
Foto: Canva.com
Steenson
ylings onder
droogtegreep
sien ek die laksman
vasbeslote nadersluip
die hadida klief die stilte met skor kreet
ek hoor die lammers verhongerd blêr
terwyl die bloedemmer van die steenson
rooi stof en dwarrelwinde meng
alles verder laat kantel en skroei
kap die janfiskaal
verbete aan sy grafskrif op die verdorde
boombas
wat tot klip verstom
onder die sirkels van die songloed
in die vlamrooi van die aalwynblom
het jou emosies oop en vry gelê
terwyl die dieptes van jou kyk
die landskap in groen laat bot
daar waar die duine hul kruise trek
en die doringbome hul skadu’s los het die tyd stil gaan staan
onder die omhelsing van jou mond
die hoeksteen van jou wese het my boupilaar geword
waar ons kaalvoetspore
versteen het in tyd
Kommentaar
Baie dankie Litnet ek waardeer baie
Ek hou baie van jou gedig. Dit voel asof ek dit wil skilder.
Baie dankie, Laantie, vir jou saam lees en kommentaar. Ek waardeer dit baie.
Baie goed, Anze.
Baie dankie, Andries, ek waardeer baie.