Sonja Loots (1972–)

  • 0

Sêgoed van Sonja Loots:

“My verbeelding het die grootste invloed op my as skrywer. Persoonlike ervaring is net ’n vertrekpunt. As iets my ontstel, wil ek daaroor skryf.” (Die Burger, 7 November 1995)

“Om te skryf, is vir my maklik. Dis wat voor en ná die skryf kom wat moeilik is. Ek begin nie voor ek presies weet wat my openingsin gaan wees nie. Vir dae aaneen sê ek sinne hardop vir myself waar ek ook al gaan.” (Die Burger, 7 November 1995)

“Daar’s ’n verskil tussen ’n skryfstremming (writer’s block) en as jy niks het om te sê nie. As jy iets voel roer en dit nie kan verwoord nie, is dit ’n skryfstremming. As ’n mens niks het om te sê nie, moet jy liewer stilbly.”  (Die Burger, 7 November 1995)

“Om skeppend te skryf, is soos die erotiek. Die twee is soortgelyk in die sin dat daar altyd spanning is tussen totale absorpsie en om terselfdertyd iets van jouself vir jouself te hou. Jy beweeg heeltyd op ’n grens.”  (Die Burger, 7 November 1995)

“Ek beskou die joernalistiek as vernieling van my kunstenaarskap. Mense dink dis verwant, maar dis nie ver of na genoeg aan mekaar om sin te maak nie. As jy kreatief skryf, het jy respek vir elke woord. Dis al wat saak maak. Met joernalistiek is woorde soos pitte. Wat belangrik is, is die inligting – nie hoe jy dit sê nie.” (Die Burger, 7 November 1995)

“Wat my pla, spesifiek aan Suid-Afrika, is, behalwe dat ons nie na ons intellektuele kyk en hulle koester nie, is daar geen mentorskap of ondersteuning nie. Daar’s geen finansiering nie, en daar is ook hierdie aktiewe anti-intellektualisme.” (By, 22 Oktober 2011)

“Jy weet, ek háát rugby. As iemand anders daarvan hou, fyn pikkewyn,whatever blows your hair back, maar ek háát dit. En in hierdie land mag jy dit nie sê nie, want dit beteken jy’s ’n dunlip prissy; jy’s nie ’n goeie sport nie. Ek sou graag die reg wou hê om taamlik ferm te verklaar dat dit absoluut zip zero vir my doen. Elke Vrydag is rugbydag by albei my kinders se skole en as ek op daai skoolgrond kom en ek sien daai hele skare van grou hempies, daal daar regtig ’n groot grouheid op my neer.” (By, 22 Oktober 2011)

“As ek oor my Afrikaanse taal- en kultuurpolitieke erfenis dink, aan al daardie volks-vaders en seker maar die moeders ook, is daar woede en skaamte en verwyt oor wat hulle aangevang het. Maar ook ’n verbondenheid en ’n mate van begrip waarvan ’n mens nie kan wegkom nie. Ek kan my houding die beste opsom deur te sê ek is deernisvol die moer in vir ons Afrikaanse voorvaders.” (By, 22 Oktober 2011)

“Die belangrikste les wat ek by Etienne van Heerden geleer het, is dat skryfwerk dissipline verg. Jy moet doodeenvoudig gaan sit en begin skryf. En dit is nie altyd maklik nie.”

Oor hoe belangrik dit is om te lees; waarom ons moet lees: “Russel Hoban het gesê ons skryf fiksie omdat ons fiksie is. Ons lees boeke om onsself en ander te verstaan. André Brink sê wanneer jy ’n boek lees, is jy geheel en al betrokke by die somtotaal van menslike ervaring wat in die boek opgesluit lê. Lekker, nè?” (Die Burger, 26 April 1999)

Kan enigeen skryf of moet jy ’n talent daarvoor hê? “Jy moet ’n aangebore talent hê, maar dit beteken nie jy hoef geleerd of belewe te wees nie. Jy hoef nie eers te kan spel nie. As jy ’n skrywer is, sal jy dit in jou murg kan voel.” (Die Burger, 26 April 1999)

Gebore en getoë

Sonja Loots is op 6 Augustus 1972 op Kimberley in die Noord-Kaap gebore, die oudste kind van Willem en Kristel Loots. Willem het by Spoornet gewerk en Kristel het later ’n bekende skrywer van veral liefdesverhale geword. Sy het ’n jonger broer, Werner.

As gevolg van haar pa se werk het die gesin op verskeie plekke in die land gewoon, soos Klerksdorp in Noordwes, Durban en Goodwood in Kaapstad. “Al is jy klein, hou jy tog iets oor van elke plek.”

Sonja het haar kleuterjare op Klerksdorp deurgebring. Haar vroegste herinneringe is aan die stoep van die spoorweghuisie, die uitstappies na die bure om die televisieprogram Dallas te kyk en die vreesaanjaende ritte agterop haar pa se motorfiets deur die strate van Klerksdorp.

