’n Oupa doop sy kleinkind in die kerk. Hy wys die gemeente op die prostituut (herbergier)/leuenaar/verraaier in die geslagsregister van Jesus. Glo en doen is die boodskap.
’n Klipgooi van die huis af bel Ouma Kwik en wens my geluk met my broer se verjaarsdag. Ek help haar reg. Dit word seëninge vir die nuwe jaar. Ek bel ook weer. Hy antwoord nie sy selfoon nie. Ek corner hom op sy vrou se foon. Hy het gesien dis ek en was nie lus om met my te praat nie. Ek bars uit van die lag. “O, dan is ek ook nie lus om jou met jou verjaarsdag geluk te wens nie.” Ons kraak onsself. Dis mos wat ek met Ma doen...
Ek moet Hartebeespoortdam toe maar swig eers voor die Jack Russell se plat ore. Om twee keer op een dag agterweë gelaat te word is net te veel sê die oë. Ek gee in.
Harties gaan groen van wal tot wal. ’n Skakering tussen patina en daardie turkoois vensterrame van wit blokkerige huise uit die vroeë negentigs. Die stank hang rond op die brug. Indien tegnologie dit toelaat sou ek ’n app laai. Met die druk van ’n knoppie kon julle dan een van die seun van die verderf se onmiskenbare parfuums self ruik.
Ek hou net na 13:00 stil in die skouer duskant Die Wingerd op pad Mooinooi toe. Leon het pas sy skof begin op RSG. Die Proteas vorder goed. Ek het heeltemal vergeet van die krieket. Ek worry oor Biff. Wat is dit met my en my sagte plekkie vir die ou? Is dit omrede hy baie soos my broer lyk? Leon nooi almal hartlik uit om boodskappe in te stuur. Ek wil sy indrukke vra oor The Imaginarium of Doctor Parnassus maar bedwing myself. Die RSG-span het luisteraars al in die verlede op diskrepansie se verklaring in die HAT gewys. Is daar hulp vir kompulsiewe SMS-sers?
Danksy ons hedendaagse spulletjie maak die son lankal nie meer grappies tussen 13:00 en 15:00 nie. Die hond skarrel tussen skadukolle rond terwyl sy lepels koelte verhemelte toe werk. Ek hurk tussen die Swartapiesdorings en begin woeker op die Sabbat in my eie skaduwee. Die ekologiese kalf is in die put skop my gewete vas. Ek benodig 2000 saad. “That’s why they call me gypsy girl,” blêr vanuit Die Wingerd. My skoene smeul in die sandgrond. Later slaan ek my kerkhemp se kraag op, die skaapnekkie al ietwat teer. Teen 14:30 is die taak afgehandel. Dit bring my omset vir Swartapies alleen op R4000 te staan vir hierdie seisoen. Daar is altyd geld te make vir diegene wat bereid is om te buk en dit op te tel.
Met die wegry dink ek aan die ou wat ’n dag lank spook om Rustenburg se MacDonalds se parkeerarea skoon te vee net sodat ek later die hopie Luiperdboompeule by die vullis kom sak en vir R2 000 van die hand sit. En die twee moeilike winters wat ek my gesin gehelp onderhou het in die krone van doppruime. ’n Eie onderneming het sy uitdagings en belonings. Daar’s egter niks so sielsdodend soos iemand se voetsole wat vir ’n dekade of meer die plafon van jou loopbaan bly nie. Ek stop by ’n kitskosplek vir die hond se dors en my honger en word ewe beleefd water in ’n lekkende paper cup en melerige tjips bedien. Ek besef meteens hoe gelukkig ek is. My oë is lankal nie meer psigotiese kleurvensters nie. My vreugde word nie gebottel nie. Ek het nog drome wat ek droom maar verder skort niks. Trotse totsiens.
Adriaan


Kommentaar
Glo en doen (reg); daarmee ontvang die hardewerker sy loon (tot in ewige vreug selfs op Sabbat)!
Dankie Adriaan - dis welgedaan ...