Soos 'n skaap na die slagpale

  • 12

Hand 8:32  ... Soos ’n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ’n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy Sy mond nie oop nie.

Vandag nog is daar soveel mense wat Jesus slegsê, verkleineer en belaster. Mense wat Hom nooit ontmoet het nie. Mense wat van Hom gehoor het, maar Hom nooit leer ken, ontvang of aanvaar het nie.

Vandag nog staan Hy met Sy onvoorwaardelike liefde voor hulle en wag geduldig.  Wyl hulle Hom in die gesig spuug ken Hy die einde van die begin af. Dit wat Hy begin het, dit sal Hy volbring. Nooit sal Hy laat vaar die werke van Sy hande nie.

Berdine

  • 12

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    Berdine, gaan lees Joh. 18 & 19. Jy sal sien dat Johannes se Skaap eers ophou praat toe hy sterf. Hy kon eenvoudig nie sy mond toehou voor dit nie.

  • Kobus de Klerk

    Watter onbegrip, totale onbegrip, demonstreer jy, Chris. Is dit nie tragies nie... vir jou part.

  • Berdine,

    So waar en mooi gestel!

    En om te dink hy het dit gedoen juis vir die wat hom nie ken nie, selfs die wat op hom neerkyk in vandag se dae, en Hom bespot. Die mooiste gedeelte natuurlik is Joh 20 wat skryf oor: Die graf is leeg! Jesus het vir ewig opgestaan. Niemand sal Sy woorde op aarde ooit weer kan stil. 'n Nuwe begin vir die wat KIES om onder Sy vrede te lewe...

    Hoop ek lees weer gou iets van jou.

     

  • Kobus de Klerk

    Thomas,

    Niemand wat weet van jou en waarvoor jy staan en veral jou bodemlose insigloosheid, sou enigsins die verwagting hê dat jy sou begryp watter diepsinnige boodskap Berdine hier geplaas het nie.

    Maar om dit vir jou op jou vlak te verklaar - die punt wat sy maak, ou stommerik, is dat daar selfs en dalk veral, vir jou ook nog hoop en bevryding is...

    En die dat ek jou stommerik noem, is nie omdat ek jou wil beledig nie, maar ek wys maar gewoon uit dat jy self op 'n stadium in die verlede verkies het om 'n stommerik te wees (Psalm 14:1; 10:4; 53:1). Jy sien, van julle soort was daar maar nog altyd so 'n paartjies - lees gerus weer daardie Woordverwysings - selfs al duisende jare gelede. En soos toe, doen julle nog steeds vandag... Julle ondersoek nie - beweer net gewoon daar is geen God, nie en spandeer dan omtrent al julle tyd en verseker al julle vrye tyd, om bewyse vir julle sotheid te vind - en die rede waarom julle bly soek en soek, is omdat julle nooit sulke bewyse sal vind, nie. En die dilemma probeer julle verdiskonteer deur vir ander te sê hulle moet bewys dat God werklikheid is - sien jy watter arme stommelinge julle is?

    Natuurlik sien jy nog nie, anders sou jy tog ter wille van jouself iets daaromtrent wou doen, nie waar nie?

    Arme jy...

    Kobus de Klerk

  • Chris, Jesus het jou ook lief en ek weet nie wat jou so ontsaglik kwaad gemaak het vir hom nie, maar ook daaraan sal daar ’n einde kom, want alle dinge kom tot ’n einde.  Alles sal vergaan, maar liefde sal bly staan. Ek glo die Christene wat jou in jou lewe so seermaak, reageer nie vanuit Sy Gees of liefde nie en ek vra jou daarvoor om verskoning.   

     
    Ek kan sien dat jy werk maak om Jesus af te breek in enige en elke skrywe van mense op LitNet en ek kan verstaan dat jy iewers baie seergekry het. Al jou energie is gemik om die beeld van Jesus af te breek, maar dit kan nie gebeur nie, want Hy het juis vir jou gesterf en meer as dit... opgestaan.     
     
    Die beeld van ’n skrywe wat al baie oud is kom my voor. Ek’t dit nou op Gmail  gaan opsoek en myself  weer besimpeld gelag. Hoe om ’n kat ’n pil te gee.   