Sedert standerd drie is sy ’n Kapenaar wat eers in Parowvallei en toe in Goodwood skoolgegaan het. Sy matrikuleer in 1990 aan die Hoërskool JG Meiring in Goodwood.

Sonja vertel aan Die Burger (2 Mei 1992): “Ek het groot geword in 'n huis vol boeke. Ek het begin skryf deur baie te lees.”

Op hoërskool het Sonja tydskrifverhale begin skryf vir sakgeld en van haar stories ingeskryf vir wedstryde. In 1988 het sy op 15-jarige ouderdom en in standerd 8 (graad 10) ’n landwye kortverhaalwedstryd gewen. Die kompetisie is aangebied deur die ATKV in samewerking met die stadsraad van Verwoerdburg. Sonja se kortverhaal, “Floewp”, het oor ’n gesin se aanvaarding van ’n seuntjie met Down-sindroom gehandel.

Sy het onder andere deelgeneem aan die Skrywers ’90-kompetisie, ’n landwye opstelkompetisie wat jaarliks deur HAUM-Uitgewers in oorleg met die Bloemfonteinse Skrywersvereniging gereël is. Hier is sy as die provinsiale én landwye wenner aangewys. Daarbenewens is ’n kortverhaal wat sy geskryf het, gepubliseer in Inknat, ’n bundel wat deur HAUM-Uitgewers uitgegee word.

In die landwye Afrikaans-Olimpiade wat jaarliks deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns gereël word, en waaraan ongeveer 8 000 leerlinge deelgeneem het, is Sonja as die naaswenner bekroon. Gedurende die wintervakansie van 1990 het sy ’n Afrikaans-week bygewoon, waar sy in ’n opstel-kompetisie as die naaswenner aangewys is. Sy het ook ’n poësie-werkswinkel onder leiding van die bekende digter George Weideman bygewoon. Hier is sy as die belowendste jong digter by die werkswinkel aangewys.

Verdere studies en werk

Na skool is Sonja na die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1993 haar BA-graad (cum laude) behaal het, en daarna haar honneursgraad, asook haar MA in Afrikaans-Nederlands, aan die Rhodes Universiteit, beide cum laude. Op Stellenbosch was sy die redakteur van Penseel, die US se blad vir studentepoësie.

In 1992, haar tweede jaar as BA-student, wen sy die eerste én tweede prys in Sanlam en Tafelberg se Jong Stemme-wedstryd.

Nadat sy haar BA voltooi het, het Sonja in 1993 die Junior Woordkunsbeurs van die Stigting vir Skeppende Kunste ontvang, asook die M-Net-beurs vir Skeppende Skryfwerk. Dit het haar in staat gestel om ’n honneurskursus in Afrikaans-Nederlands aan Rhodes Universiteit te volg. Haar MA-tesis was getiteld “’n Intertekstuele studie: Die werfbobbejaan van Alexander Strachan”. Dit is op Grahamstad dat sy Spoor, haar eerste boek, geskryf het as deel van haar kursus in skeppende skryfwerk onder leiding van Etienne van Heerden.

Na haar studentejare sluit Sonja haar as redaksielid by Die Burger aan. Sy was eers kopieskrywer in die promosie-afdeling en later hof- en Hooggeregshofverslaggewer. Daarna het sy twee jaar as bladuitlegkunstenaar en subredakteur in die koerant se nagkantoor gewerk.

In 1995 is Spoor gepubliseer en het dit dadelik groot belangstelling ontlok. Die titel het raakpunte met talle spore, soos plantspore, dierspore en treinspore. En dan is daar ook die spore van twee kinders waarin Sonja loop totdat hulle volwassenheid bereik. “Terwyl ek geskryf het, het dit gevoel asof ek op hulle hul spoor loop, op die spore van die geskiedenis,” vertel sy aan Màri-Anne Swartz (Die Burger, 7 November 1995).

Nadat sy gehoor het van twee vliegtuie wat in aparte voorvalle in die Sederberge geval het, het sy besluit om dit as die uitgangspunt van haar storie te gebruik. “Ek is heel betotteld oor vliegtuie,” verduidelik sy aan Màri-Anne Swartz (Die Burger, 7 November 1995). “Hulle is soos sterre – pragtige goeters wat verhef is bo alle roetine en saaiheid hieronder. As ’n vliegtuig val, is dit so ’n onbeskryflike verlies – dis soos ’n ster wat uit sy baan neerskiet. Dis so melancholies.”

