Sondagskool

  • 1

Foto: Canva

Sondagskool

hy het my vertel
van Jesus ...
dat hy my sou red

en van moses
en van jairus
se dogtertjie.
(hy het ons maak glo sy was dood
maar is opgewek.)

en van god se wet.

klewerig warm was dit
in die donker vertrek
waar ons kaartjies gekry het.

kaartjies na die hemel ...

maar ek het lankal afgeleer
van adam en die slang ...

(die onderwyser het gesê
die slang kon praat.)

vir die hel
was ons almal
verskriklik bang ...

u moet my weer
kom vertel, menee r...

nou dat ek groot is,
is dis moeilik om te glo ...

’n donkie wat ook
soos die slang
kan praat?
’n god wat jou red
van homself?

sondag na sondag
het ons kriewelrig gesit
party gesels en rumoer
ons het
aanmekaar rondgeskuif.

want
ek het na die meisiekinders geloer ...
’n geldstukkie (vir die Here) nat in my hand.

toe sing ons uit volle bors:

“as hy weer kom
as hy weer kom
kom haal hy sy pêrels ...”

(die meneer het gesê
ons kinders is die pêrels ...)

die sondagskoolonderwyser
het elke sondag
afgesluit
met ’n gebed.

’n boelie het my
toe-oë geknyp...
en ek het gedink:
dié kind
is godsonmoontlik nie gered ...

’n klok het die einde
van die les aangekondig.
die meneer het vir elke kind
’n kaartjie gegee ...
in ’n bordjie gooi ons
die kollektegeld.

op my kaartjie was
daar ’n prentjie van die
lelies van die veld ...

saam met die woorde wat sê:
“kyk ek sê vir julle
julle moet mekaar liefhê.”

 

  • 1

Kommentaar

  • Mientie Kroukamp

    Ja, het ook my ervaring daarvan, gelukkig het ouers my op 10-jarige ouderdom uit sondagskool geneem… daai was n ander storie…

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top