     
    Jesus het nie soos daardie kat gereageer op die marteling wat hulle Hom toegedien het nie. Hy was ‘stil’.  Dit is wat die Woord bedoel. Hy het hulle nie teengestaan nie... net soos ’n skaap wat slagpale toe gelei word nie veg en baklei nie.  Hy het homself gegee omdat Hy vir jou... en vir my in gedagte gehad het en omdat Sy liefde groter was as die pyn en vernedering wat Hy moes deurgaan.   

     
     Jy’t gesê ek moet Johannes 18 en 19 gaan lees en ek het die volgende gekry in hoofstuk 19... 

    Joh 19:9,10  en ((toe het, dis nou Pilatus))  weer in die paleis ingegaan en vir Jesus gesê: Van waar is U? Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie. En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?   

     
     Dit is wat die Woord bedoel dat Hy stil was. Hy het niks gedoen om Homself te red nie. Jesus het Pilatus se guns gehad. Pilatus wou Hom nie laat doodmaak nie en het alles probeer om hom vry te kry. Jesus het gekies om die pad te stap sodat mense soos ek en jy in een kosbare verhouding met die Hemelse Vader herstel kan word. Dit wat Hy begin het in my... en dit wat Hy begin het in jou... dit sal Hy volbring.
  • Kobus de Klerk

    Johannes 19:10-11 – “En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie? Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.”

    Maar Jesus verduidelik wél en stel dinge in perspektief. Ter wille van Homself, is Hy stil en verdraagsaam, maar ter wille van ander, is Hy spraaksaam en streng en regverdig, want daar kom ’n Dag…

    Mattheus 11:20-24 – “TOE het Hy die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, begin verwyt, omdat hulle hul nie bekeer het nie: Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle. En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou.”

    Mattheus 12:34-37 – “Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.”

  • Chris Dippenaar

    Hello Berdine

    Ek was seker nog my hele lewe lank ongelowig en het eers die laaste paar jaar 'n belangstelling ontwikkel in die Bybel. Ek vind dit 'n boek wat vol raaisels is met 'n rykdom van intellektuele idees, party goed en party nie so goed nie, wat 'n venster bied op die antieke verlede. Dit is sonder twyfel een van die fondasie dokument van die Westerse beskawing en ek dink dat enige een wat belangstel in die onderwerp, en meer wil leer en verstaan daaroor, baie arm sal wees as hy dit doen sonder kennis van wat in hierdie boek geskryf is en dit wat daarop gevolg het.

    In die 18de en 19de eeu het daar in Europa, veral Duitsland, 'n vlaag van rasionaliteit getrek en nêrens was dit meer sigbaar as in die studie van die Bybel nie. DF Strauss, Albert Schweitzer, FC Bauer, Bruno Bauer en Julius Wellhausen was maar net 'n paar van die belangrikste figure in die ontwikkeling van belangrike nuwe metodes om die geheime van die Bybel en die oorsprong van die Christengeloof te ondersoek. Dit is in reaksie hierop wat Christen fundamentalisme sy kop uitgesteek het in die laat 19de en vroeg 20ste eeu. Saam met evangelisme het dit ten doel gestel die terudraai van die Christenklok na die "goeie" eeue voor die Verligting (party groepe wou so ver terug gaan as die Reformasie!). Dit ten spyte van die mensdom se inbeweeg in 'n wêreld in waar dit duidelik was dat die wetenskap die toon sou aangee.

    Ek dink meeste ongelowiges en gematigde Christene was salig onbewus gewees van, en het hulle min gesteur aan, fundamentele en evangelistiese groeperings. Dit tot die fundamentele van 'n ander geloof vliegtuie vasgevlieg het in geboue. Die aandag was gevestig op voorbeelde van wat kan gebeur as geloof toegelaat word om te floreer op armoede en veral onkunde. Met 'n skok het ons besef dat liewe tannies soos jy en Trienie, sonder dat julle blykbaar dit ooit besef, die verspreiders is van hierdie gevaar. Met julle teddiebeer Jesus, julle KdK "bulldogs" en die vooruitsig van die apokalips net om die draai spandeer julle meer tyd om Darwin se teorie te ondermyn as kyk na julle heilige geskrifte. Julle wil 'n wêreld van moraliteit en reëls hê waar 'n analfabeet soos KdK en sy soort gaan besluit wat is reg en verkeerd en hoe dit toegepas gaan word, sonder om ooit verder as julle neuse te dink. Hoe lank dink julle gaan dit neem voor 'n KdK sy eie weergawe van 'n Middeleeuse poushoed op sy kop plak? Trienie se gunsteling profeet, ek het sy naam nou vergeet, sal met sy gat land op die sypaadjie as hy gelukkig is, iets wat ek vir hom kan voorspel, en ek is nie eeens 'n profeet nie.

