Spoke

  • 3

Die briewe wat op SêNet verskyn, is die menings van die briefskrywers en nie noodwendig van die LitNet-redaksie nie.

Foto: Pixabay.com

Spoke gehoor, gesien en gevoel ...

Ek het al in die donker geloop en koue rillings gekry na ek bewegings en ’n ritseling in die skaduwees opgemerk het. (Of my dit verbeel het.) Toe ek heel klein was, het ons in ’n groot ou huis gebly aan die kant van die dorp, naby ’n vlei. Party nagte het die vloere gekraak en die koppies in die rak teen mekaar gestamp. Almal het geglo dit spook in die huis en ons het nie lank daar gebly nie.

Een nag het ek en my broer gaan visvang en ons moes deur digte bosse sukkel om by die rivier uit te kom. My flits het ingegee en terwyl ek ’n rukkie sit en rus, het ek ’n koue hand oor my kop voel streel. Toe spring ek dadelik weg, terug met die pad wat ons gekom het en met ’n vaart. Uit die bosse uit, en ek gaan sit in my broer se kar en wag.
 
Jare later bly ons langs die rivier in Redhouse buite Port Elizabeth, in ’n groot rammelkas van ’n huis, met ’n stoep voor onder ’n sinkdak. Hierdie nag voel dinge onverwags vreemd. Die windjie bring onbekende geluide van ver af, die atmosfeer in die lug is anders as gewoonlik. Dit is net ek, my ma, groottante en twee sussies in die huis. Skielik is daar ’n geweldige gedonder op die dak aan die voorkant. Die reuse ou huis is van sinkplate gebou en dit voel of hy vibreer. Vrees wel in my op, iets vreemd is aan die gang. Vir oomblikke is dit stil, dan is daar weer die gedonder op die dak, dit moet ’n monster wees wat wil inbreek. Ek loer by my ma se kamer in: sy lê met die kombers opgetrek tot oor haar neus, net haar groot blou oë steek uit. “Wat is dit?” vra sy benoud.
 
As die enigste man in die huis moet ek aksie neem. Ek aanvaar dit moet ’n ongedierte wees soos ’n groot gorilla (King Kong) wat die dak probeer afbreek. Dus gryp ek ’n byltjie en ’n flits en ek gaan staan by die voordeur, gereed om uit te storm. My plan is om uit te hardloop, oor die stoep tot by die tuinhekkie, daar sal ek omdraai en met die flits na die dak se kant lig. As die gevaar dan te groot is vir my om te hanteer hardloop ek verder en gaan soek hulp. Desnoods by die Weermag. Ek maak so en vlieg by die deur uit.
 
Dis die verdomde ou koejawelboom! Sy takke is swaar gelaai met harde, groen koejawels en die wind laat sy takke oor die stoepdak skuur, die harde koejawels maak daardie geluid as hulle so teen die sinkplaat se golwe stamp. Die boom is hoog genoeg dat van sy takke bokant die dak hang. Daardie nag het die wind net uit ’n ander rigting gewaai as gewoonlik, ’n seldsame windrigting, en dit veroorsaak die vreemde geluide van oorkant die rivier en die gevoel dat dinge vannag anders is.
 
Ek dink dit is Paul Gallico wat die boek Too many ghosts geskryf het. Ek het dit in omtrent 1965 gelees en feitlik al wat ek daarvan onthou is dat daar tog nie werklik spoke is nie. Vir alles is daar ’n rasionele verduideliking. ’n Huis waarvan die vloere kraak en die breekgoed beweeg, word waarskynlik geaffekteer deur die ondergrondse watertafel. Ons huis was naby ’n vlei, dit was waarskynlik kleigrond, wat die plek ’n aks of twee laat beweeg as die klei swel van die water. Dit gebeur.

Ander vreemde dinge wat in ’n “spookhuis” gebeur, kan veroorsaak word deur een van die inwoners self. ’n Kind wat sy ma haat kan ’n stoel laat beweeg met ’n toutjie onder die mat deur, gordyne wat herhaaldelik geheimsinnig aan die brand raak kan chemikalieë wees wat aangesmeer is en wat na ’n rukkie spontaan aan die brand raak. Die koue hand wat oor my kop gestreel het, kan die blare van ’n klam takkie wees. So kan mens aangaan. Maar dit keer ons nie om die oer, ingebore vrees en angs vir die vreemde in ons los te maak dat dit met ons weghardloop nie.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Tiens, Grendelstaat-effek? Ek dink nie daar is spoke nie. Al spook wat ek ook self gedoen het, was om broek op of af te kry, terwyl koue sweet op my uitslaan...
    .

  • Wie's dan bang vir 'n spook? Eendag word jy dalk een ook.
    'n Spook is nes 'n bokkapater,
    Hy loop nie sommer deur die water.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Nou wonder ek oor die bokkapater en water. Die bokram sal spoke kan weghou met daai onaardse reuk. Daai walm van bokram spook lank in my neus ...
    Ek is seker maar ’n Thomas. In die jare toe begraafplase nog besoek was op nagskof, om polisiemanne besig te hou, was grafstene darem nie gebreek nie. Nooit enige spoke gesien nie. Dit was nou in ou Kimberley se begraafplase uit laat 1890’s. Nou delf die onwettige myners sommer daar...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top