Stasiesongs

  • 0

Voordat ek uit Praag vertrek, is ek gewaarsku dat die Franz Kafka na suid-wes Bohemië nie lank stop op Domazlice nie; die dorp net duskant die grens tussen Tsjeggië en Duitsland, waar ek moet oorklim. Daar aangekom, steier ek met my swaar tas die staal trein trappies af tot op die winderige perron.

 Die stasiemeester, so ingenome met sy bietjie Engels as ek met my oorlewings-Tsjeggies, beduie my na waar die plaaslike treintjie ongeduldig staan en wag vir passasiers na Kout na Sumavè, oftewel die hoek van die Sumavè-gebergtes. Daar is geen Afrikatyd hier nie.

 Terwyl ek aanstruikel na die kort treintjie wat op ’n syspoor wag, wuif die stasiemeester die vertrekkende Franz Kafka met ’n teatrale gebaar die stasie uit. Treine word hier ernstig opgeneem en het name wat by hulle status pas. Die trein op die roete van Berlyn na Praag heet die Albert Einstein.

 Gister se harde klonte ys kraak onder my stewels as ek versigtig tussen die spore trap om by die tweetrok-treintjie te kom, terwyl die vermaning wat alle afkondigings voorafgaan, Prosim Pozor! (oppas asseblief!) oor die perron weergalm. Ek is nooit seker presies waarvoor ek moet oppas nie; probeer slegs maar my balans behou, kyk noord en sleep voort.

 Terwyl ek inskuif langs ’n venster, loer die ander passasiers bo-oor hulle koerante met dramatiese name soos Blesk (bliksemstraal) en Pravo (geregtigheid), na my. Die Boheemse platteland, grys en neerdrukkend dié tyd van die jaar skuif onsigbaar in die vroeë winter- donkerte verby en ek skep my eie landskap in my kop.

 Dit gaan lekker wees om weer met my vriend Bohous se Ma, babicka Anna te kuier. By haar is alles minder gekompliseerd, selfs die vreeslike Tsjeggiese taal. Sonder om in al sewe naamvalle te probeer dink, terwyl ons die hoeders voer, herhaal ek agter haar aan: “To je slepice” (dit is hoenders). Wanneer sy lag vir my uitspraak is haar oë omring deur baie meer lagplooitjies, maar die ysblou is dieselfde as die van haar seun.

 ***********

 Sal ons wêrelde ooit een kan word? Ek dink terug aan ons eerste ontmoeting in Praag. Terwyl ons met Petrin-heuwel opstap, vertel hy my grepe uit sy lewensverhaal. Sy studies in Moskou gedurende die bloeitydperk van die Sowjetunie; sy verblyf in Lusaka gedurende die bloeitydperk van uhuru in Afrika, sy meer onlangse verblyf in Harare gedurende die bloeitydperk van Mugabe.

 In 1968 pas terug uit Afrika, moes hy toesien hoe Praag een Augustusoggend vroeg deur Sowjettenks binnegeval word. Domastrant het hy dit buite die swaar houtdeure van die Cerninski-paleis, die hoofgebou van die Buitelandse Ministerie gewaag en aangebied om te tolk en die probleem op ’n diplomatiese manier te probeer oplos. As antwoord het die jong Russiese soldaat bo-in die tenk net sy geweer gelig en oorgehaal.

 *********

 Wanneer die trein stilhou by die stasie met die naambord KOUT NA SUMAVE wag my liewe Tsjeg en Franta, ons steekhaarworshond reeds vir my voor die rooi stasiegebou. Franta is bly om my weer te sien en wys dit, soos net ’n hondjie kan. Of Bohous elke keer met die weersiens bly was, het ek nooit geweet nie; hy is geleer om gevoelens weg te steek.

 Ons gaan by die hospoda aan vir ’n bier op pad huis toe. Daar vertel hy die manne dat die burka hierdie winter gaan ski! Die stamgaste beskou my simpatiek en elkeen bied iets aan teen die koue – ’n mus, ’n serp, handskoene.

ski1 “Daar is skis in die skuur,” kondig Bohous die volgende oggend aan, “Kyk of die stewels jou pas en gaan ski.”

 Gedurende my eerste somer hier was sy opdrag: “Daar’s ’n fiets in die skuur, vat dit en ry na die naaste woud.” Ten minste het ek al voorheen fiets gery. My vrees vir hierdie koue wit wêreld is vir hom onverstaanbaar; hy't kleintyd skool toe geski het!

 Met ’n kloppende hart en twee paar wolsokkies onder die stewels, waggel ek na die landery op die rand van die dorp. Die sneeu lê dik en sag, maar daaronder is die land geploeg vir die komende lente se saai en die geriffelde oppervlakte se tekstuur herinner my aan die van ’n sinkdak op ’n warm Hoëveldmiddag.

 Eers voel-voel ek met die stokke teen die effense afdraend en mettertyd, tot my verbasing, begin ek glad vorentoe gly. Verder en vinniger gly ek, al vallende totdat bloukolle soos rugbyballe op my kuite uitslaan. Maar ek moet die vrees vir die vreemde element besweer; ek sal leer saamvloei met die kontoere van hierdie wit landskap.

 Die dorpshonde blaf vir my – ’n voëlverskrikker in my bont saamgeflanste ski-uitrusting op die vlekkelose landskap. Dis net die getroue Franta en my eie lomp spore wat my volg. Die dorpenaars is snoesig binne besig om voor te berei vir Kersfees; om die karpers lewendig te hou tot op die regte oomblik vir die slagting op Kersoggend.

ski2

Die skiëry word ’n soort ysdoop; asof ek een wil word met hierdie wit wêreld. Die probleme van Afrika van my wil afwas. Wanneer die son begin sak stap ek koud en seer, maar soos ’n wafferse pro met die skis oor my skouer terug; innig dankbaar dat ek nog grootliks heel is.

 In die strate word Kersliedere uitgesaai oor luidsprekers. Flikkerende liggies reflekteer bont op die sneeu terwyl ’n intense heimwee na ’n groen Kersfees my beetpak. Ek wonder of hy vanaand voor die kaggel vir my sal sing … die volksliedjies wat hy as seun, met sy akkordion as begeleiding, in die stasie-restaurant op Domazlice gespeel het?

 En sal ek dan, anders as die reisigers destyds, wat ’n vinnige bier afgesluk het voordat hulle trein na elders vertrek, in staat wees om met my volle aandag te luister na sy stasiesongs, of sal my gedagtes dwaal tot by my terugreis na ’n warmer seisoen op ’n ander kontinent?

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top