Die Aegean Sea-luitoon van my wekker raak verlore in die geraas van 'n slymerige rasperhoes. Dis my hoes. Dis hoe elke oggend begin. Of wel, middag, dis twaalfuur. Die laatslaapfunksie op my selfoon laat my toe om elke aand voor te gee dat ek rondom agtuur die volgende dag sal opstaan.
Ek krap deur 'n klomp leë, opgefrommelde sigaretpakkies. Êrens moet daar nog een enetjie wees, ek kry een, dis geknak, maar dis okay, as jy dit net reg vashou werk dit fine.
Wat het gisteraand gebeur? Dit was 'n Donderdag, 'n fokken Donderdag, wie voel só na 'n Donderdag? Ek onthou ek't vroeg ophou werk, ek onthou ek't planne gemaak om my meisie te kry vir 'n drink, ek onthou 'n bartender wat sy hande gebruik as hy praat, ek onthou 'n zol in die parkeerplek buite die Drama Departement met die bartender wat sy hande gebruik as hy praat, ek onthou dat ek 'n tequila gekoop het om dankie te sê vir die zol by die bartender wat sy hande gebruik as hy praat. Ek onthou nog tequila, seker om dankie te sê vir iets anders. Daarna onthou ek nie veel nie. Veral nie die naam van die bartender wat sy hande gebruik as hy praat nie.
Ek dink nie ek't my meisie toe ooit gesien nie. Fok, Francis gaan die moer in wees vir my. Of maybe het ek saam met haar gekuier? Ek sal maar eers jammer sê as ek seker is sy's kwaad. Dis 'n probleem vir later. 'n Baie meer dringende probleem is dat my sigarette op is en dat die Reijger, Drommedaris en Goede Hoop skynbaar sopas in my brein anker gegooi het en jare van kak en swaarkry elke sekonde in elke stukkie van my lyf afspeel. Ek voel sleg. Ek kort 'n dop.
"Jis, Hendry, hoe lyk dit, pel?" Ek's seker hy hoef nie te vra hoe dit met my gaan nie, ek klink asof Kristofferson 'n uitlaatpyp ingesluk het.
"Nee, orraait Spokie, bietjie broos, maar okay, wat's op?"
"Wou hoor of jy lus het vir 'n dop, kry jou in Victoriastraat? Net 'n rustige een, ek moet later nog vir Francis sien."
"Aw, klink cool, ou."
Hendry is 'n goeie vriend, ons is altwee al vir meer as vyf jaar in hierdie swart gat van 'n studentedorp, ons het al dieselfde goed gesien en gedoen, maar dis nie eintlik hoekom ek juis vir Hendry nooi nie. Hendry is ook die een wat altyd coke het, en niks sal my nou regruk soos 'n lyntjie nie.
Ek trek myself uit die bed uit, druk 'n borsel deur my bek, gooi 'n paar pille in die honde se bakke, groet hulle asof hulle my liefhet en nie my lyk sal eet as ek doodgaan in my bed nie en dan's ek oppad. Nog 'n voordeel van uitpass in jou klere.
In Birdstraat loop ek verby 'n paar plakkate van die Eikestadnuus met opskrifte soos "Brandweer 'red' ons burgermeester", en "SFC make Premiership debut". Hoekom is "red" in aanhalingstekens? Whatever.
"Sorry tog, meneer, het meneer toggie ietsie vir ou Johnny nie?” Johnny is nie dood nie. Johnny is ook nie Johannes Kerkorrel nie, Johnny is ook nie Koos Kombuis se kitaarspeler nie. Johnny is 'n hawelose man in 'n DA-hemp wat my vloek elke keer as ek vir hom nee sê, ek sê elke keer vir hom nee.
"Sorry, Johnny, nie vandag nie."
"Fok jou."
Johnny gaan vir ewig lewe.