Sonja voel sterk op die mens se invloed op sy omgewing en die feit dat baie mense so traak-my-nie-agtig met die omgewing omgaan en in Spoor spreek sy fel kritiek uit op die vernietigende invloed wat die mens op die natuur het en in samehang daarmee op elke mens se lewe. “Die twee hoofkarakters het ’n onvervulde lewe omdat hulle of hul ouers ’n verwoestende impak op die omgewing gehad het. Dis asof hulle moet boet vir ’n sonde.”

Oor Spoor skryf Madeleine van Biljon (De Kat, 11 Mei 1996) dat al is Sonja jonk, sy nie terugdeins vir ’n verhaal wat wyd strek nie.  Haar ouderdom slaag sy reeds daarin om ’n roman met atmosfeer te skryf wat “meer kinkels het as ’n Aran-trui”.

In Beeld het Gretel Wybenga (Beeld, 11 Desember 1995) geskryf: “Spoor het die toon en aanslag van ’n klaaglied oor die sinnelose verbruik en vermorsing van die geskape wêreld, en spesifiek hier, die dier wat spoorloos aan die verdwyn is. Hier en daar is die boodskap te eksplisiet, soos in die herhaalde beskrywings van walglike vlesige maaltye. Die kindergebed van Charity vir die opgestopte diere wat in die gang vassit, was ook myns insiens ’n geval van oorsentimentalisering.

“Die nuusverklaring noem die publikasie ’n ‘roman’ maar myns insiens lê dit onder andere weens die geabstraheerde introverte aard daarvan gekombineer met die lengte (83 bladsye sonder die vele wit bladsye tussen hoofstukke), nader aan die poësie. Charity en Sean word nooit mense nie – dis nie kritiek nie – maar word verstrak tot stemme, tot simbool. Wou die teks nie dalk ’n gedig wees nie? Wát ook al, het dit steeds nie vir my in die vorm ingesak wat daarvoor bedoel is nie. As roman is die ryke stof nie ten volle deurgewerk nie, en die aanbieding struktureel te los. Wat nie wil sê dat die debuut nie beïndruk nie. Dis besonder vindingryk en die subtiele hantering van motiewe wat op mekaar inspeel, dwing bewondering af. Dié jong skryfster het die instink vir die spel wat ons met woorde speel.”

In Die Burger van 22 November 1995 skryf Louise Viljoen: “Van spore en spoorsnyers het ons al meermale in die Afrikaanse letterkunde gelees. Sonja Loots se klein maar gelade debuutroman Spoor ontgin egter op eiesoortige wyse die psigologiese en simboliese potensiaal van die mens-, dier- en treinspore wat daarin voorkom. Dat die roman onder meer die verhaal van die vlugtige, nie-vaspenbare spoor gaan wees, word gesuggereer deur die Herman Hesse motto waarin daar sprake is van raaisels wat nooit opgelos word nie en kennis wat nooit verwerf word nie. Die leser wat hoop op ’n konvensionele oplossing vir die spanninge wat in hierdie roman opbou, word dus teleurgestel, maar ryklik daarvoor vergoed deur die rykdom van suggestie, simboliese inhoud en magiese bekoring wat dié teks inhou. (…) Loots is kennelik een van daardie rare skrywers wat soos haar hoofkarakters 'n oor het vir die stroming van lewe in die mees onwaarskynlik en oënskynlik lewelose dinge. Met hierdie vermoë gaan sy nog wêrelde oopskryf vir lesers van die Afrikaanse roman.”

Vroeg in 1999 het Sonja haar woonstel in Woodstock gegroet en na Johannesburg getrek, waar sy in Brixton gaan bly het en as artikelredakteur vir De Kat gewerk het.

In 2002 is sy aangestel as boekeredakteur by Rapport, ’n posisie wat sy tot 2005 beklee het. In 2005 is sy aangewys as Via Afrika-boekjoernalis van die jaar. In die verslag van die beoordelaars is sy geloof vir die intellektuele gesag, belesenheid en insig wat uit haar resensies spreek en vir die vars en toeganklike aard daarvan. Sy is ook deur die beoordelaars beskryf as “een van die land se min essayiste”.

Daarna was sy deeltydse dosent in Afrikaans en Nederlands aan die destydse RAU (nou UJ), bemarkingsbestuurder by Random House Struik, en sepieskrywer. Voordat sy sepieskrywer geword het, was sy vir ’n kort rukkie sekretaresse van Danie Odendaal, die baas van 7de Laan, maar dít het nie baie goed gegaan nie. “Ek het myself gou onderskei as maklik die swakste sekretaresse wat hy nog ooit gehad het. Ek dink daar loop nou nog mense in Johannesburg rond wat wag dat ek hulle telefonies verbind. En toe het hy (Danie) my later gevra of ek ander talente ook het, op sy kenmerkende ironiese, droë manier,” vertel sy aan Willemien Brümmer (By, 22 Oktober 2011). “Ek het vir hom gesê: ‘Ek glo graag dat ek nogal kan skryf.’”

