennis dat Jansen uit huis uit Engels is en dus Engelssprekend is.

Ook weet ons dat Francis uit huis uit Afrikaans is en dus Afrikaanssprekend is. Ek glo nie dit was oom Koos se bedoeling om Francis te beledig nie. Hy het egter die sentiment bevestig dat sommige wit Afrikaansprekendes bruines as tweedeklas Afrikaanssprekendes sien. Sommige wittes vra selfs vir bruines: “Waar het jy so mooi Afrikaans leer praat?” So asof Afrikaans nie ook aan bruines behoort nie. Dit is beledigend en dit moet end kry.

Dit is dié seer by bruines, en nie net die sogenaamde “aftakeling van Afrikaans” nie, wat – soos die skrywer Abraham Phillips onlangs in Die Burger geskryf het – “die psige van veral Afrikaans se arm bruin mense aan flarde ruk nie (sic)”.

Dié seer van bruines en die huidige politieke klimaat wat nie juis gunstig teenoor Afrikaans is nie, vra ’n ander benadering as die huidige debat op Stellenbosch wat hoofsaaklik deur wittes gedryf word.

Die huidige debat vir of teen die sogenaamde T-opsie is ’n mors van tyd, energie en geld. Al sou dit korrek toegepas word en behoorlik gemonitor word (soos die “taalbulle” graag wil hê) sal dit nog steeds nie werk nie, want ek stem saam met die ANC-LP André Gaum dat die dominerende Engels in die praktyk Afrikaans beslis gaan verdring. So ook op Stellenbosch.

Daarteenoor is Stellenbosch om verskeie redes nie die geskikte universiteit om Afrikaans as akademiese taal te laat gedy nie. Die US het as broeikas vir apartheid opgetree en daar het dié bose stelsel van krag tot krag gegroei. Dit was en word nog steeds as ’n bakermat van die Afrikaner se akademiese en ekonomiese welvaart beskou. Die institusionele kultuur van die universiteit is nog steeds oorwegend “wit en Afrikaans”. Dit dra dus nog te swaar aan die bagasie van die verlede en sal baie moeilik – indien hoegenaamd – daarvan ontslae kan raak.

Die slegte nuus vir die “taalbulle” en vir alle Afrikaansprekendes is dat die aanslag teen Afrikaans gaan verskerp vanweë bogenoemde faktore. Of dié redes geldig is al dan nie, maak nie saak nie. Die “taalbulle” is in die minderheid en die anti-Afrikaans-gesindes met politieke ondersteuning is in die meerderheid. Dit is dus amper verby met Afrikaans op Stellenbosch. Dit is net ’n kwessie van tyd.

’n Nuwe onselfsugtige benadering met goeie bedoelings wat alle belanghebbendes akkommodeer, moet gevind word om praktiese voorstelle vir die ontwikkeling en voortbestaan van Afrikaans te vind.

Die antwoord is ’n nuwe nierassige en inklusiewe Afrikaanse universiteit iewers in die Wes-Kaap. So ’n universiteit sal geen bagasie van die verlede dra nie en hoofsaaklik deur bruin of swart Afrikaanses bestuur word.

Dit moet ’n universiteit wees wat uitsluitlik Afrikaans is “waar sowel die plaasboer se seun as die plaaswerker se dogter” kan studeer.

Dit kan moontlik gemaak word deur saam met die regering te werk deur byvoorbeeld die volgende punte op die tafel te sit:

  • dat alhoewel die Gerwel-kommissie voorgestel het dat twee universiteite (een in die noorde en een in die suide) behoue moet bly om Afrikaans as akademiese taal te ontwikkel, daar net vir een so ’n nuwe Afrikaanse universiteit in die suide gevra word
  • dat omdat Engelssprekendes veral in die Wes-Kaap toegang sal hê tot drie Engelse universiteite (UWK, US en UK), Afrikaanssprekendes in die hele land net vir een Afrikaanse universiteit, verkieslik in die Wes-Kaap, vra
  • dat die US met al sy vrot politieke bagasie van die verlede opgeoffer word vir ’n nuwe nierassige en inklusiewe Afrikaanse universiteit.

Laat ons as Afrikaanssprekendes ophou selfsugtig wees en die US opoffer ter wille van die voortbestaan van Afrikaans. Dit is in die belang van Afrikaans dat die regering en sy sprekers moet ooreenkom dat die US verengels in ruil vir ’n nuwe nierassige en inklusiewe Afrikaanse universiteit.

Lees ook Afrikaans en die US-taaldebat se onlangse miniseminaar.