Ek kry 'n pakkie Pall Mall rooi by die Pakistani se kafee in Andringastraat, hy vertel my hoe skelm die mense in die kafee om die hoek is en waarsku my om nooit daarheen te gaan nie. Ek betaal R30 vir my R28-pakkie sigarette, sê dankie, en ja, en gaan soek vir Hendry by die bar.
Na sy eerste bier en my eerste whiskey besluit ek ons het nou genoeg klein praatjies gemaak.
"Luister buddy, het jy nie dalk 'n lyn op jou nie? Ek sukkel bietjie na gisteraand."
"Nee ou, eintlik, ek gaan skoon, ek's oor dit, die's my laaste bier ook. Tweede semester begin volgende week, ek't laas semester reeds op my gatvelle deurgeskuur. Ek's heeltyd broke. Ek voel aaklig. Ek's klaar man."
'n Vraag oor etiek. Is ek meer van 'n junkie as ek my junkie-vriend oortuig om aan te hou dwelms koop, of as ek begin my eie dwelms koop?
"Dis cool, ou, sterkte, en ek verstaan. Ek dink darem nie ons is so erg nie. Anyway, kan jy dan vir my die ou se nommer gee, asseblief?"
Hy stuur vir my die nommer en ek spandeer R500 wat ek nie eintlik kan bekostig nie, maar fokkit, ek kort 'n lyn. Hendry waai en ek bel vir Francis en sê vir haar om my by die kroeg langsaan te kry. Sy klink nie te kwaad nie, so alles is weer okay.
Ek stap die trap by die tweede bar op. Gesigte. Almal bekende gesigte. Vyf jaar in 'n klein, rowwe dorp. Ek ken al die gesigte en al die gesigte ken my. Ek ken hul gesigte en hul sondes, ek ken net nie hul name nie. So ek stap verby hulle. Reguit na die badkamer toe. Daar sit ek my selfoon op die toilet se deksel, haal 'n klein stukkie van 'n Checkers-sakkie wat in 'n bolletjie toegeknoop is uit my beursie. Sukkel om die knoop los te kry en gooi uiteindelik van die wit poeier wat daarin is op my selfoon uit. Sny dit in 'n lyn met my mediese fondskaart. Lag innerlik vir 'n oomblik oor die ironie.
Dan snuif ek dit deur 'n opgerolde R10-noot.
Dan is alles regtig okay.
Nie net voel ek beter nie. Ek voel soos 'n god. Ek is die coolste ou in die bar, ek het klaar die mooiste meisie. Al die gesigte draai om my. Dis lekker.
So verloop die aand. Ek koop vir Francis 'n tequila om dankie te sê vir die vorige aand wat ek nie kan onthou nie. Die bartender wat sy hande gebruik as hy praat, daag op. Hy's af vanaand. Ek vra nie sy naam nie, want ons is nou vriende. Ek vra egter of hy 'n lyn wil hê. Hy sê ja. Almal sê altyd ja. Hy gee vir my en Francis nog dagga. Francis koop tequila om dankie te sê. Ons almal doen nog 'n lyn om weer reg te kom na die joint. Iemand koop tequila.
So gaan die aand aan en die kroeg raak rowwer en rowwer. Meer gesigte. Die DJ daag op. Die party raak rof. Almal dans. Almal koop tequila. Iewers deur die aand gee iemand vir my 'n Ecstacy-pil. Ek voel fokken great. Vanoggend is weg, koerantopskrifte is weg, geldprobleme is weg, ek is weg.
Twintig minute oor een kom die boodskap. Hendry is dood, iemand het by sy huis ingebreek. Hom in sy bed vermoor. Hy was tien ure skoon, toe's hy dood. Johnny lewe nog. Ek lewe nog. Al die gesigte in die bar lewe nog.
Net Hendry is dood.
Kommentaar
Love you skryf ......
Mal oor hierdie. Wil nog lees. Laat my dink aan square en Oppikoppi en alles wat tussen deur dit gebeur het.