Sondes in die sonskyn – Theunis Engelbrecht oor Yolanda Barnard se Die ponies galop – Seks en skandale van die sterre onthul

  • 2

Titel: Die ponies galop – Seks en skandale van die sterre onthul
Outeur: Yolanda Barnard
Uitgewer: Griffel Media
Formaat: Sagteband
ISBN: 978-0-9814177-9-0
Aantal bladsye: 250
Prys: R160.00

Die boek kan aanlyn bestel word by Griffel Media: http://www.griffel.co.za/ponies.htm

 

1. Die hare waai …

Joernaliste is die luise op die skaamhare van die samelewing, het die ontslape skrywer en joernalis Barrie Hough op ’n keer gesê.

’n Mens moet bysê jy kry joernaliste én joernaliste. Barrie het verwys na dié joernaliste wat vir sensasietydskrifte werk en wie se werk hoofsaaklik bestaan uit die najaag van op die oog af onbenullige oppervlakkighede - soos sosiale vlinders en hul geheime reseppies vir ’n suksesvolle lewe, die paringsdanse van volkseie selebriteite (oftewel glanspersoonlikhede) op partytjies, sangertjies en akteurtjies wat hul meisies en vroue verneuk, en die wittebrode van sogenaamde sterre (wie sal die weergalose dekking van Jurie Els en Hestrie Cloete s’n in Huisgenoot ooit kan vergeet?).

Dit hou nie op nie. Die arme sensasiejoernaliste moet ook agter hul rekenaars sit en sweet om vir ons verhale te weef oor die intieme pyn van sangeresse, die jagsheid van heteroseksuele mans wat mal is daaroor om in die openbare oog te leef (en wie se ego’s kwyn as die kollig nie meer daarop skyn nie), die diëte van skoonheidskoninginne, die tien stappe tot ware geluk volgens Paris Hilton, ad infinitum nauseaum.

Die arme sensasiejoernaliste van publikasies soos Heat, People en dergelike is nie net die arme luise op die skaamhare van die samelewing wat ons ingelig moet hou oor die doen en late van openbare figure nie, dit is ook hulle wie se plig dit is om al die skilfers wat hulle daar vind, op ons, die lesers, af te skud.

Poniejoernalistiek is al ou nuus in Amerika en Brittanje en die Eerste Wêreld, maar in Suid-Afrika – en veral in Afrikaans – het dit eers in die afgelope vyf jaar werklik geweldige momentum gekry met die koms van poniekoerante wat, in Afrikaans én Engels, iets van die son in hulle het – The Daily Sun, Die Son, Sondag, The Daily Voice, en pas ook ’n nuweling: Sondag-Son.

Dit was ook hoog tyd, het vele gemeen. Poniejoernalistiek is vreeslose joernalistiek, maar ook gevaarlike joernalistiek. (Barnard skryf self van dreigoproepe wat sy gekry het, hoe sy agtervolg is en hoe haar motor se voorruit met ’n klip uitgegooi is.) In boeke word ’n baie aantreklike prentjie voorgehou van poniejoernaliste as private speurders wat leuens aan die kaak stel, toegesmeerde onregte oopkrap, goedgeplaaste bronne en informante het en ook oor goeie regsadvies beskik. Nie ’n job vir sissies nie – en een waarvoor ’n mens hare op jou tande nodig het, sou Barrie ongetwyfeld meen.

Daar is al baie debat gevoer oor sensasiejoernalistiek en die etiese en morele implikasies daarvan. Ek gaan nie hier daarop ingaan nie, maar ’n mens sou dit verwelkom as ’n debat hieroor kon opvlam – in Afrikaans, en spesifiek oor die Afrikaanse sensasiejoernalistiek.