    Richard Dawkins, of jy nou met sy idees oor geloof saamstem of nie, het die wiel laat draai met 'The God Delusion'. Dit was baie duidelik dat as die fundamentalis nie redelik gaan raak oor wat die wetenskap te sê het oor die oorsprong van die mens, die enigste opsie sou wees om die onoorbrugbare probleme met geloof en teologie onder Christene se neuse te vryf. 'n Eeu van intellektuele armoede en oneerlikheid staan reg om te boemerang op die fundamentele Christen. Verby is die dae dat jy kan dweep met geloof op 'n werf soos hierdie sonder om jouself te regverdig. Julle maatjie, KdK, skiet homself en vir julle elke dag in die voet deur te demonstreer hoe die wêreld gaan lyk as sy soort ooit in beheer moet kom.

    Berdine, doen my 'n guns, voordat jy volgende keer my sielkundig probeer ontleed. Gaan lees jou Bybel met aandag,en nie net die gedeeltes waarvan jy hou nie. As jy nie jou opinie oor jou geloof kan hou binne die mure van jou kerk nie, gaan jy baie beter moet doen as die emosionele en soetsappige storie van die Stil Held, met die Richard Clayderman musiek in die agtergrond, wat jy hierbo probeer verkoop het. Ek wil jou nie naïef noem nie, jy sal dit dalk as 'n belediging beskou, maar die versoeking is groot.

    Die ander groot guns, en die keer doen jy dit vir jouself, is om te gesels met KdK en sy soort. Vertel hulle dat die dae van skuimbolle blaas en arms swaai verby is. Niemand skrik meer daarvoor nie. Konfronteer hom as dit duidelik is dat hy twak praat. Steek vir hom 'n lekker preek af sodat ons kan sien dat daar so 'n klein bietjie murg is in die tannie se rug.

    Om af te sluit op 'n positiewe noot, ek het lief geraak vir die Bybel en geniet om dit, en daaroor, te lees. Waar ek aanvanklik die Bybel gesien het as iets waarmee ek die Christen kan klap teen die kop, het ek respek gekry vir die skrywers van hierdie ongelooflike komplekse boek (boeke is dalk 'n meer gepaste benaming). Dit is snaaks hoe die verskeidenheid van stemme waarmee hierdie boek kommunikeer met die leser eers regtig uitstaan as dogma en geloof nie meer daar is as filter nie. Die beeld wat jy hierbo skets van Jesus behoort aan Markus. Jesus, die heilige man, niks meer, stomgeslaan deur dit wat besig is om met hom te gebeur. Nadat God sy gees op hom laat neerdaal het en hom, 'n eenvoudige mens, uitgekies het as sy geliefde seun, voel Jesus asof God hom verlaat het. Dit is die Jesus wat kan sê: "Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God", woorde wat geheel en al pas in die konteks van Markus se verhaal. hoe maklik is dit om simpatie te hê met hierdie ontnugterde karakter. Hoeveel anders is hy nie as die wannabe-filosoof-Jesus van Johannes: "Ek is dit, en Ek is dat". Ek kan hom hoor dink: "Paar ure hier aan die kruis, twee nagte in die graf, 'n paar weke rondhang hier op aarde en dan huistoe, geen probleem vir 'n god nie". Die arrogante Offerlam van Johannes wat jy verwar met die Jesus van Markus. Jy kan seker raai dat ek nie baie van Johannes hou nie.

    Laastens, ek belowe dat hierdie die laaste paragraaf is, anders as mense soos Richard Dawkins en Christopher Hitchens, sien ek nie geloof as die wortel van alle kwaad nie. Ek stem ook nie heeltemal saam met Steven Weinberg se woorde: "With or without it [godsdiens] you would have good people doing good things and evil people doing evil things. But for good people to do evil things, that takes religion". Dis nie dat ek dink die geskiedenis is nie vol van afskuwelike dinge gedoen, en dat dit nog steeds gedoen word, in die naam van godsdiens nie, maar Weinberg se woorde verdoesel die euwels wat gedoen word deur goeie mense wat niks te doen het met godsdiens nie. Ons is almal menslik en die meeste van ons is goeie mense, gelowiges en ongelowiges, maar ons het almal al dinge gedoen waarop ons nie trots kan wees nie, iets wat maklik euwel genoem kan word en niks met godsdiens te doen het nie. Ek hoef nie as goeie mens in die naam van geloof iemand op 'n brandstapel te verbrand voor ek kwalifiseer as 'n euweldoener in die woorde van Weinberg nie. My menslike natuur is meer as in staat daartoe: Goeie mense doen gewoonlik goeie dinge, maar partykeer fok hulle sleg op. Euwel mense doen gewoonlik euwel dinge, maar elke nou en dan verbaas hulle ons.