Kort voor lank was sy een van die eerste draaiboekskrywers vir 7de Laan, maar sy het haar later gedistansieer van die media en televisie en sy is saam met haar man, Pieter Malan, en hulle twee kinders, Henri en Stella, vir drie jaar na Londen. Pieter was buitelandse korrespondent vir Media24 in Londen.

“In ’n stadium het ek regtig nogal vasgedruk en geïrriteerd gevoel hier (in Suid-Afrika). Die hele benouende klein binnekringetjie – veral Afrikaans, die taal, die letterkunde, die joernalistiek. Die tyd in die buiteland was vir my fantasties, dit het horisonne oopgemaak en ek dink die roman is ryker as wat dit sou gewees het as ek nie Engeland toe was nie. Maar ek het later so ’n bietjie stoom verloor met my ‘ek wil nooit weer teruggaan Suid-Afrika toe nie’. Ek het begin dink dis moeilik om ’n mens se kinders groot te maak in ’n land wat jy nie verstaan nie,” aan Willemien Brümmer.

Sedert 2009 is sy dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad. Hier kon sy weer begin skryf, want sy het meer tyd in die akademie. “Minder as wat ’n mens sou wou hê, en waarop ’n mens sou hoop, maar ek dink nie enigiemand het genoeg tyd vir lees en dink nie. Dis net nie daardie soort land nie. Ons is almal op ’n drafstappie.”

Sestien jaar na die publikasie van Spoor word Sirkusboere in 2011 deur Tafelberg uitgegee. Dit word met die Eugène Marais-prys bekroon en haal dit die kortlys vir die Jan Rabie/Rapport-prys en die WA Hofmeyr-prys, asook vir die ATKV-Prosaprys. Dit is ook bekroon met die M-Net-prys vir 2012. Sy het op die prysuitdeling gesê ’n mens wil nie hê pryse moet saak maak nie, maar “embarrassingly maak dit tog saak. ’n Mens skryf nie vir pryse nie, maar dit bly nogtans lekker om een te kry. Ek het nog nie besluit wat ek met die prysgeld gaan doen nie, maar ek gaan waarskynlik gewone, alledaagse dinge befonds, daardie lastige goedjies wat deur die krake van ’n maandelikse begroting val.” (Die Burger, 23 Oktober 2012)

By 2012 se Woordfees het Sonja ’n Woordtrofee ontvang as die beste woordkunstenaar vir haar lewendige gesprek oor haar roman Sirkusboere.

Die roman het ’n literêre beroering veroorsaak, skryf Willemien Brümmer (Die Burger, 22 Oktober 2011). Die storie, wat gegrond is op die waarheid, se historiese agtergrond is iets wat ’n mens kan laat dink dat deur ’n Etienne van Heerden of ’n Etienne Leroux uitgedink is.
Die sirkusbaas Frank Fillis het in 1904, net na die Anglo-Boereoorlog, ’n Boereoorlog-skouspel na die Wêreldtentoonstelling in St Louis, Amerika geneem. Dit was glo die grootste militêre vertoning wat die wêreld tot op daardie stadium aanskou het. Die deelnemers het bestaan uit 100 Boere, 100 Britte en 50 “agterryers” en “inboorlinge” en hulle moes almal per skip na Amerika om daar die veldslae by Colenso en Paardeberg te gaan opvoer voor 25 000 toeskouers per opvoering. Generaal Ben Viljoen was twee maal per dag die aankondiger, en generaal Piet Cronjé moes twee maal per dag sy oorgawe by die Slag van Paardeberg beleef.

“Dit het in werklikheid op ontsettende groot skaal gebeur en dit was een van die grootste suksesse op die skou,” vertel Sonja aan Willemien Brümmer. “Perde is regtig afgerig om in die skouspel dood neer te val en in die arena was daar kanonskote, gewere en uniforms. Daai militêre krygspele moes geweldig imposant gewees het. Die koerantberigte van die tyd maak geweldig gewag van die feit dat die oorlogsgedruis so raserig was dat die vroue flou geval het en jy die salpeter in die lug kon ruik.

“Buffalo Bill, wat tonele uit die Amerikaanse geskiedenis opgevoer het, was soort van die voorloper, en hy’t in Chicago so ryk geword dat hy ’n dorp en ’n begraafplaas gekoop het. Die Wêreldtentoonstelling was soos ’n Randse Paasskou op ste­roids.”

Oor die oorlogskouspel-fenomeen wat daardie jare so gewild was onder die Amerikaners vertel Sonja aan Riette Rust (Rapport, 2 Desember 2011)  dat oorlog daardie tyd baie gewild was. “Die Amerikaners het, nes die Boere, oorlog gemaak, onder meer teen die Filippyne en Spanje. Ek vermoed ook Buffalo Bill, wat ryk geword het uit opvoerings van die Amerikaanse geskiedenis, het die terrein vir die Boere voorberei. Boonop was die Amerikaners die Boere goedgesind.”