En nou het die eerste poniepersboek in Afrikaans dan ook die lig gesien: Yolanda Barnard se Die ponies galop – Seks en skandale van die sterre. Nadat die eerste berig daaroor in Rapport verskyn het (“Joernalis se boek skok”, 17 Mei), het die hare behoorlik gewaai op die koerant se webwerf. Barnard het oornag dié Afrikaanse skrywer geword wat die meeste sleggesê is in die kortste moontlike tyd - deur mense wat nog nie eers die boek gelees het nie. ’n Week later voer Hanlie Retief ’n onderhoud met Barnard, en toe begin die hare éérs op die webwerf waai. (Wanneer bundel ’n uitgewer die hoogtepunte van Retief se profiele? Dis hoog tyd. Sy is een van die beste skrywers in die Afrikaanse joernalistiek en so ’n boek sal goud werd wees.)

Dis insiggewend om na sommige van die kommentaar op Rapport se webwerf te kyk. (Die aanhalings wat volg is verbatim en ongeredigeerd.)

Ene Maryke skryf:

Jy is nie 'n joernalis nie. Joernaliste gee feitlike weergawes van die waarheid en sluit albei kante van die saak in. Skinderstories en hoorsê is nie joernalistiek nie! Dan wil jy vir Carte Blanche gaan werk? Watter vreugde put jy uit ander se leed? Dis die tipiese stories wat mense se lewens in skerwe kan lê. Van wanneer af het celebs in elk geval voorgegee hulle is maatstawwe vir moraliteitsvlakke? Ek het nuus vir jou ... jou boek gaan nie 'n verskil maak aan mense se opinies en ondersteuning teenoor celebs nie!

Natasha:

Ag sies tog, koop wat julle wil en lees wat julle wil. Dit is net vir my vreemd dat almal wat so preuts is oor wat gesê word in die boek, na 'n ander dorp toe sal ry sodat die buurvrou jou tog net nie in die plaaslike boekwinkel die boek sien koop nie. Julle is dieselfde lot wat so teen Joost en Steve se smart baklei het, maar kon in julle binneste nie wag todat die volgende koerant verskyn nie!! Vryheid van spraak, dus ook vryheid om te lees wat ons wil.

En ene Emmie:

Jy behoort seker te weet dat drank lewens verwoes.Shame jy is hopeloos te rebels vir ’n vrou van jou ouderdom.Ek voel werklik jammer vir jou.En moenie vanaand jou oe uit jou kop uit huil as jy die kommentaar van die die publiek lees nie.Ons het ook ’n reg!!!!!!

 

2. Onthul! Onthul! Onthul!

“Onthul” is ’n onthullende woordjie. Die meeste nuuskierige mense hou maar van ’n sappige onthulling. Die nuwe Huisgenoot lê hier langs my. Daarop staan: ONTHUL! Joost in geldknyp en EKSKLUSIEF! Sanger vertel openhartig: my gay lewe is verby. Mense raap dit op en slurp dit op.

Die subtitel van Barnard se boek lui dan ook: Seks en skandale van die sterre onthul.

Nou is die eerste vraag op almal se lippe: Wat word oor wie onthul? Wat het tussen wie se lakens gebeur? En hoe het dit gekom dat die sluiers toe daaroor gelig is? In so ’n geval wil ’n resensent nie die potensiële leser se plesier bederf deur die aap te veel uit die mou te laat nie. In Die ponies galop is daar ook te veel om op te noem, maar hier is ’n klompie van die mense oor wie stories vertel word: Deon Opperman, Theuns Jordaan, Bok van Blerk, Kurt Darren, Neil Sandilands, Christina Storm, Fokofpolisiekar, Minki van der Westhuizen, Jurie Els, Joost van der Westhuizen, Sunette Bridges, Dorette Potgieter, Bobby van Jaarsveld en, natuurlik, Barnard se “nemesis” (soos sy hom noem), Steve Hofmeyr.

En dit is maar net die A-lys van ons volkseie selebriteite. Ook op die B-lys van Afrikaanse glansganse is daar name oor wie hier geskryf word – Karen Ferreira, Nadine, Nedine, Johrné van Huyssteen en Adam Tas. (Ruimte ontbreek om ook op die C-lys in te gaan.)

