Stadige klim na Groot Hoogtes

  • 0

Kyk, op 64 moet mens jou by jou portuur hou. Pille sluk en gesprekke voer oor skete, aftree-oorde en begrafnispolisse. Maar soms gebeur dit selfs vir afgetredenes dat jy uit jou gemaksone geruk word. Soos die slag toe ek omgepraat word om met ’n spul jongeriges Kilimandjaro te gaan uitklim.

Met ons vertrek sê een van hulle by Kaapstad se inboektoonbank sy wil eers haar tas met plastiekfoelie laat toedraai. Dis goed so, sê die vrou agter die toonbank, ek sal solank jou pa inboek (dis nou ek!).

Filbert, ons gids later teen die berg op, het my Babu gedoop - oupa, in Swahili! Hy was een van 19 spanlede wat ons vyf klimmers veilig die berg op en af moes besorg. Dit klink baie, maar neem in ag ons moet elkeen minstens 3 liter water ’n dag drink. Dis 15 liter net vir die 5 van ons - oor 6 dae beteken dit 90 liter wat die span moet opdra. Dis afgesien van drinkwater vir die spanlede self, water vir kook en was! Dan nog die tente, bagasie, gasbottel, stoele en tafel vir die ete-tent, en natuurlik die allerbelangrike kosvoorraad ... die manne het gewerk vir hulle geld.

’n Dag voor die klim het ons vyf mekaar formeel ontmoet, by ’n hotel op Moshe so 30 minute se ry na die voet van Kilimanjaro. Die Keys Hotel, so koloniaal soos wat jy kan kry. Ouwêrelds, met ’n groot agterstoep en ’n grasperk omring met wilde piesangbome en ’n klein swembad. Jy verwag so half om Ernest Hemingway iewers op die stoep agter sy tikmasjien te sien, whiskey in die hand ...

Die klim self is immer gewild, met duisende klimmers wat elke dag by die hek wag om op hul onderskeie roetes die berg op te vaar. Wyl ons wag, het ek ’n paar notas gemaak.

 ’n Aanvallige Sjinees vra my waarmee ek besig is, en ons begin gesels. Dit blyk Yang (haar naam) is ’n korporatiewe finansiële raadgewer.

Die stap begin deur ’n reënwoud, maar dit het nie gereën nie, so dit was droog. Maar steil. Agt ure later bereik ons ons eerste oornagkamp. Die plek lyk soos ’n vlugtelingskamp - tente net waar jy kyk, mense maal rond. Die ete is egter voortreflik. Sop as voorgereg, gevolg deur ’n heerlike bredie.

Ek deel ’n tent met Justine, ’n Amerikaner. ’n Diabeet wat homself daagliks moet inspuit en kyk wat hy eet. Daarbenewens ’n kompulsiewe, obsessiewe tipe ou wat krake op sypaadjies vermy. Hy’s ’n meterleser wat volgens hom al deur menige hond gebyt is wyl hy sy rondtes doen. Partykeer kyk hy na meters van die hek af met ’n verkyker ...

Sê ook hy’t geen vrees vir hoogtes nie - net vir afval van hoogtes.

Nog ’n spanlid is ’n mediese dokter. Toe ek hom met ons ontmoeting vra wat hy doen, seg hy as volg: "I will tell you, but don’t wish to discuss it - I am a neurologist." Dan mompel hy  iets van ’n onkoloog ook. Jislaaik! ’n Dubbele spesialis in een ...

Blyk later hy is ook ietwat van ’n geloofsfanatikus wat ons portiere, gids en kok probeer bekeer. En hewig allergies is vir eiers. Hy gebruik ook steroïed en kunsmatige adrenalien. "I paid a lot of money to get here, and I mean to get to the top…"

Miltoinette, een van ons vyf klimmers, is techno-savvy en google hom gou. Blyk toe hy's is  ’n gewone dokter. Om dokter te wees in myns insiens genoeg van ’n mylpaal, niks nodig om jou statuur met denkbeeldige kwalifikasies te vergroot nie. Nietemin …

Miltoinette werk as behuisingsraadgewer, en ly aan stadige hartklop. Sy moet pille vat om haar hart vinniger te laat klop. Zalene is ’n voormalige kollega van my toe ek nog gewerk het. Sy’s jonk en ek is oud. Dit som ons klompie omtrent op.

Op dag drie van ons klim loop ek weer die Sjinees raak. Sy vra of ek saam met haar sal poseer vir ’n foto. Daar is iets omtrent ouens wat hul honde vir ’n wandeling vat, en ouer mans wat sommige vroue skynbaar onweerstaanbaar vind.

