Bevoorreg genoeg om nog ? nuwe land en kultuur te kan ontdek. Opgewonde oor die onbekende. Afwagtend om die teleurstellings van die jaar af te skud.Soos Ironman met vuurvlamme aan sy voete, skiet ons duisende kilometers die lug in. Dubai lyk soos Sandton-delux vasgevang in woestynsand. Groot mensmiere skarrel onophoudelik op en af soekend na die regte vlug.
Ons land. Vyf uur later. My eerste indruk is Natal gemeng met ? knippie Oos-Kaap. Colombo. Die hoofstad van Sri Lanka. Land van Ceylon-tee, Prinses Diana se blou saffier in die mees ge-Googlede ring in die wêreld en … natuurlik krieket. ? Land wat in 1500 nC deur die Portugese beset is. Arabiere en Indiërs het hard baklei om hulle hande op ? stuk van hierdie sentrale roete te kry. Die ideale bestemming vir handelaars, immigrante, reisigers en Christelike sendelinge.
Augustus. Tropiese klimaat wat aan jou lyf klou soos lou spookasem. Die son het gesak toe ons vir die eerste keer met Sri Lanka se gasvryheid begroet word. Ons reisroete kronkel soos ? dronk slang regdeur die nuutontdekte paradys.
Soos Colombo van ouds is die ontdekking van nuwe lande in ons gesin se bloed vasgevang. Nuwe kulture. Interessante mense en disse. Die geleentheid om te sien Suid-Afrika is nié die enigste land op die wêreldkaart nie.
Sigiriya. Die eerste kol op ons kaart. Ons toerleier is gebore in hierdie pragtige land en voorsien ons voortdurend met kosbare inligting. Dit is vir hom ? verrassing om te hoor ons kom van Suid-Afrika af. ? Rariteit. Sodra die landsburgers hoor waar ons wortels lê word daar krieket gepraat. Sri Lanka is ? openbaring. ? Geskiedenis wat saamgeweef is uit internasionale politieke handelinge, verskillende kulture en gelowe. Sri Lanka het ? geskiedenis wat te lank en ingewikkeld is om oor te skryf.
Op 4 Februarie 1948 het Ceylon – Sri Lanka se vorige naam – volle onafhanklikheid verkry. Die onmin tussen die Tamils en die Sinhalese het duidelik sy merk op die land gelaat. Armoede klamp soos ? geslote hand om alles om ons. Die land is soos ? vlinder wat stadig uit sy verlede probeer losbreek.
Die natuurskoon is ? unieke ervaring. Afhangend van waar jy jouself bevind verander die natuur in ? kaleidoskoop van kleur en tekstuur. Arm landsburgers gebruik die riviere om openlik te bad en wasgoed in te was. Onpadwaardige voertuie kruip soos geroeste miskruiers om ons.
Die verkeer … die enigste ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse stelsel is die feit dat hulle aan die linkerkant van die pad ry. Woorde is nie genoeg om die alles- omvattende ervaring wat toegevou word in onwerklike, vreesaanjaende, opwindende “No Way”-uitlatings gevolg deur kopskud en lipvasbyt-oomblikke te beskryf nie. Ons lag hard vir die manier hoe hierdie mense roekeloos – nééselfmoord-handelend – bestuur.
? Twee-uurlikse uitstappie neem tussen vyf tot sewe ure – afhangende van die roete en die verkeer. Ons lag baie en ons oë rek so groot soos die kokosneute waaruit ons drink. Die paaie is geteer. Werkers is besig om opgradering op sommige dele aan te bring. Dít maak die ervaring nog meer senutergend. Padveiligheid is nie prioriteit nie. Respek en vriendelikheid onder hierdie mense is grootliks die rede vir minder sterftes op hulle helroetes. Op die meeste plekke is daar spasie vir slegs een voertuig – met die gevolg dat die eerste die tweede plek gee. Hulle paaie wemel van tweewiel bromponies en Tuk-tuk’s – die Indiese weergawe van die driewiel Goggo-mobiel.
Op pad na die 8ste wonder van die wêreld. Ons klim soos ? spinnekop teen ? muur uit. Die verkeer raak gevaarliker. Menige maal knyp ek my oë toe, net om in my man se laggende gesig vas te kyk. The Lions Rock – ? Antieke stad in die middel van die sentrale Matale distrik. ? Enorme rotsformasie wat 200 meter die lug in stoot. Nog een van Sri Lanka se geskiedkundige landmerke, met ? indrukwekkende storie. Die ingang lyk soos die pote van ? leeumannetjie op steroïdes. As fikse, hiper-nuuskierige toeriste maak ons reg om die monster uit te klim.
Soos alles wat van ver af klein lyk het hierdie leeu-rots ons verras. Enorm is te klein om die presiese omvang te beskryf. Miljoene trappe wat geklim word om by die ingang uit te kom. Die verkeer is besig met mense wat op en af klim. Toeriste van reg oor die wêreld kom hierheen.
Die trapreëling is ? geroeste konstruksie wat langs die rots opkruip. Vir iemand wat so bang vir hoogtes soos ? heiden vir godsdiens is, was dit ? groot uitdaging vir my. Die wind het verwoed begin waai hoe nader ons aan die wolke kom. Om aan die ogiesdraad te raak wat sterker beskerming moet bied is glad nie wys nie. By plekke is dit deurgeroes.
Foto’s moes ek neem – dit was nogal ? oefening op sy eie. Ek wou nie die kamera vir my man aangee nie, sou die wind dit dalk uit my hande skep en meters en meters ondertoe gooi. Die uitsig. Priceless. So ver soos die oog kan sien is daar groen bome, berge – tipies Afrika-landskap. Die muursketse wat al vir honderde jare teen die rotswande pryk is iets om vir altyd te onthou. By die tuine kon ons rustig loop en asem skep. Vir die baie waaghalsige vreeslose siele was daar die opsie om nog ? paar meters die lug in na die koning se swembad te gaan kyk.
Op ons verdere roete na die asemrowende teeplantasies besef mens presies hoe selfonderhoudend Sri Lanka is. Natuurlike watervalle omring met lowergroen-teetapyt verras. Vroulike handearbeiders werk hard om oorsese sakke vol te maak. Sir Thomas Lipton en Rothschild s’n.
Ons roete eindig in Bentota. Ware see-paradysmanifestasie op aarde. Skokmooi natuur. Koffietafelboek-materiaal. ? Land wat swaar kry. Armoede vermeng met opregte nederigheid, liefde en respek vir ander.
Met nuwe oë kom ek terug. Elkeen se verlies en seer word onder ? selfsugtige vergrootglas geplaas. Soms neem dit die vriendelike opregtheid van ? vreemdeling en die swaarkry van ? onbekende land om persepsies te verander.