Sy het nie die woord sirkusboere geskep nie. “Dis ’n woord uit daardie tyd. Dis wat die Boere se volksgenote by wie hulle ongewild was, hulle genoem het.” Die sirkus word ’n metafoor vir die sirkus wat die Boere se lewe op ’n breë vlak geword het. Akteurs in die arena, maar ook daarbuite. Want hulle het ‘kreatief met die feite omgegaan’.

“Daar is in elk geval nooit konsensus oor geskiedenis nie,” reken Loots. “Almal interpreteer dit verskillend. Die literator Chris van der Merwe praat van die ‘vervalsing van die geskiedenis’. Kyk maar na die nuwe interpretasies van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, so anders as wat wit leerlinge in die apartheidera moes leer.”

Sirkusboere plaas weer die klem op dít wat ná die Boereoorlog gebeur het en Sonja meen dat daardie gesprek nog nie sy einde bereik het nie. “Ons het nóú eers genoeg afstand om daaroor te kan praat. Dit gaan nog jare duur voor ons rustig oor apartheid sal kan gesels. Die geskiedenis bly lank giftig,” aan Riette Rust.

Sonja sien groot ooreenkomste tussen die Afrikaanse samelewing en die sirkusboere. Ná die verdwyning van apartheid was die Afrikaanses ook verdwaas en sonder rigting, maar het tog vindingrykheid aan die dag gelê net soos die sirkusboere na die Boereoorlog. “Maar die raakpunte met die hede is die tweede laag van die roman. Die storie en karakters bly die belangrikste,” sê Sonja aan Rust.

Sonja self beskou haar roman “veel meer van ’n vraag as ’n antwoord”, want vir haar was dit baie belangrik om agter te kom waarom die Boere besluit het om deel te hê aan só ’n skouspel. Van die Boere kon dalk gedink het dat dit ’n manier sou wees om die pyn en verguising te verwerk, maar sy beskou dit nie so nie.  “En as die opvoerings ’n poging was om by hul volksgenote in aansien te styg, was die roem maar kortstondig. Daarby het die Boere hulle belaglik gemaak deur die oorlog te ‘herhaal’ en die opvoerings het hulle ook nie genoeg in die sak gebring om só uit die ná-oorlogse armoede te kon kom nie,” sê sy.

Sirkusboere het sy ontstaan te danke gehad aan die monografie van die sportwetenskaplike Floris van der Merwe getitels Die Boere-sirkus van St Louis(1904) (FJG Publikasies, 1998). Tien jaar het egter verbygegaan voordat Sonja lyf aan die arme sirkusboere kon gee. Maar van die begin af het die hele storie en die mense daar agter, haar gefassineer, vertel sy aan Riette Rust (Rapport, 2 Desember 2011). “Tyd val weg en dis asof die mense hedendaags word. Ek het my karakters rondom die geskiedkundige feite ingekleur, maar so getrou moontlik daaraan gebly. Ek het ontsettend baie navorsing gedoen, en dit was vir my belangrik dat niks wat ek daar uitdink of versin, bots met die feite nie, maar jy moet darem iets toevoeg. Iewers moet die feite vlerke kry.”

Sonja het van heelwat bronne gebruik gemaak om onder die vel van die karakters te kon inklim. Vir Ben Viljoen se karakter en sy belewenisse het sy onder meer JW Meijer se biografie Generaal Ben Viljoen: 1868-1917 gelees. Wat haar van Viljoen gefassineer het, was sy rusteloosheid. Hy het ook nie na die oorlog die getrouheidseed afgelê nie en het daaroor gejok. Hy was ook terselfdertyd met twee vroue getroud.

Meeste van die karakters was larger-than-life en Sonja het hard gewerk om hulle as mense te teken sodat hulle nie in karikature sou uitdraai nie. “Hulle is nie monsters nie, almal het ’n goeie en minder goeie kant. En al sou ek byvoorbeeld Piet Cronjé glad nie vir ete wou nooi nie, het ek hom leer liefkry, foute en al.”

Van almal was Sonja die ergste oor een van die newekarakters, naamlik die soldaat Maans Lemmer. Sy vrou en seun sterf en vir Sonja was hy die voorbeeld dat die ou Boere nie so ongevoelig was nie, maar tog ook deernis gehad het.

In Sirkusboere skryf Lemmer roerende briewe in ou Afrikaans aan sy seun Willempie. Hierdie briewe het Sonja geskoei op die briewe van Frikkie Badenhorst uit Tant Alie van Transvaal (Nasionale Pers, 1939). Sy het detail bygesit en self die taal aangepas nadat sy deur ou uitgawes van Die Patriot, Die Patriot-woordeboek en Ons Klyntji gewerk het.

