Sonde van Lusinda deur Anton Schoombee

  • 0

Sonde van Lusinda
Anton Schoombee
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485300878

 

Laat ek bieg: hierdie boek het ván die wulpsste en guitigste sekstonele in wat ek lanklaas in enige boek gelees het. Seksskrywery is gevaarlik – dis soos om oor kos te skryf: dinge kan vinnig skeefloop en verval in ’n banale geliplekkery, ’n mondgefuif met stoute geure en kleure en ’n gesnak na asem wat klink soos Kokkedoor se tannie Poppie wat haar valstande ingesluk het.

Nie hier nie. Die skrywer handhaaf ’n fyn balans tussen ’n wilde dierlike genaai waar die sop spat en ’n meer intieme, liefdevolle seksuele genuanseerdeheid. Wees tog voorbereid: al is hierdie katoolse sekseskapades goed en genotvol geskryf, is daar ook duister oomblikke gekenmerk deur onheilspellende sekstonele wat jou hoogs ongemaklik gaan laat voel, juis omdat baie lesers (behalwe psigopate) sal voel die mure tussen wat aanvaarbaar is en wat vinnig onaanvaarbaar kan raak (met alle seks, ook buite die blaaie van hierdie boek), baie dun is en dit gevaarlik maklik is om deur daardie skanse te breek.

Maar ’n wors het twee punte, dus moet elke saak seker maar van beide kante bekyk word. Wie is skuldig en aan wat? vra hierdie boek.

Gepraat van wors. Die boek speel af in daardie bastion van ordentlike Afrikaner milieus, die noordelike voorstede. Agter die Boereworsgordyn dus: speelplek van vroetelmammies met stokstywe tieties en Botox-gesiggies, kleefplastieklippe soos gapende seeanemone, opportunistiese hedendaagse hoere wat hulself onder die dekmantel van alledaagse voorstedelikheid voordoen as moderne tuisversorgers, ou dominees wat met bewerige verwyfde stemme praat en al vir jare in die closet lewe en smag na fellatio, oompies met boepies wat graag aan jong tienermeisies se kwakkies streel as hul ouers nie kyk nie, gemoedelike braaivleisvure waar haat en venyn tussen die vlamme soos Raka dans, eentonige kerkklokke wat lui, boekwinkels vol boeke van Ena Murray wat soos soetkoek verkoop, en erger nog, faux spirituele boeke met titels soos Die dag toe ek droom Jesus verraai my: Sabbatsreis van ’n haan wat drie maal kraai.

Dis die meedoënlose maanlandskap van die mensgemaakte lewelose waterfront, Jip de Jager- en Durbanweg-afrit, lang boulevards van rook en roet, groot rollende grasperke, skuldbult (ook die metaforiese knop voor in die hoofkarakter se broek) en die verskiklike deprimerende Tygervallei-sentrum met sy flikkerende, folterende neonlighel wat almal na kadawers laat lyk.

Die storie is ’n ou een. Van ’n middeljarige man wat sy hele lewe lank waarskynlik op die oppervlak leef. Ryk, slim, ’n prokureur, sjarmant; iemand wat op 43 nog ’n kop of koek kan laat draai. Sy naam is Stéfan, siestog, heel onskuldig, dié naam; min weet hy van die boetedoening wat wag.

Een aand, oor die vreugdevure van ’n braai, by vriende, sluit sy oë met dié van ’n lawwe lorelei, ’n sirene, Lusinda. Hy kyk na haar asof met ’n lornjet (operabril) deur die rookwolke wat oor die sappige vleis vorm.

Ja-nee, iemand se kaiings gaan uitbraai, en die gode moes toe reeds “Götterdämmerung” in sy of haar ore gefluister het, maar hulle het nie. Sy is 20, sonder matriek, kamma ’n model, en net lus vir een ding: fornikeer, kafoefel; sy wil die slang van sonde in haar voel spoeg. Sý koperkapel is wat sy wil uitruik. Die boek beweeg vinnig, die tempo vat jou op ’n galop soos die skarniere van ’n ou katel wat vinnig kraak. Hulle wag nie lank nie, dan word daar liggies aan die nek gesoen, en kort daarna is dit kaal vel teen vel, mond teen mond, en al die dinge wat “sonde” die moeite werd en lekker maak.

Schoombee vat ’n onderwerp wat al holrug gery is (no pun intended) en maak dit ’n aangename, opwindende, vars leeservaring. Hy kry dit goed reg om jou ’n goeie kyk te gee in die brose binnewêreld van Stéfan.

Ook maak hy nie van Lusinda ’n goedkoop prostituut of die enigste sondebok nie; daarvoor skryf hy met te veel patos oor haar. Miskien is dit ook die sterk punt van die boek – geen vingers word gewys nie, maar die Here weet, hier is iemand deur iemand anders gróót skade berokken. En dit, liewe leser, is waar jy jou eie oordeel sal moet gebruik.

Lees hom.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top