    Chris

    Ns. As KdK hier lees, het jy al gedink daaraan om 'n YouTube video te maak waarin jy die oorlogstegniek van die Israeliete demonstreer met jou herderstaf en klipswaard aangeheg aan die onderkant met sening?

  • "... ken Hy die einde van die begin af." 

     
    - Wat natuurlik beteken dat vrye wil 'n volslae illusie is. Ons hoef ons dus nie verder te bekommer nie.
     
  • Kobus de Klerk

    Berdine is so ywerig vir die HERE Jesus. Dit is baie mooi en sy het die waardevolle Woord mooi hier gebring.

    Maar dan sien ons ’n vreemde dinge wat Berdine in haar ywer doen… sy voel dit nodig om haar mede-gelowiges en mede-Christene, wie dit ookal mag wees, te oordeel en te lig te bevind in haar ywer om die agnostikus, Chris, te bearbei.

    Nou wonder mens waar sy daaraan kom? Is daar dan enige sodanige voorbeeld van ons HERE Jesus waarop sy haar kan beroep? Het Hy ooit só ’n voorbeeld gestel? Het Hy sy dissipels, die ware gelowiges, wie dikwels ook maar vol foute en menslikheid was, ooit geoordeel en te lig bevind, soos Berdine met haar mede-Christene doen? Nee, daar is géén sodanige voorbeeld nie  - trouens, ons HERE Jesus beskerm selfs ander wat nie eens in die kring van die dissipelskap beweeg nie, maar Sy Naam ook aanroep in opregtheid, al is dit op ’n ander manier as wat die dissipels doen het, teen sulke aanstellerige afkrakery (Markus 9:38-40; 1 Korinthiërs 12:3).

    Het die HERE ooit die voorbeeld gestel dat die een gelowige belangriker is as die ander en op die ander mag neersien? Stellig nie, HY doen die teenoorgestelde en dring aan op nederigheid (Mattheus 11:29).

    Nou, watter gees lei dan vir Berdine om só te maak? Ons sien dat ons HERE Jesus dit nie doen nie…

    Of is dit maar net ’n kwessie dat Berdine só ywerig is dat sy ongelukkig nie talm om te besin daaroor dat die Gees van die HERE Jesus ander ware gelowiges op verskillende maniere lei om Sy werk te doen, nie en dat háár manier nie die enigste manier is nie en sy dan in haar ywer voel dat sy op sommige van haar mede gelowiges en Christene se skouers moet klim in ’n poging om bo hulle uit te troon om beter sigbaar te wees vir die agnostiese Chrisse van die ou lewe?

    Ook dít is nie nodig nie, want die Woord Wie sy so ywerig hier bring is só kragtig dat die Chrissie van die ou wêreld nie anders kán as om dit te sien, nie… sy hoef dus nie op haar mede-gelowiges te klim of te trap om dit te bewerkstellig nie… en dié Woord is sóveel kragtiger en groter as ons, die feilbare, afhanklike en nietige skepsels wie die uitnemende voorreg het om die Woord te mag bring  - elke keer eerste aan onsself, want ons sien en hoor álles wat ons aan die Chrisse van die ou wêreld verkondig nog vóór dit rugbaar word aan die Chrisse van die wêreld. En só is die Woord mos altyd ’n tweesnydende Swaard.

    Intussen kan Chris maar ter harte neem dit wat Berdine aan hom uitgewys het - daardie absolute onbegryplik groot en onbaatsugtige Liefde van die HERE, ook vir hom as skepsel en tot sy redding, al verstaan hy dit nog nie.

    Dit is só waar en bemoedigend wat Berdine elders weergee van die Woord - die HERE laat vaar nóóit die werke van Sy hande nie.