Ek sit my hand liggies om haar skouer wyl haar Sjinese-klimgenoot die prentjie met sy selfoon vat. "No background," sê hy. Agter ons is niks, net wolke ver onder ons want ons is nou al so hoog. Voor ons troon Kilimandjaro in al sy glorie. Ek stel voor hy neem die foto van die ander kant, dat hy die berg as agtergrond kan kry.

Zalene en Miltoinette hou die petalje geamuseerd dop. "Nou gaan jy die son voor julle kry - dit gaan die foto bederf," merk Zalene op. "Makie sakie," sê ek - minstens kry ek haar ’n ruk langer vasgehou. Dit laat die twee histeries aan die lag gaan. "Why are they laughing?" vra Yang. Ek probeer verduidelik, maar vermoed my kans op oosterse-romanse het ’n knou gekry.

Jannie en Yang

Ek deel ’n tent met Justine, my obsessief-kompulsiewe diabetiese Amerikaanse klimgenoot. Wat ook snork. Ek sukkel om te slaap. So drie-uur sê my lyf hy moet toilet toe gaan. Maar dis nie sommer net vir opstaan en ʼn draai loop nie. Die "geriewe" is niks meer as ’n gat in die vloer waaroor jy met hurk terwyl jy asem ophou om die stank van duisende klimmers voor jou uit te hou nie.

Ek probeer myself oortuig dis nie nodig om te gaan nie, maar die natuur roep en einde laas skuifel ek uit my slaapsak, trek my klere en stapskoene aan, trek die ritssluiter van die tent oop en loop soek die long-drop.

Wat ek vergeet het was die advies om jou kamera se battery uit te haal en teen jou lyf te hou vir ekstra hitte, anders raak dit gou pap. Wat ek toe in my onderbroek gehou het. Nie vele tree van die tent af nie, voel ek iets in my broek afgly en hoor die plop van die battery wat op die grond val.

Gelukkig vir my is dit volmaan, en kon ek die battery sien waar dit geval het. In my opkyk, sien ek die magiese berg voor my. Die sneeugletsers teen die piek gloei in die maan - ek verkyk my daarna en vergeet byna dat ek op pad toilet toe was.

Dis ’n foto werd, besef ek - maar om nou in die koue terug te strompel tent toe, die kamera in die donkerte te soek en dan die battery weer te koppel het net na te veel moeite geklink.

Op dag vier begin ons met ’n stywe afdraend, gevolg deur ’n selfs stywer opdraende. Dis die Baranco-muur, en behels onder meer wat bekendstaan as die "Kissing Wall" - waar jy gesig teen die krans moet verbyskuif, met ’n aansienlike afgrond agter jou. Die rotswand self is so koud dat ons aangesê is om handskoene te gebruik.

Anderkant maak die blou lug plek vir wolke, dan reën,  gevolg deur ’n haelstorm en dan sneeu. My reënbaadjie en -broek is veilig in die sak wat die portiere dra, so in ’n ommesientjie is ek papnat en bitter koud.

Ons kom so twee-uur voor ons finale aanslag op die berg, by ons kamp aan. Aandete is hoofsaaklik aartappels, voor ons ses-uur se kant tent toe is om te rus voor die groot klim.

Elfuur is ons op, gespoor en gestewel met warm water vir drinkgoed. Die rede blyk te wees dit gaan vries, en die warm water gaan dit so lank as moontlik vloeibaar hou. Ons moes ook ons bottels in kouse druk vir verdere insulasie, en dit dan onderstebo in ons rugsakke sit. Die logika synde dat goed van bo af ys ...

Middernag, met koplampe en rugsakke aan, begin ons te klim. Voor my, opwaarts, sien jy die rye kopligte wat voor jou in die verskiet verdwyn. En na ’n uur of wat, as ek terugkyk, ’n slang van kopligte wat volg.

Ver onder jou, die ligte van Moshe - die dorpie waar ons tuisgegaan het voor die klim. Regs op die horison verskyn ’n ster. Oranje-bruinerig. Die oggendster? Maar dit skuif al hoër en dit word nie ligter nie. Mars? Eers heelwat later verskyn die ware oggendster. Jupiter? Uranus? Moet bieg, ek’s nie veel van ’n sterrekundige nie.

Namate die suurstof minder word, begin ons te hyg na ons asems. Zalene en Miltoinette het hoofpyne, voel duiselig en naar.

Agt-uur die oggend bereik ons Stella-punt, die tweede hoogste piek van die berg. Zalene en Miltoinette sê hulle’t genoeg gehad, sien nie kans vir die laaste stoot na Uhuru Point nie. Skaars 135 meter hoër, maar stapsgewys nog so twee ure. Ons pseudo-spesialis het water op die longe, sy steroïed en adrenalien-voorbereidig ten spyt.

Ek en Justine voel relatief goed, en durf die laaste entjie aan.  Uhuru toe …

Jannie van Rensburg op die kruin van Afrika

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top