Van die staaltjies is vermaaklik, en heelwat daarvan onthutsend. Van nuwe onthullings is hier nie werklik sprake nie, maar aangesien ’n mens koerante weggooi as jy dit klaar gelees het, is daar ’n paar skandale waarvan jy al vergeet het en is dit goed dat dit hier geboekstaaf word.

Barnard skryf nie net oor ons eie geliefde en gehate waggelende glansganse nie. Haar boek is in die eerste plek ’n verslag van haar betrokkenheid by poniejoernalistiek die afgelope vyf jaar. Dit is baie vermaaklik en pittig geskryf en Barnard spaar haarsélf nie – sy skryf eerlik oor haar eie verliefdhede en vertwyfelinge, maar deurgaans met genoeg self-ironie dat dit nie koesterend word nie.

Daar is verhale wat ’n mens se bek laat oophang – soos die vertelling oor die profeet van Thabazimbi wat gesê het ’n sekere Afrikaanse sanger is ’n vals god, die kerk toe ook ingespring het en die hele dorp toe die sanger se konsert geboikot het. Ander laat jou grinnik en wonder, soos die staaltjie oor die keer toe ’n senior werknemer van RSG vir Barnard ’n foto van ’n bekende Afrikaanse sanger se penis op sy selfoon gewys het, hoe sy vir ’n ander sanger se “harige pensie” gegril het, of die sanger van ddisselblom wat meer vertel oor die bedgedrag van ’n voormalige aanbieder op Glitterati.

’n Mens lees ook half verwonderd en ongelowig oor die mediasirkus by die hospitaal toe Amor Vittone haar en Joost se eerste baba gehad het. Om nie eens te praat van Paris Hilton se besoek aan Suid-Afrika nie (volgens Barnard is sy “seker die grootste bekende persoonlikheid wat al in SA kom kuier het”). ’n Mens kan nie glo dat so ’n ophef oor sulke mense gemaak kon word nie. Dit is eintlik skokkend.

Elders in die boek kan ’n mens ook lees van ’n sanger van Eden wie se meisie ’n paaldanseres was en ’n Egoli-akteur wat daarvan hou om sy tong in meisies se monde te druk. ’n Mens kan ook lees van ’n jong sanger wat teenoor Barnard gespog het dat hy ’n doktorsgraad in die joernalistiek het en wat volgens haar ’n rassis vol haat was wat maklik by die AWB sou kon aangesluit het. Die einste sanger het oor die skrywer gesê: “Yolanda is van die duiwel. Sy moet haarself in die kakhuis gaan skiet.”

Seks en skandale van die sterre onthul. Hoe is die seks in die boek? Is dit warm en sappig, of is dit smerig? wou my buurvrou dadelik weet toe sy hoor ek lees Die ponies galop vir LitNet. Is dit skokkend? Dit hang af van mens tot mens, by wyse van spreke. Siniese joernaliste soos die uwe vind weinig skokkend, maar ’n mens kan jou wel voorstel dat die aanhangers van ons volkseie glansganse erg ontsteld sal wees oor die geraamtes wat uit hul helde se kaste tuimel. Dit is veral opvallend dat baie van die mans besonder lief is vir die bottel en rokjagtery.

Meer intellektuele en polities-korrekte kennisse wou by my verneem of ’n boek soos hierdie enigsins bestaansreg het. Natuurlik het dit. Vir iemand wat self nie van goed soos Heat en People en dergelike hou nie, was Die ponies galop een van die vermaaklikste Afrikaanse boeke wat ek in ’n lang tyd gelees het. Dit is goed dat die onderstrominge van die Afrikaanse vermaakbedryf oopgevlek word, en dat die vals persepsies wat die aanhangers daarvan het, ontmasker word. Van die mense oor wie geskryf word se gedrag is werklik verstommend – veral as ’n mens in ag neem watter beeld hulle van hulself aan die publiek voorhou.

Wat ook in die boek se guns tel, is die totale pretensieloosheid daarvan. Barnard is ’n onderhoudende verteller wat haar nie van foefies en versiersuiker hoef te bedien nie. Al wat steur, is dat sy soms skielik oorslaan na die derde persoon en na haarself as “sy” verwys. ’n Deurgaanse eerstepersoonsvertelling sou baie beter gewees het. Al is hierdie neiging van haar irriterend, doen dit darem nie afbreuk aan die leesplesier nie.