  • 1

Kommentaar

  • Jason Lloyd se artikel “Stellenbosch moet verengels” hierbo trek die peil van die taaldebat aan die Universiteit Stellenbosch (US) terug na die vlak wat voorheen gehandhaaf is deur die teenstanders van diegene wat ’n US voorstaan wat as ’n inklusiewe Afrikaanse universiteit meertaligheid beoefen. 

    Met my aanvaarding van die presidentskap van die US Konvokasie in November 2011 het ek my uitgespreek ten gunste van (a) die herstel van die bande tussen die Konvokasie se Uitvoerende Komitee en die Rektor se Bestuurspan (bande wat deur laasgenoemde in 2009 verbreek is), en (b) die voer van die "taaldebat" met rasionele argumente en wetenskaplike feite, sonder om persoonlik te raak, deur albei kante van die taalkloof. 

    Skaars 'n maand later verskyn Pierre de Vos se onsmaaklike persoonlike aanval op Marie Heese se "perverse en immorele wêreld" in Rapport (20 Nov). Nou sluit Jason Lloyd by hom aan op dieselfde peil van debattering.

    Lloyd maak andermaal gebruik van etikettering en die gebruik van skelname soos “taalbulle” (nogal mét andermaalse identifisering van die kleur van hul skoeisel). 

    Hy het kennelik nie die talle praktiese voorstelle van die pro-Afrikaanse debatsdeelnemers gelees (of verstaan) nie wanneer hy verwys na: "’n Debat wat nog nooit met werklike praktiese oplossings vorendag kon kom nie." Is jy ernstig?

    Hy bring egter met sy skrywe ’n nuwe dimensie na die taaldebat deur die rassetamboer te slaan, sommer twee keer: 

    * Die “debat op Stellenbosch wat hoofsaaklik deur wittes gedryf word” en

    * 'n "Afrikaanse" "universiteit" wat "hoofsaaklik deur bruin of swart Afrikaanses bestuur word."

    Voorts wil hy die US opsaal met die erfsonde van apartheid, maar vergeet van ’n rektor soos prof Mike de Vries wat sy rug teen die apartheidsregering styf gemaak het toe hulle rasseskeiding op universiteitsvlak wou afdwing deur middel van subsidie-weerhouding. Het hy al prof Bennie Keet, dogmatikus verbonde aan die US, se boek Suid-Afrika - waarheen? (gepubliseer in 1955) gelees? Was dr Beyers Naudé nie 'n oud-Matie nie? Maties het hul volle kwota van kritici van apartheid gelewer.

    Hy negeer die taalstryd van ’n eeu gelede teen dié wat die Victoria Kollege nie universiteitstatus gegun het nie en ’n enkele Engels-eksklusiewe Wes-Kaapse universiteit voorgestel het. Nou stel Lloyd sommer drie Engels-ekslusiewe universiteite in die Weskaap voor.

    Hulle wat 'n eeu gelede ’n Stellenbosse universiteit met Nederlands/Afrikaans as onderrigtaal voorgestaan het, se ideaal is verwesenlik danksy ’n skenking van £100 000 (nagenoeg R200 miljoen in vandag se geldwaarde) deur die weldoener Jannie Marais. Wie gaan hom dit nadoen vir Lloyd se “Afrikaanse” universiteit “wat hoofsaaklik deur bruin of swart Afrikaanses bestuur word”? 

    Sonder Jannie Marais se skenking was daar vandag geen Universiteit van Stellenbosch nie. Het hy sy skenking gemaak net sodat daar nóg 'n Engels-eentalige universiteit in die Weskaap moet wees, waar Afrikaans verreweg die meerderheidstaal is?

    (Ironies genoeg wás daar 'n Afrikaanse universiteit in die Weskaap “wat hoofsaaklik deur bruin of swart Afrikaanses bestuur" was. Vandag is dit 'n Engels-ekslusiewe inrigting.)

    Ek hoop van harte dat die "taaldebat" kan styg bokant die vlak waartoe Pierre de Vos en Jason Lloyd dit afgerem het in die onlangse tyd. Daar is tog 'n sprankie van hoop: eersgenoemde voel "jammer dat die taaldebat verlede jaar so lelik uitgerafel het" (BY, 14 Jan), waarvoor sy eie bydrae aansienlik was; "'n Mens wil nie altyd met almal so onnodig in die modder rol nie. Ons het by mekaar verby gepraat."

    Asseblief, mense: laat ons die taaldebat voer:

    * sonder om persoonlik te raak, 

    * sonder om mekaar te beskuldig van verskuilde agendas, 

    * sonder om ras by te sleep,

    * sonder die gebruik van etikette en skelname, maar 

    * met rasionele argumente en

    * wetenskaplike en bewese feite. 

    Christo Viljoen

    President: US Konvokasie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top