Een van die dinge wat Sonja moes oorkom, was die gebruik van die k- en m-woorde vir swart mense. Sy beskryf dit as ’n “skryfblokkasie’ wat sy moes oorbrug omdat sy moes skryf soos die mense van daardie tyd gepraat het. “Die rassistiese terminologie kom uit ou geskrifte,” aan Rust.

Sonja moes ook diep gaan delf om meer uit te vind oor die Edwardiaanse leefstyl en dit het haar gefassineer. Sy beskryf die kleredrag van die vroue in detail, maar sy wou ook hê dat mans van haar boek moes hou. En sy het baie maal haar storie aan mans gegee om te lees sodat hulle haar kan raad gee oor hoe mans in spesifieke situasies sou optree.

Sonja glo nie, soos wat Thomas Hardy geskryf het, “War makes rattling good history; but peace is poor reading”, verduidelik sy aan Willemien Brümmer (By, 22 Oktober 2011). “In hierdie land is ons eintlik ’n bietjie moeg om te lees oor oorlog. Daarom gaan my roman eintlik oor daarna. Hoe gaan jy aan? Hoe leef jy met trauma? Hoe leef jy met verlies? Die Boere-oorlog raak so half ’n metafoor vir ander goeters.

“Ek het tien jaar geloop en tob oor die projek. Die boek wat jy gelees het, het ek tien maande gelede (voor Oktober 2011) aktief begin skryf. So dit was tien jaar, tien maande, tien uur en tien sekondes. Dit was toe ’n taamlik uitmergelende tien maande met lang ure en min slaap en donker kringe onder die oë en klasgee en kinders. Ek het bietjie laat gly op die gym-roetine.”

Sonja is in Julie 2004 na Amerika om St Louis en ook Coney Island te gaan besoek. Dit was op Coney Island waar Piet Cronjé met William A Brady, die “spektakelbaron”, ’n kontrak aangegaan het nadat hy sonder geld opgeëindig het na die “glorie” van St Louis. Brady het hierdie skouspel op Coney Island as volg geadverteer: “Piet Cronjé with real Kaffirs, mounted lancers and artillery”. In Suid-Afrika het die pers Cronjé egter die “sirkusgeneraal” genoem. (Brümmer: By, 22 Oktober 2011)

Sonja is toe in 2004 op Cronjé se spore na Amerika, want in hom was daar vir haar tekens van die moderne Afrikaner. “Soos hy, trag hulle stroef om die verwarrende magsverskuiwing in die oë te kyk,” skryf sy in haar essay “Circus Boers” op LitNet. “Soms word hulle belaglik gemaak, gemarginaliseer, en dikwels kies hulle om in die sonsondergang weg te ry, om elders ’n nuwe begin te maak. My vriende oorsee skrop toilette, vee oumense se gatte af, werk as duikinstrukteurs, bestuur hyswerktuie. Hulle sou selfs by die sirkus aansluit indien hulle moet.”

Maar vir haar vriende was dit nie nodig om twee maal per dag hulle wonde voor duisende toeskouers te ontbloot nie. Vir Chris van der Merwe op LitNet is dit die hart van Sirkusboere: “die uitmergelende vervalsing van die geskiedenis”.

Sonja sê aan Brümmer: “Ek is versigtig om my oor die weerklank in die hede uit te laat. Die feit dat ek ’n boek geskryf het daaroor, beteken nie dat ek tot ’n klinkklare gevolgtrekking gekom het nie. Waaroor ek wel wonder, is of jy regtig iemand kan kry om te begryp of om met jou te simpatiseer as jy nie moeite doen met hoe jy jou pyn aanbied nie.

“Dit was vir my opvallend met iets soos die Waarheid-en-versoeningskommissie. Dit was vir almal ’n ontsetting in meer as een opsig, maar ek het ook gedink dit was verskriklik om die mense weer deur daardie trauma te sit. Ek was lank ’n hofverslaggewer, waar jy sit en kyk hoe mense vertel waardeur hulle moes gaan. Jou verstand sou vir jou sê dis waar heling begin, maar in praktyk sien jy dikwels dat dit net nuwe trauma veroorsaak. Dit sou ’n baie mooi storie gewees het as jy jou trauma kon opvoer en vrygeraak het en die toekoms kon instap – genees.”

“Dalk is dit die rede hoekom die sirkusboere die afgelope 100 jaar meestal stilgeswyg is. Daai etiket van sirkusboere was neerhalend en daardie mense is ná die tyd uitgeskuif. Voor die tyd is Piet sterk afgeraai om te gaan. Selfs pres Steyn het vir hom geskryf en gesê asseblief moenie.

