al is sy, meer áf as toe, nesse Lady Gaga gekamoefleer,
gereduseer deur ’n zef kletsrymgroep, totte profaniteit,
met monument vereer, deur Afrikanerpaparazzi et al,
gooi onkund’-ontkenningskundiges nog virre vale wal
enige kommissie van ondersoek ten opsigte daarvan,
binne wetenskaplik raamwerk, “of sy sosio-linguïsties,
pedagogies, juridies, by meerderheidswens sal inpas,
of haar geboorteplek ooit êrens elders as kolonie was,
sal moet bewys lewer, vannie diepgeworteld’ weersin,
watter kleur ‘ilwimi’ van haar sprekers toe manifesteer,
ja, wie ware meerderheid van sprekervolk konstitueer,
waarom leerders oor begin van Afrikaans so min leer,
vryheidstryders haar tot ‘Boer se taal’ verpejorativeer”
stap-vir-stap, afgemete, van gebruik(er)sbasis gestroop,
’t sy, nes //Xam, dan g’n verweer, offe oorlewingshoop,
lê antwoord defnislis nie inne kwasi-pseudo-etnisiteit,
inne teruggryp, na strooihalms van Afrikaner-identiteit,
inne ultra-modern IKT-apatie, onrealisties tonnelvisie,
nie terwyl sy glattie ampt’lik Afrika-taal-status hettie
Jacobus Faasen

