Spookstories: Vullishoop

  • 0

Illustrasie deur Danielle Jansen

Ek staan in die stort, kyk vir my, die middelpunt van my eie stomerige zen-oase. Met ’n perfekte boog skiet ek die half-nat, half-gerookte sigaret tot in die toilet aan die ander kant van die badkamer. Ek kan dié shit doen met my oë toe.

Ek klim uit en gebruik my handdoek om die wasem van die glas af te vee sodat ek die spieël se gesig beter kan sien. Kaal en klam sit ek op my bed en lees die daaglikse nuus. My oupa het koerant gelees, my pa lees Netwerk 24, ek het Facebook en Instagram.

Ek sien die local popster vra dat almal wat nie simpatiseer met die #menaretrash-beweging nie hom asseblief moet verwyder van hul vriendelys af. Dit klink soos baie moeite.

Nog ’n dag.

Op pad werk toe stap ek verby nog van die Eikestadnuus se plakkate: “Hoe is Hoffman geskiet?”

Seker met ’n fokken geweer. Whatever.

Net ’n entjie verder lê daar ’n voëltjie wat deur ’n kar getref is, en deur ’n proses van verdere verkeer platgery is totdat dit één geword het met die straat. Mens kan skaars die buitelyne sien. Maar die bewyse spreek vanself. Daar was ’n voël, en toe was daar mens, en op die sewende dag het God gesê dit is goed, en Hy het gerus.

’n Dooie duif op Birdstraat. Ek kan nie die shit opmaak nie.

By die werk is dit stil, dis altyd stil tot so 22:00. Al die studente maak seker eers pligtelik hul huiswerk klaar voordat hulle Pappa se geld kom uitdrink.

Ek laat my Instagramstories speel, daar’s free WiFi by die werk.

#menaretrash

Proteste in die stad.

Nog 'n dogtertjie ontvoer.

Iemand se kat.

Iemand met Instagram se katfilter op haar en haar vriendinne.

Ek besluit om maar my eie eerste kliënt te wees en koop vir myself 'n tequila.

My meisie en haar vriendinne kuier ook die aand. Almal suip. Almal dans.

Nog 'n aand.

Êrens in die chaos van herhaling kom daar egter 'n bietjie aksie. 'n Meisie stamp 'n ou weg van haar af. Die mengelmoes van die dansende toekoms druk hulle egter weer teen mekaar en ek sien hoe die ou haar teen hom druk en haar soen. Ek kan ook sien sy lyk nie te gelukkig oor die saak nie.

Onder my bar is daar 'n klein rakkie vir die hardehout wat ek altyd gebruik as 'n trappie vir wanneer ookal ek oor die toonbank moet spring. Niemand weet daarvan nie. So ek lyk baie meer atleties as wat ek is.

Nietemin, ek spring, ek gryp die ou aan sy skouer en draai hom sodat ons gesig-na-gesig kan staan. Dit is sy gesig waarin ek belangstel. My regtervuis maak 'n baie aangename kennis met die linkerkant van sy kakebeen. Ek dink die fight was daar al verby. Maar ek het natuurlik nie daar gestop nie.

Nou, om vir iemand wat nog nooit in 'n fight was nie te verduidelik wat gebeur, is baie dieselfde as om vir iemand wat nog nooit LSD gevat het nie, te verduidelik hoe dit voel.

Tyd strek, jou brein en jou instink werk saam, vinniger en beter. Besluite word in splitsekondes gemaak en net so vinnig uitgevoer. Daar’s 'n meisie met kort wit hare wat sal sê dit is primitief en maak nooit logies sin nie. Ek sal saam met haar stem. Dit is nog steeds, slegs deur seks gematch, die rouste, mees intense eerlikheid wat 'n mensdier in staat is om te voel.

Anyway, hy begin val, maar my vuis tref hom nog twee keer voordat hy uiteindelik sy tydelike slaapplek bereik. Ek sien hoe sy kop teen die vuil vloer slaan, terug opskiet, en dan uiteindelik stil gaan lê. Die ligte van die dansvloer reflekteer op die bloed wat uit die sny uitloop waar een van my kneukels die vel bo sy regteroog geskei het. Ek kan nie onthou watter song gespeel het nie.

 Al hierdie gebeur in seker 15 sekondes, al voel dit nie so nie. Hande gryp na my en ruk my van hom af. Ek weet nie of ek val, en of ek plat geslaan is nie, maar teen dié tyd is die res van die werknemers, my groter, buitelandse kollegas al reeds by. So alles word baie vinnig kalmeer.

Ek vertel my kant van die verhaal, die Crippled Cassanova ontken alles, en die dame wie se eer ek dog ek verdedig, wil nie deel word daarvan nie, sy sê sy ken hom, dit was nie so erg nie.

Ek word huis toe gestuur, my hemp is geskeur, my hande bloei (niemand dink ooit aan hoe fokken seer jou hande is ná die tyd nie), my meisie is kwaad vir my, ek’s in die moeilikheid by die werk, en môre kan ek maar net hoop my nuwe maatjie maak nie ’n saak teen my oop nie. (Goddank ek’t een keer vir daai een prokureur ’n bier gekoop.)

“What the fuck, Spook! Hoekom moet jy dit altyd doen? Jy baklei altyd, jy wil die heeltyd almal moer.”

Ek’s nog nie eers by die huis voor die boodskap deurkom nie, en anyway, ek dink dis onregverdig, ek’s baie rustiger vandat ek en sy saam is.

“Sorry Francis, ek is regtig jammer. Ek’t oorreageer. Maar ek weet wat ek gesien het. Fok daai ou. Almal wil weet hoekom girls die heeltyd geteister word, wel dis omdat ons hulle toelaat. En julle’s ook skuldig. Almal hashtag kliphard maar waneer dit gebeur, doen niemand iets nie. Meisies wil nie sê dat dit gebeur het nie. Ek verstaan, dis nie lekker om aan te dink nie, nog minder om oor te praat. Maar as een hom laat wegkom, kry hy net kans vir ’n volgende een. Ouens wil nie aksie neem nie, want terwyl ’n saak van teistering, veral as dit nie full blown fokken verkragting is nie, bitter moeilik is om by ons land se geliefkoosde gemilitariseerde polisie te laat stick, word ouens maklik opgetel vir een stamp aan die verkeerde persoon. Dan sit hulle met ’n klag van aanranding. Ek sê nie almal moet mekaar bliksem nie. Ek sê daar is mense wat kan luister en advies gee, daar is mense wat kan help om kriminele in hegtenis te kry, en dan is daar mense soos ek. Ek hoop die local popster gee vir meisies hoop. En ek hoop die proteste kry die aandag van die polisie by die probleem. Maar meer as enigiets hoop ek daai etter se tande is vir die volgende week so seer dat hy nie eers kan eet nie, nevermind soen.”

Alleen, terug by die huis, met 'n sigaret op my bed en my honde op die bank oorkant my. Kyk vir my, die middelpunt van my eie bloedbesmeerde zen-oase.

Facebook sê die locals het Luyanda Botha, die doos wat die 11-jarige verkrag het, se huis aan die brand gesteek. Moer hom.

God moes by die voëls gestop het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top