St Lucia en die legende van die Kruger-miljoene

  • 0

Ekke met my gunstelingvangs in 1988.

St Lucia is ’n klein dorpie hoog iewers teen Zoeloeland se Noordkus. Dit vertel ’n groot verhaal en het ’n spesiale plek in menige hart. Stories word wyd en syd gedeel. Sommige ontaard in Chuck Norris-legendes en ander land bloot in die vergetelheid.

St Lucia en Cape Vidal was vir ons Transvalers die arm man se Durban. My pa was ’n onderwyser en ons het gereeld daar gekamp. Vir ’n seun uit die binneland was St Lucia ook my eerste keer waar die soutwater oor my voete gespoel het.

Ek onthou die lae brug oor die mond. Later het dit die hoë brug geword. Die lae brug het stadig aan die ewigheid oorgegee en het lank nog in stukke as steier vir ons visvang gedien. As kind het ek nie sentiment daaroor gehad nie, maar ek het geweet dat iets verander.

Daar was twee kante van die dorp. Een kant is die brugkant en die ander die mondkant. Aan die brugkant was daar ’n kol wat hulle met die baggermodder uit die Narrows gevul het. Ons het kleilatte daar gemaak en oorlog tussen regte krokodille en seekoeie gespeel. Vandag is dit die sonsondergangdek.

Aan die mondkant was die ou skibootklub. Daar weef baie verhale van formidabele vissermanne deur die dorp. Ek het die voorreg gehad om menigmaal saam met hulle deur die branders te klief.

Die mond het destyds op ’n stadium reguit see toe geloop. Sandsakke met sement het dit in lyn gehou. Die projek was deel van die sestiger- en sewentigerjare se pogings met dolosse en baggerskepe om die mond te tem.

Dit was ’n fantastiese visvangplek. Toe spoel die see die sakkies weg en die mond het weer begin swerf: oop en toe, van een kant na die ander. Die see het uiteindelik gewen.

Die illustrasie toon ’n historiese lyntekening van ’n tipiese 19de-eeuse driemasbask (three-masted barque) uit ’n klassieke seevaartensiklopedie, George J Hagar se The Standard American Encyclopedia, Volume 2 (The University Society, Inc., New York, 1916)

Cape Vidal was nog altyd ’n avontuur. Ons het geglo die goud van die Dorothea wat in 1898 voor die rif gestrand het, was die Krugermiljoene. As kinders het ons oral gesoek en onder die water geduik op soek na die skatkis vol goud.

Die werklike verhaal is net so meesleurend. In die laat 1890’s, toe die onwettige goudhandel op die Witwatersrand floreer het, het ’n slim sindikaat tonne ongemerkte goudstawe in die geheim oor die grens met perdewaens na Lourenço Marques (Maputo) gesmokkel. Dit was glo na raming tussen 100 000 en 120 000 troois-onse. Dit skakel om na byna 3 000 kg se goud!

Om die doeanebeamptes te flous, het hulle ’n ou driemasbark, die Ernestine, aangekoop en dit herdoop tot die Dorothea. Onder in die ruim het hulle die goudstawe op die vloer met ’n dik laag sement oorgegiet. Dit het ’n valse vloer onder honderde ton sand en steenkoolballas gevorm. Enige beampte sou net soliede sementvloer gesien het.

In die laaste dae van Januarie 1898 het die Dorothea vanaf Delagoabaai gevaar. Op 31 Januarie het ’n verskriklike storm die skip langs die wildekus van Zoeloeland getref. Die swaar, lekkende skip kon nie die ekstra gewig van sement en goud in sy boeg bo hou nie en dit het op die rif voor Cape Vidal gesink.

Die goudbelade vloer het die skip se ondergang én geheim geword. Die houtromp is deur die jare heen in die branders afgebreek. Die swaar betonblok het op die seevloer gesink en onder sand en koraal verdwyn. Talle bergingspanne, onder andere dié van kaptein Charles Gardiner in 1908, het vergeefs gesoek. Duikers het hul lewens tussen die haaie in die sterk seestrome verloor.

Maar nie alles is verloor nie. Die Noorse dominee LO Feyling, wat in 1898 sy sendingstasie by Mission Rocks begin het, het 20 ton van die Dorothea se planke gered. Hy het die hout met ’n primitiewe wa vanaf die wrak by Cape Vidal na sy terrein geneem en daar ’n soliede sendinghuis gebou. Ek onthou prentjies van die wa met wiele uit groot boomstamme gesny. Die fondamente, twee bakoonde en twee grafte van die sendingstasie by Mission Rocks is nog daar.

Selfs vandag droom ek dat tegnologie eendag daardie beton-ingegote skatkis sal lig. Kinderdrome verdwyn, maar die verhaal bly.

Tussen 1960 en 2014 het ek elke fase van my lewe daar beleef. Die sewentigerjare se 4x4-pad na Cape Vidal was ’n modderige avontuur deur die denneplantasies. Skibote het deur die branders geklief. Huurbote op die meer het elke gety gevang. Gruntertyd, shadtyd, kabeljoutyd.

Toe kom sikloon Domoina in Januarie 1984. Die sikloon het die mond en die Narrows herskep. Brûe is weggespoel, kanale is van 2–3 meter tot 10–14 meter diep geskrop, en meer as 16 000 kubieke meter sediment is uitgespoel. Wortelboombosse en riete is vernietig.

Maar St Lucia het dit soos altyd oorleef. Dit is, en was nog altyd, in goeie en kundige hande. 

In die negentigerjare het die mynboupetisie die duine gered. Meer as 300 000 handtekeninge is ingesamel teen die plan om die oostelike duine vir titaan te ontgin. In 1996 is die myn gestop. In 1999 word die hele gebied ’n Wêrelderfenisgebied. In 2002 dreig die Jolly Rubino, die brandende Italiaanse vragskip, met olie en gifstowwe net suid van die mond. Sandwalle is gebou, die besoedeling is gekeer en die vleiland is weer gered.

Vir my was St Lucia nooit net geskiedenis of ’n erfenisgebied nie. Dit is die plek waar ’n Transvaalse seun die see saam met plaaslike legendes leer ken het. Waar ek elke fase van my lewe laat insink het.

In 2009 het my babadogtertjie se voetjies ná ’n leeftyd se wag vir haar in dieselfde see gespoel. Tot my heenvlieg oor die horison het ek elke maand op die sand gestaan, voete in die water, en ’n handvol soutwater geproe.

Die Beetle ongeveer 1985 op die strand

Elke keer as ek terugdink, is ek weer die seun:

  • in die baggermodder,
  • op ’n boot deur die branders,
  • met stok en hoed langs die reguit mond, of onder die water op soek na die Krugermiljoene,
  • die een met sy geel Beetle op die strand,
  • hy wat uit my Sahara-spikes hardloop voor ’n blaffende seekoei,
  • of hy wat die water uit spartel met ’n werpnet om sy arm verstrengel en ’n groot krokodil wat nader kom ...

St Lucia se stories is dit werd om onthou en vertel te word. Ek hoop daar kan eendag ’n bron wees waarin al die verhale van St Lucia se legendes, nes die Krugermiljoen-mite, openlik en waardig gedeel kan word; die verhale van al die groot Fanies en die klein Fanies, Mark, John, Johan, Deon en al die Hennies, Corries, Koos, Maries en Nellies ... ja, die hele dorp is inderdaad vol met mooi name.

Die mond is oop en toe, hoogwater, sikloon, laagwater, gruntertyd, shadtyd en kabeljou ... maar die liefde bly.

Gouestrandgroete.

Cornelius Henn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top