Steeds die ewige oproep tot versoening

  • 3

Dit het nog nie ingesink nie; die mense wil net nie verstaan dat oproepe tot versoening die teenoorgestelde effek, naamlik polarisasie, het nie.

Dit werk so: 'n Oproep tot versoening veronderstel vyandskap (al klaar 'n negatiewe ding); iemand het iemand anders te nagekom. In Suid-Afrika, wat amptelik uit 50 miljoen mense (maar in werklikheid uit sowat 80 miljoen) bestaan, het die media, 'n meme, die Engelse, die bruines, die swartes, die kerke en 'n klomp helderverligte Afrikaners dit so bewimpel dat die sowat 3, maak dit 4, miljoen Afrikaners die vark in die verhaal is.

Let wel, nie al die wittes nie, net die Afrikaners. Dit is 'n meme wat rondhang sedert die Engelse hier kom goud en diamante soek het. Partykeer tussen die lyne, meestal direk, het hulle die Boer verguis totdat dit naderhand ingebore was. Dit blyk duidelik byvoorbeeld uit daardie insident in '76 toe die opstandeling die Engelse vrou se kar met 'n baksteen wou gooi en sy vir hom geskree het hy moenie want sy's Engels. Terloops, beduidend is dit dat hy toe wel die baksteen gegooi het (en ek is seker met meer venyn maar dis 'n persoonlike mening).

Hierdie meme het so dik gehang dat dit naderhand afgevryf het op party Afrikaners, die wat nie regtig vir hulself kan dink nie en gepak was met die g.o.t.t.s.-sindroom (gretig om tevrede te stel). Die einstes het toe ook in hulle koerante, soos die Engelse in hulle s'n al vir jare, begin agiteer vir 'demokrasie' (ek sit dit in aanhalingstekens want soos die geskiedenis toe intussen gewys het, het hulle nie 'n idee wat demokrasie behels nie).

So is die 'bevryding' toe bewerkstellig met die hulp van die Engelse, Hollanders, Duitsers, Swede, Dene, Noorweërs, Nieu-Seelanders, Australiërs, Amerikaners, baie Afrikaners, baie Suid-Afrikaanse Engelse, Kanadese en nog 'n rits ander lande en mense plus nog terreurtaktieke en goed. En dadelik toe begin die Afrikanerkerke en –politici namens die 4 miljoen Afrikaners vir die 50 miljoen swartes (oukei, gee hulle die voordeel van die twyfel; sê in '94 was dit 3 miljoen Afrikaners en 25 miljoen swartes) om verskoning vra vir sogenaamde apartheid. Hoe vermetel (en dom!).

Dit oortuig natuurlik die, aan wie verskoning gevra word, dat die Afrikaner wel skuldig is aan ... iets vreesliks. Dis goed en wel om jammer te sê maar, as jy skuldig is (eintlik jou ouers en grootouers), moet jy boet en/of betaal. 'n Skrander wit kind kry nie universiteitstoelating nie omdat sy oupa destyds vir die NP gestem het, of bloot net omdat hy wit is al het sy oupa vir die VP of Progge gestem. Wraak is ook aan die orde van die dag; kyk maar na die wreedheid (en hoeveelheid) van die plaasmoorde. Hoe anders? Ons sê dan vir hulle ons het hulle uitgebuit.

Hoe meer wraak geneem word, hoe meer vra die Afrikaner om vergiffenis wat net nog meer wraak aan die hand werk. Hoe is versoening moontlik in sulke omstandighede? Hoe kan jy versoen as Afrikaanse dorp-, plek- en straatname verander word, as jy verbied word om jou taal in jou werkplek te praat, as jy nie eers jou taal met staatsamptenare kan praat nie?

Nee, al manier waarop versoening bewerkstellig kan word, is vir die predikante en politici om alle verskonings terug te trek. Hulle verder daarop aandring dat al die name wat verander is, herstel word na wat dit was. Ook moet hulle aandring op verskonings vir Slagtersnek, Bloedrivier, Piet Retief se moord en al die terreuraksies gedurende die oploop tot die 94-verkiesing.