    Groete in liefde aan al die yweraars vir die HERE. Mag ons almal sorgvuldig luister in ons ywer. Die HERE Jesus, God, het ’n groot behae in Sy yweraars wie vir Hom teen die moedswillige Godloënaars ywer ooreenkomstig Sy Wil en seën hulle graag (Numeri 25:6-12).

    Kobus de Klerk

  • Jesus was 'n doodgewone mens maar hy was geestelik verlig. Christus is 'n titel wat beteken "die verligte een". Hy het ons kom wys hoe ons ook soos hy kan wees. Die vraag moet wees - Wie is ek?

    As jy jouself ken sal jy geken word, maar as jy jouself nie ken nie sal jy in armoede bly en jy self sal die armoede wees (geestelik). Wat uit vlees gebore is, is vlees maar wat uit gees gebore is, is gees.
    Jesus het nie daarvan gehou dat mense hom ophemel nie, hy het dit beskou as afgodery. Hy was nederig.

  • Kobus de Klerk

    William,

    Wat jy sê klink so mooi, totdat mens besin daaroor en dan die fineer van mooiheid daarvan afskraap en sodoende agterkom watter dodelike leuens jy verkondig.

    Die jesus waarvan jy praat, ken ek nie - trouens, niemand ken hom nie en jy ook nie. Jy maak hom vir jouself op.

    Nog een van die talle verwarde maaksels van mense wat net te mislei is om nederig te wees en die Waarheid as enigste maatstaf te aanvaar - nou gebruik hulle bietjie van die Waarheid en voeg daarby hulle eie leuens en die resultaat? 'n Dodelike leuen, want die Waarheid duld geen leuen nie en woon nie saam met die leuen, nie. Die Waarheid is te Heilig, te suiwer.

    Jy is dus geen ware gelowige nie. Jy kies sekere dele van die HERE Jesus Christus en verwerp eenvoudig, sonder enige gronde of regverdiging, die res.

    Jy is heel waarskynlik 'n boeddhis wat verward raak met die HERE Jesus Christus se bediening op aarde en die boeddha, Siddharta Gautama. Nou maak jy van albei wat hulle nie is nie. Jy degradeer lasterlik en die HERE Jesus tot gewone mens sonder Godheid en jy verhef Gautama tot iets wat hy gewoon nie was nie - twee leuens in een. Nou het jy vir jouself so 'n jesus-boeddha hibried.

    Wat 'n onding.

    Wanneer mense vir die HERE Jesus Christus - wat beteken 'Gesalfde' en nie jou boeddhistiese 'verligte' nie - gesê het dat Hy die Seun van God is, het Hy hulle nie daarin teengegaan soos jy beweer nie, maar ondersteun, want Hy is die Waarheid en dit is die Waarheid dat Hy die Seun van God is - tewens, dit is op hierdie rots, hierdie kennis van die openbaring van die Godheid en Seunskap van die HERE Jesus Christus en bevestiging daarvan deur die mens, Petrus, dat die onvernietigbare Kerk van die HERE Jesus Christus gebou is  - Mattheus 16:15-19. Vers 20 dui daarop dat die HERE wil hê dat mense Sy Christusskap  self moet agterkom, want Hy wil dit Self aan hulle openbaar en nie by wyse van spreke van ander, terwyl Hy nog Self as Mens in hul midde was, nie en sluit vers 20 in hierdie verband direk by vers 17 aan..

    Dit gaan gewoon maar net jou verstand te bowe en nou reduseer jy die Godheid, die Woord van God, Jesus Christus die HERE, tot iets wat jy kan begryp, naamlik gewone mens.

    Om uit die Gees gebore te wees, beteken die wedergeboorte deur die inwoning van die Woord en die Heilige Gees en die uitlewing daarvan in die Waarheid van Christus, dei Woord van God.

    Jy maak dus die HERE tot leuenaar, want wat jy verkondig is strydig met die Waarheid  - Johannes 14:6-7.

    Hopelik is jy net mislei en sal jy nog die Lig werklik sien.

    Onthou, weereens, jy wat die Kerk en die HERE Jesus se Waarheid so probeer vernietig met jou woorde - dit wat Berdine alreeds weergee het, naamlik dat God nooit die werke van Sy hande laat vaar nie en dat dit nie moontlik is om die ware Jesus Christus, selfs net in Sy gedagtenis, te vernietig nie - so sal Hy ook nooit Sy Kerk oorlaat om deur mense geplunder te word nie... Sy Kerk sal selfs die doderyk oorleef - sien weer Mattheus 16:18.

    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top