Is dit ’n boek wat hoegenaamd aandag verdien? wil van my ander intellektuele kennisse weet. Is dit hoegenaamd so ’n lang resensie soos hierdie werd? My antwoord op hierdie vrae is: ek weet nie. En: maak dit regtig saak? Dit gaan net oor die najaag van sensasie, kap die betrokke kennisse terug. Is dit waaroor poniejoernaliste skryf werklik nuus? Kom dit nie maar alles net neer op die vervlakking van joernalistieke integriteit nie? Wat is die rasionaal agter die publisering van foto’s van bostuklose meisies in poniepublikasies? ’n Mens weet nie watter inligting in poniestories jy kan glo en wat nie, en jy is ook nie eers meer aldag seker of daar inderdaad ’n vuurtjie brand waar daar ’n rokie trek nie, sê ’n ander intellektuele kennis. Is dit werklik nodig om te weet dat Theuns Jordaan van “petite blonde meisies met groot borste” hou en dat Neil Sandilands by Yolanda Barnard wou slaap? Nog iemand wil weet: Watter bydrae lewer die poniebedryf tot die taal Afrikaans? Is hierdie joernaliste nie besig om die taal op te mors en verder te vervlak nie?

My antwoord: Ek weet nie! Ek is nie ’n intellektueel nie. Dis goed dat ’n boek soos hierdie verskyn het, want nou kan daar dalk ’n debat of twee oor al hierdie tipe vrae ontstaan. ’n Mens moet maar hare op jou tande hê vir hierdie soort van ding.

 

3. Die drukkersduiwel

Die boek is nog nie op die winkelrakke nie. Die uitgewer, Griffel Media, het laat weet dat die eerste klomp eksemplare wat gedruk is – en waarvan LitNet een gekry het – nog ’n klompie spelfoute bevat. Dit is inderdaad die geval, en in die eksemplaar in LitNet se besit word baie mense se name verkeerd gespeel – soos onder andere Legoa (Lekgoa), Colesky (Coleske), Cupido (Kupido), Angelina Joli (Jolie), Christo en Kobus (Christo en Cobus), Oscar Pretorius (Pistorius). Daar is ook ’n feitefout: dis nie PJ Powers wat met Bill Flynn getroud was nie, maar wel Anne Power. Die uitgewer het gesê die korreksies sal aangebring wees wanneer die boek die rakke tref.

 

4. Die laaste woord

In my resensie van Steve Hofmeyr se Mense van my asem op LitNet het ek aangehaal uit Erica Jong se boek oor Henry Miller, The Devil at Large. Nadat ek Die ponies galop gelees het en gekonfronteer is met moeilike vrae deur my buurvrou en intellektuele en polities-korrekte kennisse, het ek om een of ander rede weer aan daardie aanhalings gedink en herhaal dit interessantheidshalwe hier – dit is dinge waarvan kennis geneem moet word:

We seldom wish to analyze how the information that appears before our eyes as “news”, as “entertainment”, as “politics”, as “public affairs”, shapes our world and everything we think about it. Our access to information and entertainment (infotainment is a telling word) is so skillfully manipulated that we do not even see it as such. We flatter ourselves that we have free choice, we flatter ourselves that we are free. The truth is that we’re already in a sort of Brave New World in which we are drugged by our distractions and by those who select them for us. The fact that we are as oblivious to this manipulation as our puppetmasters wish us to be will anger some of us and provoke hearty denial in others. The most skillful manipulation looks like choice to those who are targeted. The worst of all this is that the lulling and the selling are often indistinguishable from each other. The airconditioned nightmare has come to be our waking reality – and we are all semisleepwalking to the flickering of our TV and computer screens.

  • 2

Kommentaar

  • Nou is dit die moeite werd om te lees of nie? Is dit meestal fiktief of waarhede wat verdraai word?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top