“Ek dink finansieel was dit vir baie Boere die enigste uitweg. As jy in so ’n emosionele niemandsland sit ná ’n oorlog, maak dit seker op ’n gek soort manier sin. Maar dis ’n skisofreniese ding om te doen. As ek daardie herinnerings lees wat Piet daarna in Die Brandwag geskryf het, wonder ek ’n bietjie oor sy geestestoestand. Hy het die storie vir homself vertel soos hy dit graag wou glo en hy’t dit regtig self begin glo, dink ek. Ek sou albei die generaals (Piet Cronjé en Ben Viljoen) vir terapie wou stuur!”

Die twee generaals in Sirkusboere simboliseer die twee maniere waarop die wonde van die verlede versag kan word. Dit kon gedoen word soos Cronjé wat hom byna verlekker het in sy smart en smaad en steeds oorhoops was met die oorlog teen die Engelse, of soos Viljoen wat die verlede agter hom wou sit. Oor Cronjé skryf Sonja in Sirkusboere: “Hy rol dit al groter, soos ’n miskruier sy stink bal, en hy sal aanhou rol totdat dit hom heeltemal verdwerg.”

Vir Sonja is daar verseker vandag Afrikaners wat soos Viljoen net wil weggaan en van vooraf begin en dan is daar oook diegene wat bly vashou aan die verlede en nydig raak. “Albei is ewe ondoeltreffend. Nie een van hulle bereik nirvana nie.” (Brümmer: By, 22 Oktober 2011)

Louise Viljoen het op Boeke24 geskryf: “Dit is só bisar dat dit klink na iets uit ’n roman versin deur iemand met ’n vrugbare verbeelding: Generaal Piet Cronjé wat vir byna ses maande lank tweemaal per dag sy vernederende oorgawe aan Lord Roberts by die Slag van Paardeberg vir entoesiastiese Amerikaanse gehore opvoer. Tog het dit werklik gebeur ...”

Viljoen eindig haar resensie met: “Dat niémand onskuldig is aan die verdraaiings, sensasie-lus en eie-belang wat potensieel deel is van enige representasie nie, word gesuggereer deur ’n veelseggende moment naby die einde van die roman. Wanneer Piet Cronjé terug is in Suid-Afrika, skryf hy sy weergawe van die slag by Paardeberg neer. Wanneer hy klaar is daarmee, sê die verteller: ‘Hy moet sy hande was. Daar is ink aan’.

“Sonja Loots het óók ink aan haar hande, maar haar representasie van die Anglo-Boereoorlog en sy nasleep is ’n ... intelligente, deurdagte en goed geskrewe roman, wat veel te sê het oor menslike swakheid en heroïsme, oor opportunisme en oorlewingsvermoë.”

Jeanette Ferreira (Beeld, 17 Oktober 2011) skryf: “Satire is waarskynlik die verste buitepos wanneer dit oor perspektief op ’n oorlog gaan. Min skrywers waag dit, veral wanneer die helde en antihelde in so ’n oorlog – in dié geval die Anglo-Boereoorlog – oor meer as ’n eeu heen geïdentifiseer is. 

“Uiteraard verg dit van outeur én leser volwassenheid en die vermoë om buite die gevestigde en algemeen aanvaarde opvattings te dink. Nie dat Loots die eerste is wat haar hand aan satire oor dié oorlog waag nie, net dat sy dit so briljant doen dat die vernuf van hierdie roman die tema oorstyg. 

“Met vars dialoog en ’n sterk individuele styl laat sy historiese figure só herleef dat hul swak­hede nie van hulle karikature maak nie, veral generaal Piet Cronjé, oor wie se rol by Paardeberg daar soveel uiteenlopende menings bestaan en waarvan die meeste is dat hy dwaas opgetree het.”

Ferreira betreur die feit daar so baie beklemtoonde woorde in die teks is, aangesien dit steurend is en nie Loots se “gepoleerde styl” waardig is nie. Maar andersins is hierdei tweede roman van Sonja Loots ’n “kragtoer”. Dit is nie net toeganklik nie, maar ook “diepsinnig, skerp en briljant”.

Op LitNet skryf Chris van der Merwe: “In Sirkusboere word ’n boeiende stuk geskiedenis op meevoerende wyse verwerk. Die leser wat ná die eerste twee bladsye van die boek nie lus voel om verder te lees nie, moet selfondersoek doen. Die meevoerendheid word onder andere verkry deurdat die verhaal in die vorm van kort tonele opgebou is, en telkens wissel van een tyd en plek na ’n ander, sodat die leser nie ’n kans kry om verveeld te raak nie. Dit sou ’n heerlike teks wees om te verfilm! Die gedurige wisseling tussen die verskillende tye het, naas die meevoering van die leser, ook ’n ander funksie: dit sluit aan by die sentrale tema van die verbondenheid van hede en verlede.