Verskoning moet ook deur die regering aangebied word vir al die afgebrande treine, biblioteke en dies meer gedurende die afgelope 18 jaar, ook die skade aan paaie deur brandende bande en skade aan hotelle en gastehuise met hulle konferensies en dinge. Ook moet hulle jammer sê vir die feit dat die Buro vir Standaarde, Eskom, die Spoorweë, die hospitale en die WNNR wat so agteruitgegaan het. Ook moet hulle verskoning aanbied dat hulle die Afrikaanse universiteite en kolleges verengels en gevolglik opgef#k het.

Hulle moet ook hulle innige spyt uitspreek teenoor die skrander leerlinge wat universiteitstoelating geweier is en hulle finansieel kompenseer. Verder moet hulle hul dankbaarheid betuig teenoor die plaasboere vir die oneindig beter behuising wat die boere aan hulle werkers verskaf het teenoor die wat die meer vermoënde myne aan húlle werkers verskaf het. Ook moet hulle jammer sê dat die land sodanig bestuur word dat honderde renosters jaarliks uitgeroei word en honderdduisende werkgeleenthede weens emigrasie vernietig is.

Versoening sal dan moontlik wees wanneer hulle besef dat hulle niks geskuld word nie maar dat hulle diegene is wat in die skuld is.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Jan, daar is openlike asook subtiele maniere waarop die Afrikaner en Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika ondergrawe word. Marthinus van Bart het van die subtiele maniere onlangs in sy boek, Kaap van slawe, uitgewys (SêNet, 12 Des). Verder, in die Kaapse Metropool (en eintlik in die Wes-Kaap in sy geheel) is Engels deesdae die eerste, Xhosa die tweede en Afrikaans die derde amptelike taal – ook aan die Universiteit van Wes-Kaapland – afgesien daarvan of die ANC of die DA aan die bewind is. Maar wie betaal daar die meeste inkomste- en munisipale belasting? Sekerlik die Afrikaanssprekendes.

    Die bomontploffing deur blankes op Worcester in 1996 word kort-kort in herinnering geroep en dan word daar versoeningsbyeenkomste daaroor gehou. Een van die swart oorlewendes word dan op die hande gedra omdat sy die witte wat die bom geplant het, vergewe het. Desmond Tutu het onlangs in Kaapstad ’n toekenning aan hierdie swarte oorhandig. Leon Wessels was daarna weer op Worcester om in die teenwoordigheid van hierdie vereerde swarte versoening te bepleit en vredesduiwe los te laat. Maar Wessels doen dit nie in Kerkstraat, Pretoria, of by die kerk en die taverne in die Kaapse metropool waar veel erger bomontploffings voorgekom het nie. Die verskil is blykbaar dat bomplanting deur swartes geregverdig kan word, terwyl dit onverskoonbaar is as wittes hulle tot geweld wend. Daar word met verskillende mate gemeet. Dit is ’n feit dat dit vir Wessels as menseregtekommissaris hoogs lonend was om die swartes soos onskuldiges en die wittes, eintlik die Afrikaners, soos skurke in hierdie verhaal te behandel.

    Johannes Comestor       

  • Jan

    Nou watter onlangse gebeurtenis het aanleiding tot bogenoemde tirade gegee, veral teenoor die Engelse en Afrikaners wat nie om jou kampvuur sit nie?

    Ek kan verstaan, jy wat deel van die  gekkegrens politiek vorm, nie met ander rasse versoening soek nie, maar om jou nyd so teenoor mede Afrikaners uit te spreek (vir die soveelste keer), is verregaande.

    Jy het werklik 'n mislike uitkyk oor die lewe.  G'n wonder dat jy soos 'n politiese suurdrol hier op SêNet  voorkom nie.

    Jaco Fourie

  • Jan Rap

    Daar is baie dinge verkeerd in Suid-Afrika - selfs Cyril Ramaphosa stem met jou saam. Die ANC is 'n vrotsige regering - elke denkende persoon insluitende swart intellektuele soos Mamphela Ramphele (en Cyril as hy onder die stort staan) stem saam. K*k en kerm, soos jy gereëld hier doen, verander ongelukkig nie veel behalwe om van jou frustrasies ontslae te raak nie. Ons moet van die ANC as regerende party ontslae raak en vervang met 'n party wat behoorlik kan regeer. Dit kan ons slegs doen deur die meerderheid van die kiesers agter so 'n ideaal te verenig. Jy moet maar self besluit of jou gek*k en gekerm bydrae om dit te bereik.

    Lekker 2013 vir jou. 

    Thomas

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top