
Lourens maak ’n laaste verstelling aan die mikrofoon. Wanneer die rooi lig teen die muur aangaan, begin hy praat.
“Goeienaand aan al die naguile. Dit is nou presies middernag op Klokradio 302 FM en soos gewoonlik hierdie tyd van die nag, is dit Lourens Maritz wat jou van hierdie kant van die mikrofoon groet. Ek gaan jou geselskap hou tot so vyfuur. Vanaand het ek ’n interessante onderwerp om oor te gesels. Heel gepas vir hierdie tyd van die nag, sou ek sê. En dit is ... spoke! Persoonlik glo ek nie in spoke en bonatuurlike verskynsels nie, maar ek is oop vir oortuiging. Wat is jou gevoel daaroor? Dalk het jy al ’n persoonlike ontmoeting met ’n spook gehad, of dalk ken jy ’n goeie spookstorie? Hoe ook al, ek sal graag van jou wil hoor. Skakel gerus in en gesels saam. Ek wag vir jou oproep. Intussen skop ons die program af met ’n gepaste lied: Ray Parker jr met die temalied uit die rolprent Ghostbusters!”
Hy druk hy die nodige knoppies op die rekenaar en klankbord. Die rooi lig teen die muur verander na groen. Hy haal die oorfone van sy kop af en sit agteroor. Dít behoort die luisteraars aan die praat te kry. Goeie interaksie help om die alleenheid te verdryf.
Vanaand se onderwerp is inderdaad geslaagd. Die telefoon gons behoorlik. Spookstories van allerlei kleure en geure word vertel. Van ’n ou oom wat sweer dat sy oorlede vrou steeds snags by hom in die bed kom inkruip, tot ’n dominee wat nie kan preek as sy oorlede voorganger nie langs hom op die kansel kom sit nie.
Die tyd gaan vinnig verby, maar later raak die oproepe al minder. Teen drie-uur begin Lourens se ooglede ook swaar word. Dit is doodstil in die ateljee. Die enigste geluid is die musiek wat veraf deur die oorfone wat langs hom op die lessenaar lê, gehoor kan word en die koffiemasjien wat nou en dan slurpgeluide maak.
Dan begin die ligte in die ateljee skielik flikker, maar na ’n paar sekondes hou dit op. Lourens begin effens kriewelrig voel. Sou dit die klomp spookstories wees wat hom op hol jaag? ’n Beweging in die hoek van sy oog trek sy aandag. Die deur van die ateljee wat na die gang uitloop, het ’n venster van geriffelde glas. Het hy hom verbeel, of het iemand nou net in die gang by die venster verby beweeg? Hy hou die deur stip dop. Dan voel hy hoe sy nekhare stadig begin rys. Deur die geriffeldeglasvenster verskyn die silhoeët van ’n man. Maar die gestalte verdwyn weer net so skielik as wat hy verskyn het.
Byna onmiddellik begin die rooi liggie op die telefoon flikker. Lourens probeer om die deur in die oog te hou terwyl hy die gehoorstuk optel. “Klok Radio 302 FM, goeienaand.”
Stilte.
“Klok Radio, goeienaand!”
Behalwe sagte krapgeluide in die gehoorstuk is daar niks. Lourens voel nou erg ongemaklik. Iets is duidelik nie pluis nie. “Hallo ... Hallooo!!!” Steeds niks.
Hy druk die foon dood en skakel onmiddellik die sekuriteitstoonbank in die voorportaal. Dit voel soos ’n ewigheid voordat hy die vakerige stem aan die ander kant hoor.
“Security ...”
“Bennie, Lourens hier. Hier was nou net iemand by die deur van die ateljee. Kan julle kom kyk asseblief?”
Bennie beloof om te kom ondersoek instel. Skielik begin die musiek kliphard oor die luidsprekers teen die muur speel. Lourens ruk van die skrik. Die ligte in die ateljee flikker weer ’n paar keer.
“Wat de hel gaan hier aan?” Sy stem klink bewerig. Hy druk die knoppie op die klankbord om die luidsprekers te doof.
Nadat die twee sekuriteitswagte die gebou deeglik deursoek het, verskyn Bennie in die deur.
“Hier is niemand nie, meneer. Ons het oral gekyk.”
Lourens is dadelik ergerlik. “Hoe kan daar niemand wees nie? Ek weet wat ek gesien het.”
Bennie se antwoord laat hom byna sprakeloos. “Miskien was dit die spook, meneer.”
“Watter spook?”