“Daar is wel enkele kleiner punte van kritiek. Piet Cronjé raak vir my soms oordrewe karikatuuragtig; hy is té eendimensioneel. Verder: die plekke en tye van die verlede word deurgaans op ’n besonder oortuigende wyse voor die gees van die leser geroep, en die historiese plekke en gebeurtenisse word oor die algemeen goed met die roman as geheel geïntegreer - maar ek is nie seker of die perdry-kompetisie tussen Ben en Buffalo Bill (257 ev), boeiend soos wat dit op sigself is, ’n funksie het in die ontwikkeling van die tematiek nie. Derdens: die taalgebruik is oor die algemeen gepas, die dialoog sprankelend, maar soms wil-wil dit beweeg in die rigting van mooiskrywery. Ek dink aan ’n sin soos die volgende: ‘Die baklei het soos ’n jakkals weggesluip, en in sy plek het swartgalligheid en selfverwyt aan Piet se hande kom snuffel’ (69).

“Dis egter ondergeskikte punte. Die hoofpunt is dit: hierdie sirkus gaan nog aan baie mense baie plesier verskaf!”

Oor ’n boek wat haar lewe verander het, het Sonja aan Beeld (19 Junie 2000) vertel: “Die boek wat die naaste daaraan gekom het om met ’n weerligslag van eensklapse insig en nuwe voornemens my lewe te verander, is die Duitse sprokiesroman Momo van Michael Ende (Tafelberg, 1977, vertaal deur Helene de Villiers).

“Die verhaal van die stryd teen die grys menere het my aangegryp en meegehelp in ’n besluit om van werk te verander en my dae anders te beplan. Die grys menere steel tyd. Met ’n klomp drome en ’n paar bedenkings, en met groot angs maar nog groter moed, uitoorlê Momo hulle mettertyd.

“Gewoonlik is die uitwerking van ’n boek egter meer subtiel. Miskien is dit ’n teken van my ontoereikendheid as leser, maar dikwels is dit ná jare nog net ’n enkele sin uit ’n roman, of ’n enkele strofe uit ’n gedig, wat my bybly. Dit sit soos 'n weerhaak in die gedagtes vas. Jy kry nie daarby verbygedink nie. As jy jou weer kom kry, is jy terug by die woorde wat so ’n indruk op jou gemaak het. Daar bly geen ander manier oor om dieselfde ding te sê nie.

“So byvoorbeeld eindig my bepeinsings oor die liefde letterlik nou al jare lank by ‘Aileall se liefdeslied’, ’n Middeleeuse gedig wat Karel Schoeman uit die Iers vertaal het. Aileal, wat verlief was op sy broer se vrou, noem die liefde onder andere ‘heldedade onder die see’. My kopie van Uit die Iers (Human & Rousseau, 1970) is al voos gevat.

“En dan is daar George Eliot se Middlemarch, wat my altyd troos as ek my ontstel oor die onbelangrikheid van my lewe en dié van die mense om my. Sy skryf oor die karakter Dorothea: ‘But the effect of her being on those around her was incalculably diffusive: for the growing good of the world is partly dependent on unhistoric acts; and that things are not so ill with you and me as they might have been, is half owing to the number who lived faithfully a hidden life, and rest in unvisited tombs.’”

Sonja is besig met navorsing vir haar voorgenome doktorale studies onder Louise Viljoen aan die Universiteit Stellenbosch – ’n studie oor verliesliteratuur. “Ek doen op die oomblik navorsing oor hoe Afrikaanse skrywers die verlede argiveer, so daar is raakpunte met my eie roman. Ek kyk na Ingrid Winterbach, Marlene van Niekerk, Eben Venter, Etienne van Heerden, Abraham de Vries.

“Ek dink dit waarmee die Afrikaanse letterkunde op die oomblik mee worstel, is waarmee almal van ons in ons alledaagse lewe worstel: Op hoeveel mag jy aanspraak maak? Hoe mag jy lewe as ’n Afrikaanse mens? Hoe mag jy Afrikaans praat? Hoe is dit sensitief deel van die land, van ’n inklusiewe identiteit, maar ook trou aan waar jy vandaan kom?” (Brümmer: By, 22 Oktober 2011)

Daar broei inderdaad ’n volgende roman in Sonja se kop, “maar wie weet: dalk neem dit nóg tien jaar voor ek daarmee klaar is.” (LitNet)

In 2012 is Sonja verkies tot voorsitter van die skrywersorganisasie PEN Afrikaans – ’n posisie wat sy beklee het tot 2013.

Publikasies:

Publikasie

Spoor

Publikasiedatum

1995

ISBN

062403402X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Sirkusboere

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624053354 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Sonja Loots beskikbaar op die internet:

Artikels oor Sonja Loots beskikbaar op die internet:\

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-05-18
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top