“Meneer weet tog seker van die spook van Klok Radio?”
Dit neem die wind effens uit Lourens se seile. “Nee, Bennie, ek weet nié van enige spook nie. Watse snert is dit?”
Bennie se oë rek. “Dis oor meneer nog nie lank genoeg hier werk nie. Almal weet van die spook wat snags hier ronddwaal.”
Lourens is dadelik agterdogtig. “Trek jy my been, Bennie? Ek dink nie dis baie snaaks nie, hoor jy?”
“Nooit nie, meneer,” antwoord Bennie ernstig. “Meneer kan maar enigiemand vra. Oom Tok is die langste hier; hy sal vir meneer die hele storie kan vertel.”
“Vertel jý vir my, Bennie.”
“Meneer, ek ken nie die storie so mooi nie, maar hulle sê dit was ’n bekende konsertinaspeler wat hier in die ateljee dood is. Baie jare gelede, net toe die stasie begin het. Hier was glo ’n jong meisie wat as omroepster gewerk het. Sy en die konsertinaspeler het partykeer saam uitgesaai. En toe raak hy verlief op haar.”
“’n Bekende konsertinaspeler? Wat was sy naam?”
Bennie skud sy kop. “Ek dink dit was Boetie iemand, of so iets, meneer, ek weet ook nie. Hy het die meisie glo gevra om met hom te trou, maar sy het gedink hy maak ’n grap en toe lag sy vir hom. En toe hardloop hy hier uit en gaan aan die drink.”
Lourens glimlag. “Bennie, as jy my wil bang praat sal jy ’n beter storie moet uitdink. Ek neem aan die arme ou het toe selfmoord gepleeg?”
Bennie frons. “Nee meneer, dis nie wat gebeur het nie. Hoekom sal ek vir meneer wil bang praat?”
Lourens sug moedeloos. “Ja toe nou maar, vertel verder.”
“Soos ek sê, meneer, hy het aan die drink gegaan. En so ‘n paar dae later, terwyl die meisie hier besig was om uit te saai, toe storm hy in sy dronkenskap hier in en begin op haar skree. Hy was baie kwaad. Hy het gesê sy het ’n gek van hom gemaak en dat hy haar ’n les gaan leer.” Bennie beduie met sy hand na die hoek van die ateljee. “Dáár, in die hoek, het ’n kas gestaan waarin die sender en ander toerusting was. Toe pluk hy die deur van die kas oop en begin die drade uittrek. Maar toe vat hy per ongeluk aan ’n lewende draad en toe word hy hier op die plek doodgeskok. Oom Tok sê hy het glo vreeslik geskree. Sy lyk was halfpad verkool.”
“Magtag, Bennie!” Lourens ril effens. Hy het nie dié wending in die storie verwag nie.
Bennie vertel gretig verder. “Ja, meneer, dis verskriklik. Hulle sê die man se gees kan nie tot rus kom nie; hy dwaal nog al die jare snags hier in die gebou rond. Oom Tok sê mens kan hom partykeer nog hoor skree soos toe hy doodgeskok is.”
“Ek vat dít maar met ’n knippie sout, Bennie,” is Lourens se reaksie. “In elk geval, ek het my seker maar verbeel. Dankie dat julle kom kyk het. Maak asseblief seker die deur is gesluit wanneer jy uitgaan.”
Nadat Bennie weg is, skink Lourens vir hom ’n koppie koffie. Hy voel nog nie gereed om dadelik op die lug te gaan nie en laai nog ’n paar musieksnitte op die rekenaar. Wat ’n interessante spookstorie. Waar of onwaar, dié storie moet gehoor word.
Sonder waarskuwing begin die musiek weer oorverdowend oor die luidsprekers speel. Die ligte flikker.
“Ag nee magtag. Wat is dit tog vanaand?” Hy druk ergerlik die knoppie om die luidsprekers te doof. Onmiddellik begin die rooi liggie op die telefoon flikker, maar wanneer Lourens die oproep beantwoord, is daar weer net ’n gesuis in die gehoorstuk.
Die volgende oomblik vlieg die deur oop. ’n Blok van ’n man met ’n welige baard, geklee in kakieklere, staan die deur vol.
Lourens word yskoud.
“Wat de duiwel ...? Wie is jy en wat maak jy hier?”
Die man glimlag breed. “Ek is Ouboet van Zyl. Konsertinaspeler van formaat. Wie is jy?”
Lourens ignoreer sy vraag. “Hoe de hel het jy hier ingekom?”
“By die deur natuurlik.”
Bennie moes vergeet het om die deur te sluit. Vervlaks! Sy skok verander in woede.
“Jy het niks hier verloor nie, Ouboet van Zyl. Maak dat jy wegkom, of ek bel die sekuriteit.”
Ouboet ignoreer die waarskuwing en stap eenvoudig die ateljee binne. Hy neem plaas op die stoel voor Lourens se lessenaar en kyk hom vierkantig in die oë. “Nou toe, jy is mos besig met spookstories – ontmoet ’n regte een.”
Lourens kan nie ontslae raak van die kriewelrige gevoel wat van hom besit geneem het nie. Hy hou hom egter dapper. “O, so jy is ’n spook? Wat is dit wat jy van my wil hê, meneer Spook?”
Ouboet bly ernstig. “Ek soek ’n geleentheid om op die lug verskoning te vra vir my gedrag destyds. Ek was seergemaak en het nie geweet wat ek doen nie.”
“Op die lug nogal?” Die vermetelheid van die man darem. “Luister Ouboet, of wat jou naam ook al is. Dink jy ek is onnosel genoeg om te glo dat jy die kamtige spook van Klok Radio is? Maak dat jy wegkom of ek laat jou arresteer.”
Ouboet vlieg woedend op. “Met wie dink jy praat jy? Ek sal nie toelaat dat jy ’n gek van my probeer maak nie.”
“Aag man, kyk hoe skrik ek. Probeer ’n ander storie – die spook ding gaan nie met my werk nie.”
Dit laat Ouboet rooi sien. “Ek sê jou, ek ís Ouboet van Zyl!”
Lourens grinnik. “Ja, ja ek weet. Jy is die vark wat met jou dronk gat met elektriese drade kom speel het. Het jy nie geweet dit kan seermaak nie?” Die sarkasme in Lourens se stem is duidelik hoorbaar.
Ouboet is buite homself van woede. “Hou jou bek! Wat weet jy? Weet jy hoe dit voel om doodgeskok te word?”
Lourens besluit om ’n einde aan die gesprek te probeer maak. “Hoor hier, ek skrik nie vir jou nie. Kry jou loop.”
Ouboet storm om die lessenaar en pyl reguit op Lourens af. “Ek sal jou laat voel hoe dit voel as jy my nie wil glo nie!”
Lourens probeer desperaat wegkom, maar Ouboet kry hom aan die kraag beet en sleep hom na die ander kant van die lessenaar. Hy probeer homself teësit, maar die man is so sterk soos ’n bees. Hy ruk die kragdraad se prop met sy ander hand agter uit die klankbord uit en begin om die prop met sy tande af te byt om die kopergedeelte te ontbloot.
Lourens besef wat die man wil doen en gil so hard as wat hy kan. “Oukei, ek glo jou! Ek glo jou! Los my!”
Maar Ouboet is vasbeslote. “Jy sal voel wat ek gevoel het! Ek is nie jou gek nie.”
Hy neem die draad se twee koperpunte en druk dit teen Lourens se kaal nek. Lourens voel hoe die elektrisiteit deur sy liggaam skiet. Sy tande kners op mekaar en sy liggaam ruk onbedaarlik. Dan word dit donker ...
Stadig maak Lourens sy oë oop. Hy lê vooroor met sy kop op die lessenaar. Dit is doodstil in die ateljee. Hy lig sy kop stadig op en kyk om hom rond. Die lig teen die muur is groen, die muurhorlosie wys dis byna vieruur. Alles is netjies op hulle plek soos dit hoort. Die musiek is saggies hoorbaar vanuit die oorfone wat eenkant op die lessenaar lê. Langs hom staan ’n halfgedrinkte koppie koue koffie. Dit neem hom ’n paar sekondes om tot verhaal te kom. Hy moes per ongeluk aan die slaap geraak het. ’n Ongekende verligting spoel deur hom. Dankie tog, alles was net ’n nare droom.
Dan merk hy skielik op dat die boonste laai van sy lessenaar halfpad oop staan. Iets steek uit. “En dié?” Hy trek die omslag van ’n ou langspeelplaat uit die laai. Sy nekhare begin stadig rys en hoendervleis slaan oor sy hele liggaam uit. Die swart-en-wit foto op die omslag is effens onduidelik, maar hy herken onmiddellik die konsertinaspeler met die baard en kakieklere. Die bewoording bokant die foto lui: Konsertinaklanke met Ouboet van Zyl. 1939.

